Waarom het sy altyd in die groentewinkels van Portugese so gelukkig soos ’n trapsoetjies op ’n krismisroos gevoel, wonder Marlene van Niekerk. Tydens ’n besoek aan die eiland van herkoms van die grootste aantal Suid-Afrikaanse Portugese kry sy meer as die antwoord.
Op ‘n bewolkte oggend in Julie bel haar Nederlandse vriend Anvay. Listen, Van, sê hy, why not come with me to the Island of Eternal Summer. They named their capital Fennel and the nights smell of belladonna.
Are you making a pass, vra sy.
Anvay lag. I have an invitation, from Ruiz Texeira, a boyhood friend from South Africa with whom I have kept in touch. He’ll show us around the island.
What island?
Never mind, sê Anvay, it is hot there, pack your flimsies, take a hat, we are flying out tomorrow.
Hy het Ruiz leer ken in sy ouers se groentewinkel in Durban waar hy wortels in bossies gebind het terwyl hy sy Engelse gedigte hardop leer, vertel Anvay. Ná sy ouers se dood het Texeira geëmigreer na Madeira waar sy grootouers toe nog in die familiehuis gewoon het.
We used to get our garlic and dhania from the Texeiras, vertel Anvay, Mrs Texeira and my mother got on like a house on fire. Two dahlias on a bush, as my father used to say.
Hul gasheer se huis sit hoog bokant Funchal tussen koraalbome, vlambome, vlam-van-dievlakte (bauhinias), en sambokpeule (cassias). Die plante op die terrasse onder die huis staan in volle blom, agapante, strelitzias, aalwyne en proteas. Hoe sou al die Suid-Afrikaanses hier gekom het, wonder sy.
Be forewarned, sê Anvay, Ruiz lost his wife recently, we might find ourselves in a theatre of self-consolation.
Texeira is ’n gul, bebaarde man met ’n gevoelige gees. Hy speel vir hulle fado’s en sit ’n groot cataplana van tamatierys met skulpvis voor. Vir nagereg is daar vrugte uit sy tuin, piesangs, vla-appels (Annona reticulata), vrugte van die geraamteplant, drie soorte grenadellas. Hy vergas hulle op ’n oorsig, van die dae af toe die eiland ’n brughoof was vir Portugese koloniale uitbreiding.
Madeira is ’n miniatuur van die aarde en van wat die mens daarop aangerig het, sê hy: ontdek, eien toe, ontbos, bebou, put uit, maak wins, en verhuis na die volgende gebied wat uitgebuit kan word. Ná eeue van roofbou het net toerisme hier oorgebly. Twee-en-veertig persent van die plantegroei op die eiland is uitheems, dis ’n botaniese basaar van groei en bloei. Almal wat ooit hier gekom het, het sade en steggies saamgebring, soos Mildred Blandy, ’n Suid-Afrikaanse vrou wat in die beroemde Madeirawynmakerfamilie, die Blandy’s, ingetrou het, en sowat die hele flora van haar vaderland gebring en hier kom plant het.
Ruiz siteer John dos Passos, ’n skrywer wat op die eiland gewoon het: Madeira is tegelyk ’n gevangenis en ’n paradys.
Die gevangenisgedeelte, beduie Ruiz, is vergelykbaar met ’n reusagtige toeristiese Scalextricbaan, met karretjies wat al om die diepgekeepte, skilderagtige kus jaag.
Die paradysgedeelte, sê hy, toe die eerste reëndruppels van ’n tropiese bui begin val, is die ewige somer hier, maar die blomme leef deesdae vir my in hul geluid, nie in visioene van hul glorie nie.
Hy trek ’n lanferlap uit sy broeksak en bind dit oor sy oë.
Op die buffetkas sien sy die geraamde foto van sy oorlede vrou.
Neem my na enige plant en ek sal jou sê wat dit is.
Anvay lei Ruiz by die tuintrappe af na ’n heining geel blomme.
Listen to the resonance, sê Ruiz, it tells me the flowers are tubular, like trumpets, more robust than the tubes of the Zimbabwe creeper and less so than those of the Mexican hat. My wife planted it, Allamanda cathartica, the day after we moved in. This plant is from Brazil, she said, nothing comes from one place only.
By die trots van Madeira (Echium candicans) bly sy staan en sluit haar oë om te luister. Sy onthou die plant uit die laaste tuin van haar moeder. Die wêreld is wyd, dink sy, niemand
behoort aan slegs een plek nie.
Die reën op die fiere blou ritse klink na ’n spinet.