Daardie Skielike Afdaal in die Groot Vallei soos ’n Rivier

Die Cederberg Camino, van die Pakhuispas tot by Heuningvlei, laat verstaan KIRBY VAN DER MERWE weer waarom staptogte in die berge tot nuwe hoogtes in besielde skrywery kan lei.

Kirby van der Merwe

Einde verlede jaar raak ek aan die gesels met ’n jong kunstenaar by ’n restaurant in ’n Bolandse dorpie. Hy is deel van ’n klein kunskolonie. Hulle huur ’n ry werkershuise op ’n plaas bo-op die bergplato, sê hy. Nou en dan pak die gier hulle en dan slaan die klomp ’n rigting in, al oor die kamme van die berg, tot die gier uitgewoed is.

Ek sê dit nie vir hom nie – dalk weet hulle dit, dalk nie – maar hulle volg in die voetspore van ’n paar groot Afrikaanse skrywers wat net so dikwels deur die gier getref is.

In Klein reis deur Drakenstein (Perskor-Uitgewery, 1974) – een van die eerste boeke wat ek as skoolkind vir my gekoop het – beskryf WA de Klerk juis dié soort koers inslaan, van sy plaas, Saffier, teen die hange van die Klein-Drakensteinberge in die Paarl, tot in Villiersdorp.

Vroeg al kon ek die eerste deel van die skrywer se roete onder uit die vallei uit volg, kon ek my inleef: “Klim maar as jy wil. Klim hier skuins verby die hoogste toring van Drosterberg. Sak dan af na die mesrug op pad na Felixberg. Steek oor Felixberg se yslike weskrans met sy klassieke dwarsklim. Gaan verby die Haelhoek-Spitskop, af na die hoë nekkie tussen dié en die Haelhoek-Sneeukop, daar waar Donkerkloof na sy laaste steilte uitklim. Volg die lang rug suid-ooswaarts na Winterberg se breë skof: Dalk sal jy moet rotsklim. Gaan oor Winterberg en anderkant af in die agter-Wemmershoek. Hou maar aan. Aan die verste ent van die groot afgeslote hoogvallei lê Stetteynspiek. Sak áf na Kaaimansgat. Jy sal jouself dalk kul. Jy reken jy is al daar, dan is jy nog lank nie daar nie. Klim nog ’n volle dag eer jy oplaas na onder kom – diep af in Kaaimansgat …”

Te verstane het berge en hoogtes ’n sentrale plek in veral die Duitse skilderkuns, letterkunde en filosofie. Hier ook, blyk dit. Digter en akademikus Stephen Watson (1954 – 2011) se deurleefde kennis en digwerk oor die Sederberge is byeengebring in In These Mountains waarin hy gepoog het om die spirituele geografie van die oerlandskap vas te vang. Die gier om die berge in te vaar word ewe goed beskryf in Jan Rabie se reisboek Droomberge – Sederberge (Saayman & Weber, 1985). Hy beskryf die boek as sy “liefdesverslag” wat hy “met dapper en stapper oor die Sederberge wil lewer”. In dié geval was dit sy legendariese uitgewer, Daantjie Saayman, wat hom op sleeptou geneem het.

Ek wonder of rotsklimmers bewus is van Marthinus Versfeld en WA de Klerk se boek Die Berge van die Boland (Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1947). So ver my kennis strek, is dit die eerste rotsklimgids met roetebeskrywings in Afrikaans.

Op pad na Heuningvlei. Foto: Romi Boom

Ek kan die kunskolonie daar bo-op die berg beloof dat ’n gestappery in die berge en teen hoogtes kan lei tot besielde skrywery. As ’n jonger lat het ek ’n bietjie rotsklim beoefen en ’n paar roetes op Tafelberg baasgeraak.

So loop ek een oggend vroeg in 1996 ’n atletiese Switserse toeris raak op die kontoerpad teen Tafelberg. Ons raak aan die gesels en sy sê sy soek iemand wat saam met haar teen die hange wil stap, ’n bietjie wil rotsklim. Sy het ’n gidsboek uit die 1940’s op Groentemarkplein gekoop en sy wil ’n paar roetes op die proef stel. Voor ek my kom kry, is ons twee onder die kabelspoor op teen die byna loodregte Arrow Final tot bo. Ek dink die absolute vrees tydens dié klim was die vonk vir my debuutroman, Klapperhaar slaap nie stil nie (Kwela, 1999), blykbaar die eerste roman in Afrikaans met rotsklim as tema.

Daar is weer ’n oplewing in stap in die natuur, blyk dit, te oordeel na die aanbod van kommersiële en ander stapgroepe. Ek was verlede Oktober deel van ’n georganiseerde groep “slackpackers” op die Cederberg Camino. Vier dae, van die Pakhuispas tot by Heuningvlei, ’n sendingdorpie met witgekalkte huisies, landbou-akkers en tuine en klipkrale, vee en donkies.

Ek was altyd skepties oor stapgroepe, want ek gaan stap gewoonlik ente op my eie vir inspirasie. Dit was egter die ideale groep wat die plek, mekaar se ruimte en stilte respekteer het. Almal kom stap tog immers om verskillende redes, maar, dink ek, wanneer hulle ná etlike dae hul bestemming bereik, teen die laaste helling af kom, soos De Klerk sê, verstaan hulle dalk vir die eerste keer “… daardie skielike afdaal in die groot vallei soos ’n rivier …

Dis die aand van die derde dag. Jy het ver geklim. Jy is moeg, maar ook deurdronge van die berge, ingestem op wat groots is, deurtrek van die geure van veld: klip, grond, plante. Jy het ’n ver ent gekom, verder as wat jy ooit gereken het. Jy is minder. Maar ook méér mens as wat jy was. Saffier lê ver daar na die weste; agter al die berge wat soos branders een agter die ander breek.”