Woordfeesgehore was gaande oor Dean Balie se optrede in die veelbekroonde produksie Die poet, wie’s hy? Die hele land eweneens oor sy spel as Jan-Jan in Nêrens, Noord-Kaap. Maar uit sy gesprek met Bibi Slippers is dit duidelik: Dean wéét wie hy is en waar presies hy vandaan kom.
Dis uit sy grootworddae op sy geboortedorp Steinkopf in Namakwaland dat Dean Balie die waarheid gaan put het vir sy vertolking van Jan-Jan in die trefferreeks Nêrens, Noord-Kaap. Sy liefde vir Namakwaland lê steeds diep. “Namakwaland gee my die ideaal om ons kultuur vir mense te wys. Mense het die idee dat dit net plaas is, maar ons sit met talent: dokters, prokureurs… Die moment wat ek swak raak, gaan soek ek my krag daar. As ek die stilte verlang, kan ek huis toe gaan, kan ek sit en reflekteer – en dan weet ek, ek is nie so swak soos ek gedink het nie.”
In die hier en nou, en met sy loopbaan wat behoorlik vlamvat, is Dean se pretensielose profielfoto op WhatsApp een van sy huisbaas en terapeut, die driejarige kat Mishu. “Sy glo ons bly by haar, dis eintlik haar huis,” sê Dean oor die foon toe ek hom uitvra oor die troeteldier (volle name: Mishu Petronella Patoot Flanders Balie). Die 32-jarige Dean en sy vrou, die aktrise Bianca Flanders, is op 20 November 2021 getroud, en het kort tevore hul eerste huis in Woodstock gekoop. En hoewel hulle nie katmense is nie, was Bianca se vrees vir muise en rotte groter as haar renons in katte. “Nou is Mishu die madam van die huis,” sê Dean. “Sy is terapiedier. Sy sit ’n pootjie op jou en absorbeer al die negatiewe energie. Sy het ons kalm gehou in hierdie vreemde tyd. Nou kan ons nie sonder die katjie nie.”
Dean se ouers het gewerk sodat hy eendag kan gaan studeer, en hy het by sy ouma, Katrina Phillips (onder die gemeenskap bekend as Ouma Ounooi), gewoon. “My ma en pa was nie afwesige ouers nie. Hulle het net gesê: ‘Ons sal werk, jou ouma sal na jou kyk.’ Ek het in ’n klein sinkhuisie grootgeword, maar ek het so veilig gevoel. Daar was ’n tradisie van jou-kind-is-my-kind. Antie Monica langsaan sou my ’n pak slae gee en dan vir my ouma kom sê sy’t my pak gegee oor ek vye van haar boom af gesteel het, en dan het ek sommer nog ’n pak slae by die huis gekry. Almal het mekaar grootgemaak, en almal was veilig. Daar was rêrige vryheid om kind te wees.” Volgens Dean is sy ouma sy morele kompas, en ook ’n bakker van formaat. “My ouma het ’n buite-oond gehad en het elke dag ses brode gebak. Sy moes so baie bak, want ek het so baie geëet!”
Boklam
Dean het as kind ’n hansboklam, Serpie, en ’n groot liefde vir die verhoog gehad. Ouma Ounooi was nie beïndruk toe Dean van sy oupa se plasie af met dié boklam by die huis kom nie. “Weet jy watter groot verantwoordelikheid is ’n bok!? ’n Bok is moeiliker as ’n hond!” maak Dean sy ouma na, wat haar oudste kleinkind uitskel. “Serpie het grootgeword saam met ’n hele paar honde. Hy het gedink hy’s ’n hond. Hy’t saans in die huis ingekom en in my kamer kom wegkruip. Hy’t Fritos geëet, maar niks van NikNaks gehou nie. Die wonderlike ding van Serpie is dat hy my skool toe gevolg het. Soms sou daar ’n afkondiging oor die interkom wees: ‘Kan Dean Balie asseblief na die prinsipaal se kantoor kom. Hier’s ’n bok wat hom wil spreek.’ Hy was baie parmantig en het net vir my geluister. Serpie het later ’n groot boelie geword, die mafiabaas van die straat, en toe moes ek hom terugvat plaas toe.”
