fbpx

’n Portret van twee ma’s

As jy jou ma aan die dood afstaan, beteken dit nie sy verdwyn nie. ’n Houtskoolportret van haar ma wat die kunstenaar Henk Serfontein aan haar skenk, laat Willemien Brümmer besef haar én Henk se ma’s leef steeds.

Skets en foto’s deur Henk Serfontein

Die WhatsApp van die kunstenaar Henk Serfontein pieng op my selfoon soos ’n boodskap uit ’n vervloë tyd. ’n Era voor die virus; voordat die lewe soos water deur ons vingers begin glip het.

Ek is op dag agt van my siekbed met Covid-19 en die kouekoors vries deur my lyf. Dis Mei 2020, skaars twee maande nadat ons land in ’n wetenskapfiksierolprent verander het.

Dis toevallig ook presies ’n jaar sedert die dood van my geliefde ma, Laetitia Brümmer.

Eers dink ek die WhatsApp is ’n foto van my ma, maar toe ek dit vergroot, sien ek die swart-en-wit beeld, met maskeerband teen ’n esel geplak, is inniger, meer omhul met lig. My ma, op haar laaste, lyk soos die Mona Lisa, met ’n glimlag wat wik tussen weemoed en vrede. Sy kyk verby, na die een of ander onsigbare einder.

’n Oomblik lank vergeet ek van my eie moegheid en die vrees vir ’n siekte wat my hart laat fladder soos ’n voël in ’n kou. Ek tik: “Die werk wys jy het haar siel gesien, al het jy haar ontmoet toe sy reeds so ver weg was.”

Sy antwoord flits oor my skerm: “Sy het beslis ook helder momente gehad en iets van haar deernis was steeds daar ten spyte van die demensie. Dit en haar selfloosheid is wat my as totale buitestander opgeval het.”

Wat hy nie sê nie, is dat die kunswerk ook ’n simbool is van die deernis en die onbaatsugtigheid van die kunstenaar. In ’n tyd waarin almal hul sente moet tel, is sy kunswerk ’n geskenk sonder verwagtinge of versweë klousules.

Dis ook ’n portret van twee ma’s: Myne en sy eie ma, die vrou wat, asof met onsigbare ink, kleef aan elkeen van sy portrette.

Dit word my heel kosbaarste besitting: my ma teen ons eetkamermuur; ’n vredevors wat waak oor ons huis.

Ek ontmoet Henk in Desember 2014 terwyl ek hoogswanger is met my seun, Matthias. Ek kan nie, soos beplan, saam met boesemvriende uit my skooldae die Tsitsikamma gaan stap nie en Henk stap in my plek. Ná die staptog hou ons almal vakansie naby Stormsriviermond.

Veelvuldige miëloom is toe reeds ’n jaar tevore by my ma gediagnoseer en my dae is ’n wipwarit tussen die nuwe lewe in my baarmoeder en die alfabet van oorlewing wat ons in die hospitaal moet aanleer: A is vir anemie, B is vir bloed, C is vir chemo…

D is vir dit waaroor niemand wil praat nie.

Henk se ma, Ann, het toe al langer as ’n dekade gelede gesterf (lewerkanker), maar ek kan sien die onthou lê nog vlak.

Ons albei se ma’s het ons van kleins af teen ’n ongenaakbare wêreld beskut. Hulle het altyd hul kinders bo hulself gestel.

Hy onthou hoe sy ma aan die einde van sy eerste jaar op universiteit sy ateljee in hul huis in Eldoraigne binnevaar net ná hy ’n landwye kunskompetisie gewen het. Toe hy weer sien, pryk sy eksperimentele studentekuns teen elke muur tussen Dürer se Biddende Hande en die bal-en-klou-meubels. Sy ma het hóm gekies bo wat die bure sou dink.

Henk het alleen saam met sy ma gewoon en toe die Groot K kom, was dit hy wat haar verpleeg, gebad en soms selfs aangetrek het. Teen daardie tyd kon hy dit al toe-oë doen. Sy het aan ernstige epilepsie gely en moes die siekte keer op keer met ondenkbare wilskrag oorwin.

