Woordfees 2025 – Een vir die Boeke!

Die 25ste Toyota Stellenbosch Woordfees is een van die bestes nog – en daar’s nog baie om na te kyk, te luister en te vier. Ons deel ’n lys trefferproduksies wat jy nog by die fees kan sien – gryp jou kaartjies terwyl jy nog kan. Onthou ook dat parkeerplek skaars en verkeer uitdagend is in Stellenbosch. Maak gerus gebruik van die fees se getroue Toyota Pendeldiens om sonder dié kopseer betyds by vertonings aan te kom – om versteurings tydens vertonings te verhoed, word laatkommery as reël nie toegelaat nie. Parkeer gratis by die Kochstraat Parkeer & Pendel regoor Rhenish Girls’ High en klim in ’n pendelbussie – kaartjies is by Quicket te koop en die pendeldiens kan by die nommer 072 752 3194 bereik word. Bring ook iets warms vir die koel aande.

Huis van sand
Dit sal niemand verbaas dat die wenner van die Reinet Nagtegaal-teksprys, Huis van sand, ’n hoë golf ry nie. “Jy as gehoorlid wil dalk dít wat voor jou afspeel ignoreer of afmaak as fiksie, maar die feite laat nie met hulle stry nie. Daarom wéét jy die uiteinde gaan tragies wees en deur nog geweld geken word.” – Marina Griebenow, INK
Met Tinarie van Wyk Loots, René Cloete, Kristen Raath, Jefferson J. Dirks-Korkee
Tot 17 Oktober | Koop kaartjies | Lees resensie

Zoid Psalms
’n Nuwe musikale ervaring met ’n grensverskuiwende samesmelting van heilige en moderne klanke wag in Zoid Psalms, ’n produksie wat sy gelyke nie ken nie. Kom geniet die mengsel van ikoniese kerkorrel en die sensasionele energie van Karen Zoid se rock-kitare in ’n unieke produksie wat ouwêreldse instrumentasie en kontemporêre musiek verken. 
Tot 19 Oktober | Koop kaartjies

Kinderlê
“Lynthia Julius se Kinderlê bring ’n stuk Namakwalandse geskiedenis uit 1867 terug na die lig. Is rof en spiritueel, die tipe teater wat jou nie troos nie, maa laat onthou,” skryf Chase Rhys op INK.
Met Miché van Wyk, Theodore Jantjies, Lynette du Plessis, Damian Jacobs
Tot 19 Oktober | Koop kaartjies | Lees resensie

‘KUNS’
“Yasmina Reza se Art kô Toyota Stellenbosch Woordfees toe as ‘KUNS’ met Naòmi Morgan se skêp vertaling en met Marthinus Basson as regisseur en ontwerper,” skryf Chase Rhys op INK. “Die Adam Small-ouditorium was vol ennie gehoo vasgenael. Die set-up bly simple. Drie ou vriende pluk aan mekaa tot die vriendskap begin ytrafel, all because een van hulle ’n duur stuk kuns gekoepit.” Met Wessel Pretorius, Ludwig Binge, Wilhelm van der Walt
Tot 19 Oktober | Koop kaartjies | Lees resensie

Magda en haar Erhard: How “Louw” can you go?
“As jy gedink het die anekdotes van dié twee ou mense is staties, wag ’n verrassing op jou,” terg Elretha Britz in haar resensie op Netwerk24. Magda en Erhard het ’n goeie show beplan wat dalk selfs vir ’n prys benoem kan word. Maar die ou man vergeet heeltyd waar hy moet inkom en arme Magda moet net vure doodslaan. 
Met Desiré Gardner, Hannes van Wyk
Tot 16 Oktober 18:30 | Koop kaartjies | Lees resensie

The Barber of Seville
“As jy gedink het Die barbier van Sevilla is ’n opera wat nie enigsins meer camp kan raak nie, is jy verkeerd,” sê Naudé van der Merwe op INK. “In Kaapstad Opera se jongste weergawe van Rossini se immergewilde opera is elke liewe aksie, van elk van die etlike karakters, oordrewe tot op die punt van absurditeit, maar in die buitelug by Spier se amfiteater het dit so natuurlik gevoel soos die soel naglug met Sondag se openingsaand.” 
Met William Berger, Megan Kahts en 14 ander sangers van Kaapstad Opera
Tot 16 Oktober 19:30 | Koop kaartjies | Lees resensie

Boesman en Lena
Boesman en Lena is twee hawelose randfigure – uitgelewer aan mekaar, die elemente en ’n politieke bestel wat hulle nie ag nie. Athol Fugard se ikoniese stuk bied ’n boeiende blik op die kompleksiteit van verhoudings en maatskaplike ongeregtigheid. “Elke stilte, elke asemhaling, dra betekenis en laat die gehoor voel hoe die drang na oorlewing en menslikheid teen die wreedheid van die stelsel baklei,” skryf Kelly-Lee Ohlson op Netwerk24.
Met Veronique Jephtas, Brendon Daniels, Tshamano Sebe
Tot 19 Oktober | Koop Kaartjies | Lees resensie

Liefde, Lafras
Liefde, Lafras word beskryf as ’n gevoelvolle reis wat jou met ’n dieper begrip vir menswees en verlange laat, afgewissel met humor en romanse van mense wat mekaar ’n leeftyd ken. 
Met Antoinette Kellermann, Gerben Kamper
Tot 19 Oktober | Koop kaartjies | Lees resensie

Toyota Musiekfees-opelugkonserte
Jy kan nog uitsien na die volgende Toyota Musiekfees-opelugkonserte in die Jan Marais-natuurreservaat – jou musiekkuier onder die Stellenbosch-sterre. Bring jou kampstoel, piekniekmandjie en baadjie.
– Roan Ash & Brandon Miles | 17 Oktober 19:00
– Early B & Salome | 18 Oktober 19:30
– Mandisi Dyantyis | 19 Oktober 19:00
Koop kaartjies