Dean sê dat stories vertel en voor mense optree nog altyd deel was van hom. “Waar ek grootgeword het, is nie bioskope of teaters nie, daar is ’n storievertelkultuur. Oral waar jy kom en jy sit, word daar allerhande stories vertel. Dit was vermaak en lewenslesse, saamgevat in een. Ek het nie geweet dis ook performance nie! Ek het aangeneem dis hoe dit is in die wêreld. Ek het as jong seun begin sing en kitaar speel, en op skool ’n dramagroep gestig. Ek was nooit groot genoeg om sportster te wees nie, maar ek het debat gedoen en in die koor gesing. Ek was die verkeerdste persoon om klaskaptein te wees – maar ek het my beskikbaar gestel.” Die biblioteek op Steinkopf was sy tweede huis. “Ek was versot op boeke, en daai tyd al baie verlief op verse. In daai tyd… ek het nie ’n selfoon gehad nie, ek het nie toegang tot die wêreld gehad nie. Boeke was my manier om te sien hoe groot die wêreld is. Ek het altyd geweet Steinkopf was te klein vir my.”
Toe hy vir sy ouers sê hy wil drama gaan studeer, het sy pa eers probeer om hom anders te oortuig. “Hy’t my hof toe gevat, hy’t my na die tandarts gevat, hy’t my fisioterapeut toe gevat. Maar die hof was vir my vervelig, en ek wou nie heeldag in kele kyk of boude vryf nie.” Uiteindelik was dit ook sy pa wat met hom Stellenbosch toe gery het vir die oudisie om drama te gaan swot. “Ek was verlief op Stellenbosch. Dié was die eerste keer dat ek alleen kon bly, weg van die huis af. Die wêreld was weer groot. Stellenbosch was daardie vryheid vir my. Ek kon daar die eerste stappe neem na ’n groter verbeelding, ’n groter leerskool. Dit was ook die eerste keer wat ek in ’n teaterstuk was, en ek was onmiddellik versot daarop! Ek onthou my eerste klas. Hulle het vir ons gesê: ‘Ses van julle gaan miskien werk in hierdie industrie’ en ek het gedink: ‘Okay. Wie’s die ander vyf mense?’ Want ek sou my nie laat afsit nie.”
En hy het nie.
Terug teater toe
Dean het as student al sy eerste professionele rol losgeslaan, in die Marlene van Niekerk-toneelstuk Die kortstondige raklewe van Anastasia W. (Marthinus Basson was die regisseur.) Daarna het hy in verskeie David Kramer-produksies opgetree, soos Kat and the Kings (waarvoor hy ’n Fleur du Cap-toekenning gewen het), Blood Brothers (waar hy Bianca ontmoet het) en Orpheus in Africa. Hy werk ook gereeld saam met die regisseur Fred Abrahamse, en Saartjie Botha noem hom as een van ons heel beste akteurs. As ster en medeskepper van Die poet, wie’s hy? (Toyota US Woordfees, 2020, 2021) is hy deur Jo-Ann Floris geloof vir hoe “meesterlik” hy kon sing, dans, preek, bid – en kitaar slaan.
Dean sien uit daarna om te kan terugkeer teater toe, wanneer die wêreld weer ’n bietjie minder vreemd raak. “Ek hou meer van teater as van film. Daar is geweldige krag daarin om iemand te sien optree – maar daar is selfs groter krag daarin om te sien hoe die gehoor dit waardeer. Suid-Afrika is ryk aan stories, en ek hoop dat daar vir ons platforms sal wees, dat ons sal aanhou skryf, aanhou optree, aanhou wys. Dat ons ’n spieëlbeeld sal wees vir die samelewing, en in diens bly van die samelewing.”
En wat dink hy sal Ouma Ounooi sê as sy hoor hoe haar oudste kleinkind, wat destyds sommer van die dak af bollemakiesie geslaan het, filosofeer oor die toekoms? “Sy sal sê: ‘Ek is bly hy’s nie meer so wild soos hy was nie, en dat hy tog probeer om die regte ding te doen.’ Sy is baie trots op my prestasies. En bly dat sy by my troue kon wees. En as ek nie reg doen nie, sal sy my neersit en sê: ‘Wat jy nou doen, is verkeerd.’’’ Maar dis nie nodig nie, want dié bokmens se voete trap net reg.