Congratulations to Carel van der Merwe on winning the 2020 kykNet Rapport Award for non-fiction for his book Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen. We spoke to the multi-award-winning author on the story behind the acclaimed biography and its enigmatic subject.
Flambojante Oppertunis
Die kleurryke lewe van die Boeregeneraal Ben Viljoen fassineer van skrywers tot geskiedkundiges al meer as ’n eeu lank. Nou het die bekroonde Stellenbosse skrywer Carel van der Merwe ’n biografie oor dié sjarmante aartsopportunis die lig laat sien. Frederik de Jager het met hom gesels oor sy eie agtergrond, sy navorsing en die boek.
Van geoktrooieerde rekenmeester na romansier na historikus klink dalk na groot spronge, maar Carel van der Merwe, oud-Matie en die afgelope 15 jaar wéér Stellenbosser, dink nie so nie.
Hy’s ’n Johannesburger van oorsprong. ’n Finansman van opleiding en nering. Aksepbankier. Lank Londenaar. Sakeman. Bekroonde romanskrywer.
Toe pak hy ’n roman oor Eugène Marais aan en dit word ’n opspraakwekkende en bekroonde niefiksieboek. Donker stroom (2015) het daarin geslaag om ná verbete navorsing ’n heel nuwe beeld van die man uit die stowwerige omwindsels van die verromantiseerde verlede na vore te haal. Die navorsinggogga het gebyt, en dit was nie lank nie of Van der Merwe is ingeskryf vir ’n doktorsgraad in die geskiedenis onder professor Albert Grundlingh, hoof van die Universiteit Stellenbosch se geskiedenisdepartement. Sy onderwerp: Ben Viljoen, verreweg die kleurrykste en flambojantste van die Boere¬ generaals.
Viljoen was ’n man in wie se jeug oomblik¬ ke van briljante oorlogvoering en klinkende dapperheid uitgestaan het te midde van ’n andersins selfvoldane en hoogs ongedissiplineerde rekord. Hy is een van die karakters in Sonja Loots se historiese roman Sirkusboere (2011), waarin Loots hom en die versuk¬kelde generaal Piet Cronjé – ’n odd couple as daar ooit een was – volg tot in Amerika, waar hulle die veldslae van die toe pas afgelope Anglo-Boereoorlog uitbeeld in enorme skouspele waaraan honderde voetsoldate deel¬ neem, Boer sowel as Brit.
Van der Merwe stroop Viljoen van haas alle fiksie, hetsy dié van ’n romansier se digterlike vryheid of van ’n volk se heldeverering, sodat die onderwerp – die man – onder ’n onge¬naakbare lig bekyk word.
Is dit dalk ’n ewe streng lig as dié waaronder ’n oudit gekwalifiseer word? Vir Van der Merwe is daar nie so ’n groot verskil tussen telkunde (accounting) en vertelkunde (recounting) nie.
“Boekhou is ook maar kreatiewe skryfkuns,” sê hy, net half spottend. Hy is egter ernstig daaroor dat die hoogs gereglementeerde omgewing waarin hy sy opleiding as geoktrooieerde rekenmeester ontvang het, hom ’n goeie fondament vir die skryf van niefiksie verskaf het.
“Jy moet ’n maatskappy se boeke indrin¬gend nagaan, kyk wat gebeur het en met ’n samehangende antwoord vorendag kom,” verduidelik hy. Net so met geskiedskrywing.
Van der Merwe bieg – sý woord, asof hy iets skandaligs gaan kwytraak – dat hy versot is op navorsing. Dis vir hom heerlik om in argiewe te sit, deur dokumente te blaai en dalk op iets af te kom wat jou dag maak.
“Twintig jaar gelede sou ek nooit kon dink dat ek so ’n passie vir navorsing sou ontwikkel nie, maar dis vir my ’n groot avontuur. Jy be¬soek verskillende plekke, jy ontmoet mense. Dae gaan verby en dan ontdek jy skielik iets wonderliks wat jou op ’n nuwe spoor neem.”
Maar watter soort mens was hierdie figuur uit die verlede wat soveel navorsingsdrif by die skrywer kon wakker maak? Dié Ben Viljoen – ’n arm seun uit die Oos-Kaap, ’n in-kommer en fortuinsoeker in Johannesburg, ’n koerantman, gou ’n speler in die plaaslike politiek en, toe die oorlog uitbreek, ’n oorlogsleier?
Wie is die man wat eers as krygsgevangene in sy eie gerieflike huis op St. Helena gewoon en – toe die vooruitsigte van die Transvaal-kolonie hom ná ’n heen-en-weerdery nie aan-staan nie – vir goed na Mexiko en Amerika uitgewyk het? Wat daar ’n vriend geword het van goewerneurs, magnate, revolusieleiers en presidente – en selfs as Mexikaanse konsul in Duitsland diens gedoen het?
Die titel van die boek beantwoord al dié vrae met een woord: Kansvatter. Ek en die skrywer trek ’n bietjie tou. Ek sê shyster, hy sê opportunis. Maar kon die man vir jou lieg en oordryf en verswyg! Hy kon koes en duik soos ’n onder¬ maat bokser in die kryt; die sjarme aanlê soos ’n Don Juan. En op elke wolhaarstorie betrap Van der Merwe hom met sy verbete navorsingsdrif.
“Ek spreek in die tesis sy narsistiese per¬soonlikheid aan,” vertel hy. “Dis hoe ek hom beskou. Hy het waarskynlik ook sosiopatiese eienskappe gehad, maar ek verwys net vlugtig daarna.
“Hy vertoon eienskappe van ’n tipiese boerebedrieër. Daar is ’n lang, luisterryke geskiedenis van hierdie soort figuur in ons gemeenskap. Maar hy’s nie net sleg nie, hy is ’n mens; nie soseer ’n skelm nie as ’n kansvatter. Soos Karel Schoeman hom in Imperiale somer beskryf: glad, blink, opportunisties.
“Jy moet hom ook teen sy agtergrond beskou – hy het sonder opvoeding of kontak¬ te in Amerika aangekom. My doelwit was nie om hom te ontluister nie, maar om te wys hy was ’n man van meer nuanse as wat ’n mens soms dink. Ek skryf net wat ek uitgevind het.”
Ons gesprek vertak wyd – na hoe onkunde oor die geskiedenis die openbare debat ver¬ arm; hoe belangrik die Anglo-¬Boereoorlog was as smeltkroes waaruit die staat gebore is waarin ons vandag leef; dat ’n mens daardie tyd en sy figure moet ken om ons land vandag te verstaan.
Dit is hierdie soort begrip wat verryk word deur die lees van boeke soos Kansvatter.