Die vreugde en dankbaarheid wat Pierre Volschenk (100) se lewe as kunstenaar kenmerk, spreek ook uit sy jongste beeldhouwerk: ’n jong meisie wat met oorgawe uitreik na die lewe. NELIA ANDRAG het die skep van die beeld meegemaak.

Tussen die bome in die tuin van die Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch, net mooi daar waar almal elke dag verbystap, staan ’n beeld van ’n jong meisie, haar arms spontaan na bo gestrek, haar oë toe, asof sy in ’n oomblik van dankbaarheid en vreugde vasgevang is.
Op die klipvoetstuk van die beeld is in handskrif die woord “Dankbaarheidsvreugde” aangebring.
Die verhaal van die beeld gaan terug na ’n Ouma-en-Oupa-Lentetee in 2024 by Bloemhof. Die verhaal van die skepper van die beeld, Pierre Volschenk, gaan nóg verder terug, reeds amper ’n volle eeu.

Op die dag van die Lentetee neem Pierre sy kleindogter Linki-Mari Volschenk, vanjaar ’n matrikulant, aan die hand. Kom, wys my jou skool. Hy verwonder hom aan Bloemhof se versameling kunswerke in die skool se gange, die voorportaal en personeelkamer. Hy raak aan die gesels met die leerkragte en iemand skraap genoeg moed bymekaar om te vra: “Sien oom Pierre nog kans vir ’n beeld, ’n beeld vir Bloemhof se 150ste bestaansjaar?”
Sonder om te huiwer en met emosie in sy stem sê hy, ja, dit sal vir hom ’n voorreg wees.
En op 17 Oktober 2025, op die 2025-matrieks se uitstapdag, is die Bloemhofferbeeld onthul.
Daarby bly dit nie. Pierre skenk ook ’n olieverfskildery wat hy gemaak het van sy vriendin Maggie Laubser tussen sonneblomme uit sy persoonlike versameling aan Bloemhof.
INSIG

Bo teen die hange van die Hottentots-Hollandberge in Gordonsbaai, in die drieverdiepinghuis wat hy self gebou het, gesels ek met Pierre. Met die skilderagtige Valsbaai aan ons voete, vertel hy my van die mense wat sy lewensfilosofie help vorm het.
Ek kan net stil sit en luister na hierdie energieke 99-jarige kunstenaar. Sy woorde en stories het trefkrag en sy argief is vol.
Sy humorsin borrel kort-kort uit. Hy lag as hy terugdink aan baie staaltjies uit sy kleurryke lewe. Dit is asof sy diep insig in die kunsbeginsels deel is van sy daaglikse lewe waarin kosmaak en die versorging van sy ranktamaties en vrugtebome vir hom net so belangrik is soos die skep van kunswerke.
Een van die insigte wat by hom bly vassteek, is die woorde van ’n ander groot kunstenaar, Jean Welz. In 1970 skilder Pierre ’n portret van Jean toe dié met hierdie wyse woorde vorendag kom: “Jy sien nie wat jy sien nie, jy sien wat jy weet. Hoe meer jy weet, hoe meer sien jy.”
Luister jy na Pierre, besef jy hy sien en weet met wysheid en kennis en dat hy dit op sy hele lewe toepas.
Tydens sy sorgelose kinderjare op Leliedal, later Olyfberg, naby Houtbosdorp, nou deel van die ZZ2-boerdery in Limpopo, het Pierre reeds sy gawe vir skeppende werk ontdek. Hy het gekyk hoe die grootmense kleipotte en die kinders kleiosse maak en mettertyd al die kleigate op die plaas leer ken. Modellering van osse is steeds een van sy geliefde temas.


