’n Passie vir plante en ’n waardering vir die idilliese omgewing waarin die Rustenberg-wynlandgoed geleë is, is die dryfkrag agter dié plaas se pragtige tuine, skryf Pietman Diener, hooftuinier. Hierdie artikel het oorspronklik in Stellenbosch Visio in 2016 verskyn.

My eerste kennismaking met die tuin op die Rustenberg-wynlandgoed was op laerskool toe ek in die kuns-klas deur ’n ou tydskrif geblaai en foto’s gesien het van ’n tuin teen die hange van Simonsberg, dieselfde Simonsberg wat buite die venster van my kunsklas gelê het. Min het ek toe geweet dat daardie tuin eendag vir my as hooftuinier ’n wonderlike werkplek sou wees.
Peter en Pamela Barlow het Rustenberg in 1941 gekoop en Pam, ’n groot tuinliefhebber, het met die hulp van haar vriendin, Sheila Heney, ’n tuin uitgelê wat deur die ikoniese tuine van Europa en Engeland geïnspireer is. Sedert 2008 woon hul seun, Simon, en sy vrou, Rozanne, op Rustenberg. Rozanne is self ’n baie ywerige tuinier en is die afgelope ses jaar saam met haar span van agt tuiniers besig met die enorme restourasie van die tuin sodat dit vir die nageslagte bewaar kan word.

Die struktuur en uitleg van die oorspronklike tuin is tydens die restourasie-proses behou, maar sommige dele is herontwerp om die vloei tussen die verskillende dele of kamers van die tuin te verbeter. Van die kamers het ’n kleur as tema terwyl ander weer ’n sekere gevoelservaring stimuleer; party dele is formeel en gestruktureerd in uitleg, ander weer informeel met ’n uitbundiger plantkomposisie. ’n Balans tussen elemente van die oorspronklike tuin en nuwer toevoegings vorm ’n ryk geheel. So is die gevestigde bome en pragtige klipmure, wat deur Italiaanse krygsgevangenes gebou is, en ou klipbanke, gegote hekke en ander ornamentiek wat vroeër jare vanuit Europa ingevoer is, vermeng met meer hedendaagse ontwerpstyle.
Oorgroeide bome, ongewone en skaars struike soos kornoelies (dogwoods), japonikas (camellias) en outydse rose, is teruggesnoei en kompos is rojaal toegedien om die grond te voed. Rozanne is ’n plant- liefhebber en die tuin is beplant met ’n groot verskeidenheid plante: ornamentele struike en meerjariges met ’n lang blomseisoen: ’n versameling outydse rose wat in bome oprank en saam met blomstruike en meerjariges in die lente ’n hoogtepunt bereik; japonikas en magnolias wat in die winter blom, en ornamentele grasse wat deel vorm van ’n ryk plantpalet wat seisoenale belangstelling stimuleer. Die lente met sy vars nuwe groei en oorvloed rose is ’n gunstelingtyd van die jaar, maar so ook die herfs wanneer die beddings uit hul nate bars en salies, plectranthusse en Japannese anemone in volle glorie onder herfsbome staan en die sterk ontwerplyne van die beddings en heinings kontrasteer met die uitbundige plantegroei.

’n Samehang met die groter landskap waarin die tuin geleë is, is deurlopend. Paadjies en gange lei tot uitsigte op die omringende berge en heuwels, en die dierelewe wat in die aangrensende veld voorkom, word in die tuin verwelkom – visarende roep in die rivier naby, rooikatte en bokkies word vroegoggend in die tuin gewaar, en ystervarke kom ploeg snags deur die beddings op soek na akkers en ander knolle en bolle. Geen gifstowwe word in die tuin gebruik nie, juis om die diversiteit van diere, voëls en insekte aan te moedig. Takke, snoeisels en grassnysels uit die tuin word gebruik om kompos te maak en ’n spannetjie hoenders help ook om wurms en goggas in toom te hou.
Terwyl planne voortdurend gemaak word om nuwe dele tot die tuin toe te voeg, is ope dae die afgelope drie jaar gehou om die tuin met die breër gemeenskap te deel. Plante wat vir gebruik in die tuin gekweek word, word tydens hierdie ope dae verkoop.
Daar is niks lekkerders vir die span Rustenberg-tuiniers as om die plante, wat só ’n groot bron van inspirasie is, met ander te kan deel nie.