fbpx

Genoeg is klaar ‘n fees

In ’n Nederlandse volkstuintjie leer Marlene van Niekerk “die pitte lees” en hoe om in eenvoud te lewe.

My vriend Anvay die skilder nooi my vir middagete in sy volks- tuintjie.

Volkstuintjies is twaalf by twin- tig tree, en aangelê op onbeboude grond tussen snelweë en spoorlyne, dikwels aan die rand van Europese stede as ’n gebroke soom rondom landerye van die industriële land- bou. In WO II was dit in Engeland bekend as victory gardens. Stadigaan het die praktyk van selfvoorsienendheid verdwyn. In 2020 is daar weer lang waglyste vir tuintjies hier in Utrecht. Stedelinge verlang na gemeenskap, buitelug, gesonde kos, ook nou in die tyd van die pandemie.

Anvay is ’n Stoïsyn. Wat anders kan jy wees as jy in Suid-Afrika grootgeword het as kind van ’n Afrikaanse pa en ’n Indiese moeder? Hy is getemper vir alle teenslae. Die berge en die see van sy vaderland is vir altyd in sy hart.Sy Afrikaanse familie noem hom Aanwaai. Sy agternaam De Villiers, het sy pa gesê, verwys na iemand wat met rankies werk (vrilles). Dit vertel hy terwyl hy my die padaanwysings gee. Ek moet kom kyk of hy sy afkoms gestand doen.

Anvay se plek is maklik te vinde tussen die ander tuintjies. Dit is omring deur ’n bed- ding van afrikaners, daglelies en kappertjies. Sy houthuisie met veranda en ronde ven- sters staan op vlonderhout tussen twee boë, toegerank met purperwinde.

Oranje afrikaners en blou morning glory, lag ek as ons op afstand groetgebare maak.

Ja, en dan kom kuier sowaar ’n blanjetjie from home vir my, vars uit haar diaspora! Ek stap agter hom aan tussen welige beddings botterskorsie aan ranke, komkommers aan ranke, boontjies aan ranke, tamaties, uie, spinasie en allerlei soorte kruie, hoë purper stokrose, geel sonneblomme.
Die kombuis bestaan uit ’n verniste hout- deur op twee bokkies. Eers was ons hande. Anvay gooi ’n blou teedoek oor sy skouer, wys my na ’n stoel op die veranda. Hy sit ’n plank op my skoot met rissies, knoffel, gemmer, suur- lemoen, ’n brok bruin palmsuiker, en ’n tak kerrieblare. Ek kry ’n mes en ’n rasper, hy be- duie hoe ek moet maak.

Onder ’n lap in ’n glasbak lê ’n bolling deeg. ’n Plank daarnaas is reeds bestrooi met meel. ’n Ysterpot en ’n randlose ysterpan is gereed op ’n tweebrandergasbraaier. Bo-op sy kissie met speserye staan ’n glasbeker met bosse kruisement en koljander.

What you see is what you get, my dear, noth- ing fancy. Butternutkerrie met brood en kom- kommerraita. Hy sny die botterskorsie in twee, kom hou dit onder my neus met ’n lang arm.

Lees, sê hy, lees wat sê die pitte.

Hy lag ’n bietjie droewig: My mother used to do this when we were poor in Durban and then she divined the message for us, from the rows of the sweetcorn, the cavities of the tomato, the pips of the pumpkin, and the augured text was always the same: enough is as good as a feast. It was her saving mantra, she always said. En dan het my pa die Lettie Brand-seties op sy bekfluitjie gespeel. Bid jou aan. Dit was onse fusion, daardie dae. Those colours got stuck in my brain, my friend. I am sure that is why I still paint.Terwyl Anwar se groentekerrie kook, met speserye vermeng uit verre kulinêre geskie- denisse, rol hy die deeg met ’n bottel uit en bak die naan. Sonder ’n tandooroond, vra ek. My ma se metode, sê hy, en ek kyk hoe hy die pan met die platbrood omdraai en dit oor die gas hou vir die bokant om gaar te word. Hy lag: Don’t try it with a non-stick pan.

The right way to eat is the same as the right way to live, sê Anvay, en haal aan uit Epictetus: “Just, cheerful, equitable, temperate, and orderly”.
Ek lig my glas water: Gips, sê die hoender wat die bont eier lê!

Marlene van Niekerk skryf vanuit die Zouweboezem langs die Lek. ’n “ Boezem” is ’n opvanggebied vir oortollige water. Die Lek is ’n sytak van die Ryn.