fbpx

Deon Meyer: Anderkant ‘Donkerdrif’

Donkerdrif het ’n glansboef en ’n wraakgodin, gierigheid en intriges. Skrywer Deon Meyer en sy Marianne het mekaar, vreugde en saamwees, sê hulle aan WILLEMIEN BRÜMMER.

As daar één ding is wat die pandemie hulle geleer het, is dit dít: “Moenie planne maak nie, want die lewe kom altyd tussenbeide.”

Deon Meyer en sy vrou, die kunstenaar Marianne Vorster-Meyer, praat byna in kanon waar hulle in hul nuut-aangeboude braaikamer op Stellenbosch sit. Hy sit in en sy maak die sin klaar oor ’n pandemie wat eintlik “verskriklik goed” vir hulle was.

Deon Meyer
Toonbeeld van geluk: Deon en Marianne op hul huweliksdag in Augustus 2019.

Dis ’n snikhete Sondag en terwyl ons gesels, steek Deon ’n vuur aan, sny Marianne ’n spanspek in skywe, en duik haar kinders soos robbe in die swembad. Sy is byna net so lank soos sy 1,89 meter en albei se oë is iets tussen blou en akwamaryn. Sy’s sy “oase”, die een wat gemaak het dat hy nou vir die eerste keer in sy lewe ook ’n sanger geword het nadat sy sangheldin, Lize Beekman, hom gevra het om saam met haar ’n liedjie op te neem. Dié liedjie is ’n toonsetting van ’n gedig wat Deon vir Marianne op hul huweliksonthaal voorgelees het en wat hy saam met Lize sing op haar jongste CD, Hier en nou.

Dié twee kan steeds nie uitgepraat raak daaroor nie. Hoe Lize, Coenie de Villiers en Mauritz Lotz ná die troue gekonkel het om die liedjie agter Deon se rug op te neem, en hoe Lize hom twee weke later gevra het of hy dit saam met haar vir die CD wil sing. Hoe hulle al drie snot en trane in Lize se musiekkamer gehuil het toe hulle agterkom hy kán inderdaad sing. “Ek lag so, want toe ons kar toe stap, toe sê Lize vir my: ‘Ek het darem ge-dink, as hy nie kan sing nie, sou jy vir my ge-WhatsApp het’,” sê Marianne met ’n goeie skeut Beaufort-Wes in haar stem.

Dis skuins voor Kersfees in een van die vreemdste jare in menseheugenis, een wat vir Deon ’n bietjie soos déjà vu was. In sy post-apokaliptiese 2016-roman Koors beskryf hy naamlik ’n ongekende koronavirus-tsoenami wat binne ’n paar maande feitlik die hele mensdom uitgewis het. Gelukkig was sy sterftesyfer suiwer fiksie (in dié roman oorleef net 5% van die mensdom) en Deon se jaar eindig ook nie in vrees, verlies en vernedering soos dié van sy hoofkarakter, Nico Storm, nie. Hy lag ietwat oorbluf. “Ek voel skul-dig as ek dit sê, want daar is baie mense wat swaar kry en nou nóg swaarder kry en besighede wat moes toemaak, maar vir ons was die pandemie regtig goed.”

Hy hou Marianne se hand vas. “My en Marianne se leefstyl is ook maar die meeste van die tyd ’n vorm van inperking omdat ons al twee by die huis werk. Ons is verknog aan mekaar en wil die heeltyd bymekaar wees, so dit is vir ons ’n vreugde. My hele kalender was ook skielik oop, wat vir my ’n ontsaglike verligting was.”

Deon Meyer
Met hul bergfietse in die woude naby Créon in Aquitaine. Voor die Covid-19-pandemie het Deon en Marianne jaarliks twee maande in Bordeaux, hul lieflingstad, deurgebring. 

Donkerste drif

Te oordeel na sy jongste roman, Donkerdrif, was die pandemie inderdaad goed vir hom. Nie alleen is sy jongste Bennie Griessel en Vaughn Cupido-dossier ’n boeiende tango tussen feit en fiksie, met een van sy slimste storielyne tot nog toe nie; hy het dit ook reggekry om een van sy onthoubaarste vrouekarakters te skep in sy eie toevoeging tot #MeToo.

Die leitmotief wat die verskillende storielyne saamsnoer is die donkerste drif – gierigheid – wat veral beliggaam word deur die skatryk Jasper Boonstra, die grootste korporatiewe swendelaar in die geskiedenis van die land, wat net soos sekere ander glansboewe met sy lewe voortgaan asof niks gebeur het nie. Boonstra (of is dit nou Markus Jooste?) stel sy visier op Sandra Steenberg, ’n sensuele dog desperate eiendomsagent, wat in die kake van die leeu instap om haar van haar skuldeisers te red. Hy gee vir haar die alleenmandaat om sy plaas Donkerdrif (of is dit nou Jonkersdrif?) te verkoop, maar (soos hy haar keer op keer waarsku) dis nie verniet nie. Terselfdertyd word Bennie en Vaughn na Stellenbosch gepos, as straf ná hul skorsing uit die Valke. Daar moet hulle soek na ’n student wat “tussen neus en ore verdwyn” het.

