’n Smorgasbord van Smake en Ervarings

IN DIE VOORJAAR wag daar ’n keur van kuns, teater, gourmet maaltye, klassieke musiek, literêre skatte en meer by die 26ste Toyota Stellenbosch Woordfees. Vanjaar se feestema is “Dis hoog tyd”. Met minder as ’n maand voor die fees en kaartjies wat flink verkoop, is dit nou die tyd om jou feesmandjie na hartelus te vul.

“Gun jou die tyd om nuwe herinneringe saam met vriende, familie en selfs vreemdelinge te maak in ’n wêreld wat kultuur en samehorigheid kweek,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees.

LEEFSTYL

Vir die leesvrate wat ook lekkerbekke is, is daar vanjaar 13 demonstrasies uit blinknuwe kookboeke, met jou gunsteling-TV-kosmense, sosialemediasterre en kosskrywers wat ’n storm loskook in die Hofmeyrsaal se demo-kombuis.

Reinée Terreblanche-Brand van Tamatie-straat kom deel resepte uit haar jongste boek, Tussen-in-between, waarin sy die storie van Tamatiestraat deel, maar ook meer vertel oor hul persoonlike reis. Andriette Georgiou, stigter van die koekiemaatskappy Mondvol, bied twee heerlike bakervarings vol koekies, stories, proeë en geheime bakwenke aan.

Gesondheidsafrigters deel die voordele van gefermenteerde kos in die boekgesprek “Fire for Life: Gut Health”, waar jy ook van dié happies kan proe.

Sluit aan by Kenneth Tebogo Middleton vir ’n demonstrasie uit Paradise, ’n kookboek vir diegene wat nie net eet om te leef nie, maar ook leef om te eet.

Kos kraai ook koning op die skone KleinBlouKlip-plaas en -venue.

Die Kokkedoor-wenners Hanna en Dirk van der Westhuizen vier die bekendstelling van hul nuwe resepteboek, Knuppeldik aan Kinkelkos, met ’n vyfgangfeesmaal geïnspireer deur die Karoo, familieherinneringe en kreatiewe kinkelkos.

Louis Jansen van Vuuren kom spesiaal van die Franse platteland af om te gesels oor Biltong en Dior, sy kostelike vertellings oor die vreugdes en uitdagings van die lewe in Frankryk. Jak de Priester gaan sorg vir die vermaak, en gaste kan aan geurige baguettes smul.

Armand en Sean Aucamp-van Noordwyk leer gaste om pasta te maak (en poësie te waardeer) in “Pasta, poësie en die platteland”.

Stellenbosch se ster-sjef Bertus Basson bied sy immergewilde Speelkamersessies by Eike Restaurant aan. Geniet ’n heerlike feestafel ná ’n verbeeldingryke kookdemonstrasie van eg Suid-Afrikaanse geregte.

SAAM (AAN TAFEL)

Soos gewoonlik word die Langtafel onder die eike van Ryneveldstraat gedek met feestelike kos, musiek en samesyn.

Vanjaar is die spyskaart van sjef Mynhardt Joubert geïnspireer deur die feestema. “Dis hoog tyd” dat ons saam om die tafel sit, mekaar in die oë kyk en ons glase – gevul met die beste Stellenbosch-wyne – hoog lig op hierdie mooi lewe. Bespreek vroegtydig.

IN DIE OOG, IN DIE HART

Vanjaar se visuele kunsaanbod is uit die boonste rakke: uitstallings, ervarings, lesings, werkswinkels, staptogte en selfs vroegoggend koffie-raves.

FEESKUNSTENAAR

Die plaaslike fotograaf Daniel Naudé is die feeskunstenaar, en by sy solo-tentoonstelling Still Life in die US Museum kry feesgangers die geleentheid om sy monumentale nuwe reeks foto’s van insekte te sien.

Die kroonjuweel van vanjaar se uitstallings is die kontemporêre kunswerke wat in die stadsaal ten toon gestel word as deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees en Strauss & Co se vyfde kunsveiling en -uitstalling.

Die veiling plaas artistieke uitnemendheid op die voorgrond en beklemtoon die sigbaarheid en erkenning van kontemporêre kunspraktyke.

Strauss & Co se uitstalling Anything but Static in die Oude Leeskamer, is ’n keur van moderne en kontemporêre stillewes wat ondersoek hoe identiteit, kultuur, mitologie en oortuigings vasgevang word en kommentaar lewer deur die gebruik van ikonografie, simbole en objekte. Die uitstalling is ’n voorskou van werke wat later deur Strauss & Co opgeveil word.

