Studio Lockley is nou al amper 150 jaar die visuele geheue van Stellenbosch. BUN BOOYENS het by dié fotografie-ateljee gaan inloer.
Eers klim jy met die 16 rooi trappies boontoe, dan draai jy regs en nog ses treetjies later is jy bo: Studio Lockley in Pleinstraat 21, een van Stellenbosch se oudste besighede en een van die eerste professionele fotografie-ateljees in Suid-Afrika.
Albert Langenberg, die “afnemer” hier sedert 1960, stap jou tegemoet, gereed om ’n vinnige paspoortfoto of ’n statiger portret te neem.
Oral teen mure in die gang en wagkamer is daar foto’s. Maties se onoorwonne rugbyspan van 1969 hang langs Isa Carstens se skoonheidsterapeute van ’n jaar of drie gelede. Die snelbouler Dale Steyn gluur Van der Stel se rugbyspan van 1953 aan. Twee legendariese Van der Stellers in die voorste ry van die spanfoto glimlag terug – die Springbokke Jan “Bull” Pickard en Ryk van Schoor.
Stap rond, en jy kan Danie Craven se loopbaan op die foto’s volg, eers as lid van die intervarsitykomitee van 1935, dan as Matie-afrigter in die 1960’s en later as Suid-Afrika se Meneer Rugby.
Hier is portrette van gesinne, graduandi, koshuisgroepe, komitees, kore, rektore, wynmakers en selfs ’n prinses (Anne) en ’n koning (Gustav van Swede). Eenkant waak hoofregter Henry de Villiers, die Unie van Suid-Afrika se eerste regterpresident in 1910, in sy purper toga en wit pruik (’n juris wat op die oog af nie maklik parool sou toestaan nie).
Die ateljee is in 1873 deur die fotografiepionier JH Watson gestig en doen nou al amper 150 jaar onafgebroke sake op Stellenbosch. Die grootste portretfoto hier is geneem in die dae toe Watson se ateljee nog in die Sempergebou aan die oorkant van Pleinstraat was: Victoria Kollege se lektore en al sy studente in 1908 – skaars 300 mense – voor die ingang van die Ou Hoofgebou. Hier is ook ’n Watson-panorama van Kaapstad, geneem in 1900, met meer as 80 skepe voor anker in Tafelbaai en die tente van die Boere-krygsgevangenekampe duidelik sigbaar aan Groenpunt se kant.
In 1927 het Watson se skoonseun, Colin Lockley, die ateljee oorgeneem en ná ’n brand in die 1940’s na die Good Hope-gebou getrek, waar Studio Lockley vandag steeds is. In 1960 het die Nederlandse immigrant Cor Langenberg en sy seun Albert, toe 20 jaar oud, die ateljee oorgeneem.
Die Langenbergs het in 1952 uit Nederland na Suid-Afrika gekom. “Dit was ná die oorlog en daar was nie veel werk nie,” vertel Albert. Sy pa het ondervinding as ’n hoffotograaf vir Den Haag se adel gehad, en in Suid-Afrika het hy eers by die Van Kalkerateljee in Kaapstad gewerk en toe by die universiteit hier op Stellenbosch. “Hy het vrugte vir die landboudepartement in die Perold-gebou afgeneem. Later in 1960 het ons gehoor Colin Lockley wil sy ateljee verkoop.”
Cor en Albert het twee jaar lank saam met Lockley gewerk en toe die ateljee met toerusting en al oorgeneem. Die ou Kodak-konsertina-kamera met sy groot houtdriepoot staan vandag steeds hier – die een waarmee so baie koshuisgroepfoto’s geneem is, met Albert wat van onder die swart doek agter die kamera uitroep: “Kijk vir de vogeltje!”
As jy en jou gesin vandag sou inkom vir ’n portretfoto, gaan julle op dieselfde stel hout-stoeltjies sit wat sedert 1876 gebruik is. Eenkant staan ook die nekstut wat mense in die vroegste jare moes dra om te keer dat hulle hul kop beweeg terwyl die kamera se sluiter oop is.
Cor is in 1974 oorlede en sedertdien is Albert alleen aan die stuur. Hoeveel mense het hy al die afgelope ses dekades hier afgeneem? “Oe … duisende.” Tog ken min Stellenbossers hom op sy voornaam. “Die meeste mense noem my Cor of Mister Lockley. Net ’n paar weet my naam is eintlik Albert.”
Jean Muller, die assistent hier die afgelope 40 jaar, sê Albert is “presies en reguit”. Dít sien jy ook teen Studio Lockley se mure, want op drie plekke word jy met ’n “let wel” herinner: “Geen krediet- of debietkaarte word aanvaar nie.” Jy word ook vermaan om paraat te wees vir jou ID- of paspoortfoto. “Hare moet van voorkop af wees en hare moet agter die ore wees,” lui ’n kennisgewing.
Al diens wat Studio Lockley deesdae nie meer lewer nie, is troufoto’s. Albert glimlag. “Dit is moeilik. Die moeders … die ma van die bruid. Jy moet álles afneem, van die begin tot die heel einde.”
Vanjaar was daar geen gradeplegtighede en dus geen graadfoto’s nie, en sedert die Covid-19-epidemie kom min mense by daardie rooi trappies op. Wat gaan eendag word van al die foto’s wat die afgelope 80 jaar in hierdie vertrek geneem is? Amper 150 jaar van die dorp se geskiedenis lê in die Watson-Lockley-Langenberg-versameling (behalwe, ironies, ’n foto van Watson en Lockley self).
Sowat 30,000 foto’s en negatiewe is reeds in die 1970’s aan die universiteit se argief oorgedra om gedigitaliseer te word. Die meeste negatiewe van die afgelope 20 jaar is steeds hier geliasseer. “Dit is ’n kosbare bate vir die hele gemeenskap,” sê Albert. “Kyk, as iemand alles kan oor-neem soos dit is, sal dit baie goed wees. Met so ’n geskiedenis kan ’n mens nie net die deur agter jou toesluit nie.”