Vir Deon het die storie al jare tevore begin prut toe hy en Marianne ’n huis op Stellenbosch gesoek het wat groot genoeg moes wees vir hulle en vier van hul ses telge. “So het ek met baie eiendomsagente gesels en agtergekom hoeveel konflik daar tussen eiendomsagente op die dorp is. Hoe hulle lieg en hoe hulle mekaar te na kom en ondermyn. Jy soek mos maar altyd na bronne van konflik, want konflik help jou om spanning te bou, en sewe jaar later toe gebruik ek dit.”

In Donkerdrif word Stellenbosch (of “Volvoville” aldus Vaughn) met sy wynadel en sy Afrikanerelite en sy prag en praal ’n karakter in eie reg. Maar moenie dat die witgekalkte historiese geboutjies en die “atmosfeer van bekoorlike plattelandse intimiteit” jou flous nie. Suid-Afrika se tweede oudste Europese nedersetting, waar die land se heel rykstes en sy heel armstes skouer aan skouer woon, is ook ’n nes van wellus en korrupsie en rugstekery in diens van ’n onversadigbare drif…

Deon Meyer
Deon en Marianne geniet son en see op Mauritius. 

Hy korrigeer homself dadelik. “Hier in ons straat is die lieflikste goeie, gewone mense. Maar vir my is die interessantheid die twee elites op Stellenbosch: die akademiese elite en die finansiële elite en hulle is entiteite op hul eie. Die res van ons is doodgewone mense wat ’n doodgewone voorstedelike lewe lei. Maar jy sien dit so van ’n afstand af en dis vir my lekker om as ’n buitestander daarna te kyk.”

Hy teug aan sy Heets-e-sigaret. “Dis iets waaraan ek probeer vasklou, dié buitestanderskap, want ek dink as skrywer moet jy altyd ’n buitestander wees. Die oomblik dat jy begin ingaan, verloor jy jou objektiwiteit, verloor jy jou perspektief, verloor jy daai vermoë om deur ander oë na so iets te kyk – en as jy begin lojaliteite kry, onderdruk jy sekere dinge waaroor jy wil skryf.”

Die vraag wat almal wil vra, is natuurlik of Jasper Boonstra geïnspireer is deur daardie berugte Stellenbosse swendelaar wat seker die bekendste voorbeeld is van die fraudster as celebrity wat dié poskaartdorp nog opgelewer het. En ja, vanselfsprekend bestaan die karakters in die boek “net in die skrywer se verbeelding”, soos hy lesers in die Erkennings verseker… maar daar is darem tog net té veel ooreenkomste?

Hy glimlag. “Ek het eintlik meer vir Harvey Weinstein in my kop gesien as vir Markus Jooste. Dit was ’n amalgamasie van ’n klomp karakters, waaronder sekere gegewens uit die Steinhoff-verlede. Maar ek dink die boek Catch and Kill deur Ronan Farrow, seun van die aktrise Mia Farrow, oor Harvey Weinstein, het ’n groter invloed op my gehad. Dis maar ’n samevoeging. Jy vat ’n bietjie hier en jy vat ’n bietjie daar, en op die ou end maak jy iets wat heeltemal eie is aan jou.”

Deon Meyer
’n Gelukkige oomblik saam in die pragtige Marquessac-tuin digby Vézac in die Perigord, Frankryk.

Teistering

Die storie-element wat die verste buite sy gemaksone was, was om ’n vrou se belewing van seksuele teistering te beskryf. “Ek was lank in die korporatiewe wêreld en dié soort laegraadse teistering let jy op. Dit was ’n mans-wêreld en dit was wat almal gedoen het, en as almal dit doen, moet dit oukei wees … Ek het eers later ’n bewuswording gekry van hoe verskriklik dit vir die vroue moes wees.”

Maar nee, sê hy met ’n lag, dié vrou, Sandra Steenberg, wat terselfdertyd prooi en wraakgodin is, se storie is nou klaar, die leser moet maar self besluit wat met haar gebeur. “Ek kry verskriklik baie e-posse van mense wat vra wanneer kom die opvolg. Ek het dit nog nie in die openbaar gesê nie, maar daar gaan nie ’n direkte opvolg wees nie.” Marianne voeg by: “Die vrou… sy het ons almal eintlik ’n guns bewys. En haar huwelik gaan fantasties wees!”

Net soos wat Bennie en Vaughn blykbaar by die Meyers aangesteek het. Albei mik óók nou kansel toe. Deon bieg: Vandat hy en Marianne saam is, het hy ook as skrywer verander – dalk dié dat selfs Bennie se stryd met die bottel nou ’n bietjie agtergrond toe geskuif het. “As ’n mens in ongelukkige verhoudings is, is jou verwysingsraamwerk dat verhoudings fundamenteel ongelukkig is, maar as jy in ’n gelukkige verhouding is wat genuine werk en waar daar soveel ongelooflike wedersydse liefde is, dan verander dit jou op ’n klomp maniere. Dit verander ook met hoeveel vreugde jy werk.”

Een van die kinders duik met ’n sierlike boog in die water. “Party verhoudings vat ’n mens ondertoe, maar dié een is vooruitgang,” sê Marianne. Die einste #FlyingMarianne wat gereeld met haar bergfiets deur die donker driwwe van die Jonkershoek-vallei vlieg.

En dit, beaam die gewildste skrywer in Afrikaans, laat hom uiteindelik goed voel oor homself, daar in sy vesting “as die winde loei”.