Wechmarshof se droomvanger

“Ek is ’n droomvanger,” beskryf musiekvervaardiger Jürgen von Wechmar sy beroep en roeping aan MARIËTTE CRAFFORD. Sy Sunset Recording Studios op Wechmarshof lok kunstenaars van heinde en verre.

JÜRGEN VON WECHMAR se naam het jy dalk nog nie gehoor nie, maar luister jy enigsins na musiek – van heavy metal, rock, blues, jazz, Afrikaans, pop, hip-hop tot Bach se klassieke orrelkantates – het jy gewis een van die opnames gehoor wat deur hom geskep is. In sy private Sunset Recording Studios op die eertydse familieplaas, Wechmarshof, in die Banhoekvallei buite Stellenbosch, het tallose Suid- Afrikaanse en internasionale kunstenaars se skeppinge reeds die lig gesien.

“Ek is die droomvanger van die musiekkunstenaars – hetsy sangers, groepe of instrumentaliste – wat saam met my werk. Ek wil hê dat mense wat by my laat opneem die hoogste mate van sukses behaal,” beskryf Jürgen sy rol as musiekvervaardiger en klankingenieur.

Jürgen het in 1996 sy debuut as musiekvervaardiger gemaak toe hy sy progressiewe rockgroep, Ark, se musiek opgeneem het in die kaasfabriek wat sy Duitse immigrante-grootouers, Edith en Bernard von Wechmar, op Wechmarshof gevestig het. Jürgen, sy vrou, Armanda, en hul twee dogters, Mia en Karla, woon steeds hier op die plaas waar skaars klipkersbome al honderde jare lank tydsaam in ’n klein kolonie groei.

Sou ’n mens sedert Ark se opname ál met die alfabet langs af gaan, is daar letterlik vir elke letter van A tot Z ’n Suid- Afrikaanse of internasionale kunstenaar wie se musiekdroom gestalte gekry het in die toenmalige kaasfabriek wat sedertdien ’n aanskoulike argitektoniese gedaanteverwisseling onder- gaan het. Hieronder tel van aKING, Albert Frost, Beatenberg, Breyten Breytenbach se Mondmusiek en Beaufort-Wes se Beautiful Woorde van Gert Vlok Nel, Die Heuwels Fantasties, François van Coke, Fokofpolisiekar, Koos Kombuis, Lesley Rae Dowling, Lize Beekman, Ollie Viljoen en Nico Carstens se trekklaviere, Springbok Nude Girls en Spoegwolf, Theuns Jordaan, Toya Delazy se popmusiek en Valiant Swart tot opnames van Zorada Temmingh se kerkorreluitvoerings in Stellenbosch se Moederkerk.

Sy eie rockgroep

Dis onder meer danksy sy begaafdheid as musiekingenieur en sy respek vir elke lied of komposisie dat Jürgen ’n uitverkorene in die musiekbedryf is. Met ’n graad in elektroniese ingenieurswese beskik hy oor diepgaande kennis van elektronika. Hy is ook ’n kitaarspeler en liedskrywer wat jare lank saam met sy rockgroep, Ark, op die grootste Suid- Afrikaanse feesverhoë opgetree en nasionale speellyste gehaal het.

As musiekvervaardiger wat al saamgewerk het met inter- nasionale kunstenaars soos Snoop Lion, Big Sean, die Noorweër Mari Boine (een van die laaste sangers van ’n uitsterwende Sámi-taal) en Winston Marshall (voormalige lid van Mumford & Sons), skort hy sy voorkeure op wanneer hy musiek opneem.

“Wanneer jy met respek luister, sê ’n song vir jou wat dit benodig. Jy moet die líéd dien,” glo hy.

“Kom ’n musiekkunstenaar na my toe met ’n lied of komposisie, word dit ook mý lied of musiek. Ek span op elke gebied met die kunstenaar saam om die héél beste weer- gawe daarvan vas te lê. Ek leer by elke kunstenaar iets.”

Daar moet genot aan die skeppingsproses wees, glo hy. “Ek wil ’n omgewing skep waarin mense hulself kan uitdruk.” Dikwels kom bly oorsese kunstenaars in die twee weelderige gastehuise, Noem-noem en Balderjan, om musiek te skryf en saam met Jürgen op te neem.

