Samoesas en rissieblatjang sorg dat MARLENE VAN NIEKERK iets van die ou bekende landskappe in nuwe vergesigte terugvind.
Soms as die blues my beetkry, neem my vriend Anvay my na ’n bankie op die Utrechtse heuwelrug. Hy kry nie meer die blues nie, sê hy, hy pas “loving kindness” toe, selfs ten opsigte van nielewendes. I’m in the pink, seg hy. Sy hart is ’n siter, myne ’n hang.
Oor een ding is ons dit eens: ons hou van ons seminale, musikale gesprekke – uitwisselinge tussen sy hartsnare en my handtrommetjie. Maar sonder ’n uitsig kan ons nie my blues en sy stoïsisme saam-jam totdat dit ’n bruikbare insig baar nie. One needs to labour at some elevation above sea-level for the truth to engage, all birth puns intended, sê Anvay toe hy gaan sit.
Vanaf ons bankie op die uitkykpunt sien ons die silwer waterlint van die Nederrijn, kronkelend deur die Gelderse vlakte. Die vergesig, weet Anvay, soos ’n ware homeopaat, sal aanvanklik my simptome vererger. Die volle palet van my blues word my inderdaad van snik tot snik duidelik: koringblomblou, Waenhuiskransblou, Langebergblou, Riviersonderendblou, lupineblomblou, buitenste ruimteblou, aardbolblou.
My blues gaan oor die rou om bekende landskappe en die disoriëntasie in nuwe plekke, verduidelik ek. En ook nog oor my twyfel aan die mens wat binne tienduisend jaar, ’n oogwink in die konteks van die diep geskiedenis van die aarde, daarin geslaag het om elke habitat, insluitende sy eie, te vernietig, terwyl hy glo hy is die kroon van die skepping.
Anvay hou dit klein, hy hou dit konkreet. Hier, sê hy, en haal ’n waspapierpakkie uit sy rugsak. Even if you are complicit in all the sins of mankind, you still have to eat. Ons vou dit oop op die bankie tussen ons. Sy tuisgemaakte samoesas is nog warm. Binne-in die bros deeg is ’n kerriemengsel van ui, aartappel en er-tjies. Hy hou ’n bakkie rissieblatjang onder my neus. Ons drink diep slukke uit ’n boks karringmelk. ’n Sakrament of sorts, weet ek.
Anvay glo daar is niks soos rissies om die blues te verdryf nie. Mens kan nie swaarmoedig wees as jou neusgate brand nie. Dan moet jy hoes, proes en gesigte trek, jou bolip moet sweet. Jy moet lag met jou disgenoot. Jou kreatuurlike kwesbaarheid manifesteer in die slymvliese en die lagspiere en dis meer lokaliseerbaar as die onbestemde pyn van vaderlandsverlies, seg Anvay.
Hy is ’n behavioris. Hy gee praktiese oefeninge. Laat los daardie asem, sê Anvay, moet dit nie intrek nie. Nadat hy my van my swaarmoed met sy rissieblatjang verlos het, daal ons van die heuwelrug af na die moeras by die Nederrijn, en loer ek deur Anvay se verkyker na waar die lepelaars lepel en die griete grut. Die lepelbek se bek is geplet en die swartstertgriet se snawel is gepunt.
Die verkyker bring my digby hul delikate, steltige gang en hul broeis, moedige borsdele. Kyk, sê Anvay, mens sien in die weerkaatsing die eintlike aard van die voël. Anvay is ’n fenomenoloog. Hy onttrek stigting uit dit wat aan die oppervlakte verskyn. Wat kan ons leer van die onbevange so-syn van trekvoëls tussen die lug en die water en die siltige bodem, vra hy. Hulle doen wat hulle moet doen as die tyd ryp is, antwoord ek. Since when such prissy little sentences, vra Anvay. My pa het altyd gesê “Kyk noord en fok voort en as die wind draai, fok jy weer suid”. Hy was die eerste stoïsyn in my lewe.
Terug by ons fietse, gee ek en Anvay mekaar ’n high five, soos twee trapsuutjiese, met stadige misvatte, want ons ken die gelukwensingsritueel net uit films. Anvay verskaf die eksegese: The mixing of the humours by trial and error, your melancholy and my sanguinity. Only hybrids have no hubris.