Opwinding loop hoog vir die Toyota Stellenbosch Woordfees wat 11-19 Oktober die dorp oorneem. Ons deel hoogtepunte uit die omvangryke program van 400 aanbiedings in 12 afdelings wat dié kyk- en luisterfees een maak waarop daar ook geproe, gedans, gedink, gejol en, veral, gedeel sal word.

“Die Woordfees wil daartoe bydra dat ons uitvoerende kunste werkgeleenthede vir kunstenaars én vir ons plaaslike gemeenskap skep. So bevorder ons sosiale samehorigheid,” sê Saartjie Botha, die Woordfeesdirekteur. As deel van wat Saartjie ’n “groter ekosisteem in die uitvoerende kunste” noem, dra samewerking met teaters, susterfeeste en geselskappe soos Kaapstad Opera en Cape Ballet Africa by tot aanbiedings van gehalte wat verskeie dissiplines saamsnoer.
DIE HART VAN DIE FEES
Die feesprogram wil veral eer betoon aan die letterkunde, sê Saartjie. “Dit was die ontstaansrede vir die fees en is ’n kwarteeu later steeds die hart daarvan.” ’n Nuwigheid op die EasyEquities Skrywersfees is die aanwys van ’n feesdigter – ’n posisie wat vanjaar deur Antjie Krog en Siphokazi Jonas gedeel word. Hul woorde is oral op die dorp teen mure, op sypaadjies, en verskuilde plekkies (selfs op suikerpakkies!) aangebring. Kom luister ook na Antjie en Siphokazi in Alles wat ons deel.
Iets waarna baie lesers reeds uitsien, is Marita van der Vyver se gesprek met Ingrid Jones oor haar jongste boek, My jaar van vrees en vryheid, waarin sy vertel van haar swerftog oor drie vastelande heen. Bibi Slippers vra Marita ook in Oggendkoffie en skryfgeheime oor haar werkwyse uit, en in Brandstof doen Irna van Zyl dieselfde met Rudie van Rensburg, Chris Karsten en Jaco Wolmarans.
Ander boeiende gesprekke word gevoer met uiteenlopende skrywers soos Tony Leon, Jolyn Phillips, Ingrid Winterbach, en Edwin Cameron – enkele van die hoogs interessante aanbiedings wat oor alle genres strek.
Breyten Breytenbach en Athol Fugard word vanjaar met twee toneelstukke gehuldig. Die Spier Toneelprogram bied Breyten se Boklied aan, met Marthinus Basson as regisseur. Athol se onvergeetlike Boesman en Lena, met Lee-Ann van Rooi en Brendon Daniels in die rolverdeling, het Christo Davids as regisseur.
FEESKUNSTENAARS
Daar is vir die eerste keer twee feeskunstenaars aangewys – Xhanti Zwelendaba en Benjamin Stanwix. Hierdie tweetal het reeds lof ingeoes vir hul samewerking om kulturele identiteit, die verlede, en die landskap multidissiplinêr te ondersoek deur middel van installasiekuns, video, beeldhou-, tekstiel-, tapyt- en drukwerk.

