fbpx

TIPTOL

’n Gedig deur Tom Dreyer.

Tiptol

vlak bo my kop land pietoto
en hop-hop hoër synde ook klouter-
bok hierdie bakketoerie bakketoera
wat my dag omskryf met sy gefluit pieter-
pol op patrollie in my taal hy fluit “piet-
kluitjie-korrel” om homself te adverteer hy fluit
“piet-piet-patatta” hy skrou “wie-drolletjie-drie”
hierdie piek-piek hierdie toppie hierdie tippie
op die tippie van my tong hierdie priestertjie
woerend tussen takke janverwat jangeelgat
wipgat want hy is klapperjot pietmanklot
en altyd ook asprissie

 UIT: Nou in infrarooi. Tom Dreyer. Queillerie.

Oor die digter

Tom is ’n digter en prosaskrywer, asook die direkteur van ’n IT-maatskappy. Hy woon op Stellenbosch, maar swerf in die kuberruim tussen Suid-Afrika, Duitsland en die VSA. Hy het aan die universiteite van Stellenbosch en Kaapstad studeer en is ’n alumnus van die International Writing Program aan die Universiteit van Iowa. Sy eerste roman, Stinkafrikaners, is met die Eugène Marais-prys bekroon. Sy debuutdigbundel, Nou in infrarooi, wat in Mei vanjaar verskyn het, was vir hom soos die terugkeer na ’n eerste liefde.