Verder kan feesgangers weer besoek aflê by 20 plaaslike kunstenaars se werksruimtes, te danke aan die Ateljeebesoeke-inisiatief.

Woordfees-atelier is ’n verteenwoordigende uitstalling van hierdie deelnemende kunstenaars se werk en is by Die Stal te sien, byeengebring deur Ilse Schermers van IS Art.

SPIER TONEEL

Groot produksies open by die Toyota Stellenbosch Woordfees, en die afwagting om hulle op die planke te sien, is tasbaar. Stukke soos die komiese My kind druip (met Shimmy Isaacs), Skanse (met Dawid Minnaar), Vlindervry (met Cindy Swanepoel), ’n Middel (met Tinarie van Wyk Loots), Grootmeisie (met Daneel van der Walt), wat die 2026 Reinet Nagtegaal-teksprys gewen het, Krapp se laaste band (met Carel Nel), I Lord Hamlet (met Carlo Daniels), Elke briljante ding (met Albert Pretorius) en Wie call die shots? (uit die pen van Miché van Wyk) bring ons topteatermakers op die verhoog byeen.

Ander trekpleisters sluit in Atropa onder die regie van Marthinus Basson, Die ander dogter met Sandra Prinsloo, en die verwerking van Kirby van der Merwe se roman Eugene.

EasyEquities SKRYWERSFEES

Die woord sit nie verniet heel voor in die Toyota Stellenbosch Woordfees se naam nie: Boeke en skrywers bly die hartklop van die fees. Daar is meer as 50 aanbiedings op die EasyEquities Skrywersfees, wat deur die digter Bibi Slippers saamgestel is.

Lesers, denkers en boekmense kan uitsien na boeke oor alles van rugby tot resensies, geld en geskiedenis, huwelike, honde, en hoe om ’n bestaan te maak op ’n leë stuk grond in die Karoo.

Vanjaar word daar vyf boekklubs aangebied. Heindrich Wyngaard gaan met Dennis Cruywagen gesels oor Dennis se biografie van Allan Boesak, Dominique Botha is in gesprek met Danie Marais oor haar roerende outobiografiese fiksie in Die huilende bruid & ander versinsels, en die TV-joernalis Lourensa Eckard voer ’n onderhoud met James-Brent Styan na aanleiding van sy boek oor Markus Jooste.

Die legendariese Tobie Cronjé gesels met die skrywer Chris Vorster oor die biografie Tobie, en die impakspeler Steven Kitshoff bespreek die rugbymemoir wat hy saam met Michael Vlismas geskryf het.

FEESDIGTER

Vanjaar se feesdigter is Tom Dreyer, wat onlangs met die Hertzogprys bekroon is vir sy debuutbundel, Nou in infrarooi. “Dis egter sy nuwe bundel, Brief op veertigduisend voet, waarvan die titel so mooi met ons feestema oorvleuel, wat hom die ooglopende keuse gemaak het,” sê Bibi. Hy is daagliks betrokke by boekpraatjies, filosofiese gesprekke en verskeie voorlesings wat digkuns toeganklik wil maak vir alle feesgangers.

DEUR DIE EEUE: KLASSIEKE MUSIEK

Met die gewilde Klavier-extravaganza III kry gehore die geleentheid om te beleef hoe tot twintig pianiste op tien vleuelklaviere tegelykertyd so hittete die kluts kwytraak in die Standard Bank Endler-saal.

Die goue era van Italiaanse sang het drie eeue geduur, en ’n konsert wat die meeste van hierdie tydperk dek, An Italian Songbook, gaan haal dit by Antonio Vivaldi in die 17de eeu en neem dit tot by Ruggero Leoncavallo.

Die basbariton met die fluweelstem, die Koreaan EuiHyun Park, word op die klavier begelei deur Pieter Grobler en bygestaan deur die strykers van ’n groep jong Stellenbossers met Suzanne Martens as dirigent. Dit is ’n verrykende program, vol elegansie en hartstog. Waar orkestrasie en verwerking nodig was, het Willem Vogel die pen opgetel.

’n Hoogtepunt op die laaste aand van die fees is die wêreldpremière van Suid-Afrika se grootste lewende komponis, Hendrik Hofmeyr, se eerste klavierkwartet. Dit is in opdrag van die tjellis in die Gioioso-klavierkwartet, die befaamde Peter Martens, gekomponeer. V

MEER INLIGTING

Dié is maar ’n klein proesel van die volledige program wat in beide Afrikaans en Engels by woordfees.co.za beskikbaar is.

Die Toyota Stellenbosch Woordfees vind van 3 tot 11 Oktober in die Eikestad plaas.

Kaartjies is by quicket.co.za te koop.