Dis asof ’n stelinkleder op Wechmarshof ’n toneel uit ’n oopvousprokiesboek geskep het. Die werk- en blyplekke kyk aan die voorkant uit oor die plaas se velde waar ’n trop van byna tagtig springbokke saam met perde voor die op- stalle en ateljee wei. Op die gesigseinder kom die Groot Drakenstein-gebergtes van Franschhoek se kant af met Stellenbosch se Botmaskop en die Stellenboschberg in ’n aanskoulike amfiteater saam.

Dis in dié skoonheid en vredigheid waar hy woon en werk en grootgeword het.

Jürgen, die jongste kind van Ulrich en Bettie van die tweede geslag Von Wechmars in Suid-Afrika, is op Stellenbosch gebore. “Dit was ’n jôl!” onthou hy van sy kleintydjare op Wechmarshof en hul gesin se verblyf op Ceres waar hy op laerskool was. “Ek is ongelooflik bevoorreg om ’n sorgelose kindertyd te kon hê.”

Musiekgewys is van sy eerste herinneringe die geluk van die Oukersaande toe hul gesin by sy Duitse ouma Kers- liedere gesing het. “Ek het met klassieke musiek in ons huis grootgeword. My ma was besonder lief vir Mozart en Bach en Beethoven.” Danksy albei sy ouers se voorliefde vir opera het die Von Wechmar-gesin gereeld na uitvoerings in die destydse Nico Malan-teater in Kaapstad gaan luister.

Al het die klassieke kunstenaars hom geboei, wou Jürgen kleintyd ’n tromspeler wees. “My ma het vir my haar kastrolle as ’n tromstel uitgepak,” onthou hy. Toe hy later by sy ander ouma ’n radio present kry, het dit sy liefde vir musiek verder gestook. Hy en sy broer, Christian, was versot op die rockmusiek waarna hulle op Capital Radio 604 kon luister.

Sy eie kitaar

Maar vóór die opera-aande en sy ouma se geskenkradio onthou hy ’n ervaring tydens hul gesin se verblyf op ’n plaas digby Ceres as rigting-gewend. Op ’n plaaspartytjie wat hulle op ’n keer bygewoon het, het ’n orkesgroep – “’n live band” – gespeel. “Die kitaar wat deur die luid- sprekers gedreun het, het my ge-move. Ek kon die klank vóél!” Van toe af is Jürgen voortdurend op soek na klank wat hom deurspoel.

Nadat die gesin met sy laaste laerskooljaar teruggekeer het Stellenbosch toe en hulle weer op Wechmarshof gevestig het, het Jürgen in Paul Roos Gimnasium sy musiekgenoot, Pierre Snyman, ontmoet. Albei was onversadigbaar lief vir musiek. Saam het hulle na hul gun- stelinggroepe soos Metallica, Judas Priest en Def Leppard geluister.

Luister het speel geword toe Pierre en Jürgen eers hul eie kitare het. “Pierre s’n was ’n rooi Hondo en myne ’n wit Applause,” onthou Jürgen. “Met die paar drukke wat my suster, Elizabeth, vir my gewys het, het ons onsself leer speel en ons kitare laat ráás.” Kort voor lank is sy Applause-kitaar vervang en het hy sy begeerde en geliefde Gibson Les Paul met die hulp van sy pa gekry. Jürgen was nou in alle opsigte ’n rocker.

Nadat hy sy rockgroep se album ’n kwarteeu gelede op Wechmars- hof opgeneem het, het hy en sy Sunset Recording Studios met ver- loop van tyd indrukwekkende aansien in die musiekbedryf verwerf.

“Alles in sy ateljee en op die plaas werk net mee om dit elke keer ’n vredige en skeppende ervaring te maak,” sê François van Coke wat self ’n tuisateljee het, maar verkies om sy albums by Jürgen op te neem.

Oor Jürgen klink allerweë lofliedere op en uit Sunset Recording Studios kom lieflike musiek voort. Hy is ’n musikus met ’n sonder- linge vermoë om ’n lied of komposisie saam met die betrokke musiek- kunstenaar te interpreteer en op te neem. Daarby getuig kunstenaars van sy matelose ruimheid van gees en geduld.
Die pronkryk wat Duitse immigrante op Wechmarshof geskep het, is nie net ’n vesting vir Suid-Afrikaanse plante en diere nie. Dit is ook hier waar Jürgen von Wechmar besig is om die wêreld met sy begaafdheid as kunstenaar en as mens te verryk.

Jürgen vang drome en gee hulle wieke. Sy gawe is ’n inheemse skat en ’n gesogte uitvoerproduk. V