So ook buffels. Daarvan getuig die lewensgroot buffel op Lourensford wat hy onlangs vir Christo Wiese gemaak het.
Pierre se liefde vir die natuur kom ook uit sy kindertyd. Toe hy ná sy plaasskooldae aan die Laerskool Paardedrift vir sy hoërskooljare Polokwane (Pietersburg) toe moes gaan, was skoene dra die ergste straf, maar hy het hom ten volle uitgeleef en aan alles deelgeneem: Voortrekkers, volkspele, die debatsvereniging (waarvan hy voorsitter was), asook atletiek, rugby, tennis, en skyfskiet.
In 1944 studeer hy met ’n lening aan die Normaalkollege in Pretoria en verwerf ’n Onderwysdiploma, gevolg deur ’n BA-graad aan die Universiteit van Pretoria.
Jare van heeltydse en daarna deeltydse studie volg. Hy gee klas in kuns aan hoërskole en kolleges en vorder tot senior kunsinspekteur in die Departement van Kleurlingonderwys. Tydens hierdie vrugbare jare ontdek hy Conrad Theys en help hom groei tot een van ons land se voorste kunstenaars.
Pierre ontwikkel tot ’n veelsydige kunstenaar en opvoeder. In 1972 word hy die eerste Suid-Afrikaner wat ’n doktorsgraad (DPhil) in beeldende kunste aan die Universiteit van Pretoria verwerf met die proefskrif “Kleur as skilderkunstige element in die werk van Gregoire Boonzaier”. Tussen 1974 en 1986 is hy professor en hoof van die Departement Beeldende Kunste aan die Universiteit van Durban-Westville.
Ná sy aftrede in 1986 verhuis hy en sy vrou, Marie, Gordonsbaai toe, waar die 60-jarige Pierre self hul huis bou – ’n pragtige woning, met ’n eie ateljee en genoeg ruimte vir tweelingdogters Marlene en René, laatlam Pierre, hul sewe kleinkinders, en nege agterkleinkinders.
’N KLEIN BEGIN

Pierre se kunsloopbaan het klein begin. In sy jonger dae verkoop hy tydens vakansies by Tshipise sy waterverfwerke van Bosveldtonele met kremetartbome – “effens in die styl van Pierneef” – vir ’n appel en ’n ei. Die eerste werk wat hy van die hand sit, besorg hom ’n volle vyf pond.
Hy raak mettertyd veral bekend vir sy portretstudies, landskap- en straattonele, en Bosveldtemas. Sy liefde vir kleiwerk (en dus beeldhouwerk) kom uit sy kinderjare se speel op die plaas.
Dit is veral Pierre se beeldhouwerk – dink aan die een van Dok Craven – wat hom ná aan die harte van Stellenbossers gebring het. In 1995 is sy bronsbeeld van die legendariese dr. Danie Craven, met sy hond, Bliksem, by Coetzenburg onthul. In ’n Kwela-onderhoud het hy met ’n ondeunde glimlag vertel hoe ’n hond wat saam met sy eienaar by die beeld verbygestap het, gaan vassteek en vir Bliksem geblaf het. Tóé, sê hy, het hy besef hy’t selfs Bliksem se emosie vasgevang.
In ’n 2010-onderhoud met Johan van Wyk, groet die 84-jarige Pierre met dié woorde: “Tyd raak min en daar wag nog baie wat gedoen moet word …” Hy doen daardie woorde gestand en onder die beelde wat hy sedertdien geskep het, is ’n lewensgroot buffel vir die Lynnwood Bridge-kompleks in Pretoria, gemaak toe hy reeds 89 jaar oud was.
Die lys van bekendes van wie hy borsbeelde gemaak het, het bly aangroei en in 2012 voeg hy Chris Barnard (skrywer) en Chris Barnard (hartchirurg) se beelde by dié van ander bekendes soos Anna Neethling-Pohl, Anna M Louw, en Uys Krige.

Op 1 Mei 2026 vier hy sy 100ste verjaardag, en kan hy bevestig hy bly steeds getrou aan sy leuse: “Omskep tyd in waarde”.
Hier, in sy tuisateljee (dis 37 trappe op en af), skilder en doen hy beeldhou-, hout- en metaalwerk. Dis nie al nie.
Op die yslike 4 000m2-erf met sy waterstrome en ’n verskeidenheid plante, diere en voëls haal hy bykans 80kg heuning per jaar uit sy byekorwe. Sy Hobie Cat staan gereed, en kreeftrek doen hy saam met sy seun en vriende. Hy leef voluit en met oorgawe, elke dag.
Soos die onderskrif by die Bloemhofferbeeld lui, getuig sy hele lewe van vreugde en van dankbaarheid. Hy sluit ons gesprek só af: “Ek wil die Here prys solank ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my God solank ek nog daar is.”