AANDAG, KUNSVERSAMELAARS
Die vierde jaarlikse Woordfeeskunsveiling en -uitstalling word aangebied in samewerking met Strauss & Co., en op die aanlyn veiling kan gebie word op werke van gevestigde sowel as opkomende kunstenaars. Dit sluit in die twee feeskunstenaars wat aangewys is as beste opkomende kunstenaars by die onlangse Investec Cape Town Arts Fair.
Veldhospitaal is ’n uitgebreide, multigenre- projek wat ’n uitstalling, opvoering en uitvoering kombineer. Meer as 50 kunstenaars is betrokke by die ervaring. Dié verskillende aspekte is verdeel in liggaamsdele, tipes behandeling, en algemene mediese praktyke. Die welstand van die kunstenaar en die verbintenis en versorging tussen kunstenaars staan in die kern hiervan.
Met die ateljeebesoeke kan feesgangers die skeppende ruimtes betree van kunstenaars soos die beeldhouer Izette Roos, fotograaf Lunga Kama en die veelsydige Trude Gunther met haar sketse, boeke, olieverfportrette en meer. Skadu’s en silhoeëtte is vanjaar se uitstalling op die Stellenbosch-kunsmyl. Die wisselwerking tussen kuns, plek en persepsie kan op die staptoer langs die oewer van die Eersterivier ervaar word.
KOOK MET BERTUS BASSON
Dié stersjef bied weer sy gewilde Speel- kamersessies aan. Beleef ’n kookdemonstrasie en heerlike feestafel in sy hoogaangeskrewe Eike-restaurant wat bekend is vir eg Suid- Afrikaanse geregte met ’n kreatiewe kinkel.
AAN TAFEL
Die bekroonde kosskrywer en TV- persoonlikheid Herman Lensing bring sy eiesoortige flair en warmte met ’n maaltyd van geure en stories na die Langtafel onder die eikebome tussen die pragtige ou geboue van Ryneveldstraat.
Ander hoogtepunte op die Leefstyl- program sluit in Koesterkos. Die kok en storieverteller Frik de Jager deel erfresepte uit sy ma en ouma se resepteboeke wat dateer uit 1914 en strek tot 1989. Kom luister tydens ’n heerlike middagete hoe Nataniël gestalte gegee het aan die publikasie Bloei + Blom – ’n viering van Afrikaans en van meer as 200 mense wat in die taal lewe.
Geniet ’n onvergeetlike aand vol musiek in Klein Alto se splinternuwe venue binne dié historiese omgewing met sy beleë sjarme.
Op die spyskaart is ’n spesiale driegang- aandete met hul Cabernet Sauvignon as pasmaat, en live musiek. Keer terug na die vroeë 1800’s by die Stellenbosch-museum se pragtig bewaarde Grosvenor-huis.
An Evening of Elegance sluit in ’n tradisionele tweegangmaal met vyf voortreflike wyne van die historiese Annandale-wynlandgoed.
Daar is geleentheid om te luister en te proe aan heerlike happies by twee kookboekgesprekke. Kosjoernalis Jeanne Calitz gesels met Elmarie Berry oor haar kookboek, The Table, wat geïnspireer is deur haar Libanese ouma se resepte wat sy met kreatiewe flair vernuwe het. Ilse van der Merwe vertel vir Errieda du Toit die stories agter 101 tipies Suid-Afrikaanse geregte in haar kookboek Timeless South African.
Die eerste Woordfees word in herinnering geroep by EasyEquities se ’n Aand van passie: Skrywerspartytjie. Kom geniet ’n ontspanne kuier en ’n heerlike ete en wyn saam met skrywers in die pragtige Die Boekklub in Johannesdal, net buite Stellenbosch.
’n Onvergeetlike aand van kos en stories wink by Spier se Winemaker’s Dinner. By Spier Manor House se langtafel word tradisionele Suid-Afrikaanse geregte verrassend nuut voorgesit in die gees van deel en samesyn.

KLASSIEKE MUSIEK: ITALIAANS TOT AFRIKAANS
Die internasionaal befaamde Koreaanse hoboïs Kyeong Ham tree op saam met plaas- like musici onder leiding van Suzanne Mertens.
’n Keurige program, saamgestel deur Willem Vogel, sluit in Ottorino Respighi se Ancient Airs and Dances, die hobo-concerto’s van Vincenzo Bellini en J.S. Bach, die Adagio uit die strykkwintet in C Majeur van Franz Schubert, en “Gabriel’s Oboe” van Ennio Morricone uit The Mission.
Vanjaar spog die fees met twee operas: Die towerfluit en The Barber of Seville. Volg die spitsvondige en slim Figaro in die opera The Barber of Seville wanneer hy sy sjarme inspan om twee jong verliefdes by mekaar uit te bring. Met sangers van Kaapstad Opera onder regie van Sylvaine Strike, beloof dié produksie om die humor en gees vas te vang wat van The Barber of Seville ’n immergroen gunsteling gemaak het.
Die alombekende Universiteitskoor Stellen- bosch sing werke uit hul internasionale kompetisierepertorium, asook nuwe musiek wat spesiaal gekies is vir die Woordfeesgehoor. André van der Merwe is die dirigent.
Aurum Cantores vier Afrikaanse koorwerk met twee blinknuwe uitvoerings in Sing jou lied.
LANDBOU
Die veelkantige wêreld van landbou word verken in ’n reeks uiteenlopende praatjies waarin onderwerpe soos familie- boerdery, innoverende tegnologie, arbeids- geleenthede, en klimaatsverwante uitdagings bespreek word.
REINET NAGTEGAAL- TEKSPRYSWENNERS
Danksy Dirk Nagtegaal herleef dié prys en is twee wenners daarvan op die program: Dianne du Toit Albertze se wendrama, Huis van sand, en naaswenner André Gerber se satire, Die kabinet. V
Neem deel en kom wees deel van die vreugde. Ons sien jou van 11 tot 19 Oktober vir nog ’n heerlike lentefees. Kry die volledige program by woordfees.co.za en jou kaartjies op Quicket.