“Ek dink ek het vroeg in my lewe die rol van ’n versorger aangeneem. Ons kan sewe of agt keer onthou dat ons my ma weer van voor af moes leer loop,” vertel hy later.

Sonder dat hy dit aanvanklik besef het, sou die verlies van sy ma ’n primêre narratief in sy werk word. Sy sou onbewustelik deel word van sy oeuvre, net soos wat my ma se stem steeds in my kop is wanneer ek skryf.

My ma was my ekstra oor en oog, terwyl byna elke portret van ’n ouer vrou wat Henk teken ’n metafoor sou word vir sy ma se winterslaap.

Sy ma was in elke prent; my ma was in elke woord.

Ek kan nie presies onthou hoe dit gekom het dat Henk by my ma begin kuier het nie. Ek weet net ek het hom een oggend by sy hoofkwartier, die Tuinesentrum in die Kaap, raakgeloop en in ’n skielike bevlieging besef hy moes my ouers ontmoet.

Ek was byna te bang om te vra hy moes my ma teken, maar ek het intuïtief geweet iets van my ouers se wondbaarheid sou tot hom spreek. Albei van hulle het in daardie stadium aan demensie gely, byna asof hulle ’n stadige-aksie-hemelvaart beleef het. Hulle was in ’n wolkie wat elke dag ’n bietjie verder was van hier.

Presies soos ek vermoed het, het my ma en Henk mekaar gevind. In my pa het hy dalk iets van sy eie pa beleef. My pa was ’n wiskundige wat in my kindertyd agter sy brilglase en in die geheimenisse van die kategoriale topologie verdwyn het. Sy pa, ’n brigadier in die weermag, het na onnoembare oorloë verdwyn.

Terwyl Henk in my ma se kombuis gesit het, het hy weer onthou hoe dit voel om ’n geliefde wat terminaal siek is te versorg. “As dit jou ma is, voel dit soos ’n naelstring wat geknip word,” sou hy my later vertel. “Maar daar is ’n vreemde ironie dat wanneer jy die versorger, en die naaste persoon aan die sterwende is, daar ook ’n ongelooflike verdieping in hierdie verhouding plaasvind.”

Hy het sy oë vir ’n oomblik toegemaak, daar in sy woonstel in Firdalia Heights. “Jy deel nou ook die lyflike verlies van daardie persoon. Jy deel iets rondom die dood.”

Aan my ma het hy die verweerskrif gelees waarmee hy so pynlik vertroud was: die vel wat verkleur, die tekstuur wat broser word soos sneespapier; die wangbene en skelet wat hoekiger word, asof die grense van die vel te eng geword het.

Wat hy ook gesien het, was ’n sekere ekstase waarmee sy aan die lewe bly vasklou het. Tog het sy die ander moontlikhede wat toe al in volkleur in haar kop afgespeel het vierkant in die oë gekyk.

Ek was nie teenwoordig by enige van sy besoeke aan hul huis in Rondebosch nie en ek kon niks redigeer of manipuleer nie. Ek was ook nie daar toe hy uiteindelik die fotosessie opstel in die sonkamer wat uitkyk op die reusagtige eikeboom by die swembad nie.

Ek sou al die foto’s eers lank ná haar dood sien.

Al wat ek weet, is dat sy tydens die fotosessie vir Henk ’n deur oopgemaak het na ’n oorgangsrite waarteen sy my toe dalk nog wou beskerm.

Dit was so hittete of die fotosessie het nie plaasgevind nie. Tien dae later en nadat Henk die laaste keer daar gekuier het, loop sy vir die eerste keer in haar lewe kamer toe terwyl die tafel reeds gedek is. My ma, wat altyd gepraat het van “koue kos, warm vrou”.

Ek en my pa volg haar na haar bed en ’n halfuur later sien my pa ’n stralekrans van lig bó teen die plafon. Ek hou haar vas en voel die omhelsing van die hitte in die vertrek, al is sy dood.

Meer as twee jaar later pieng daar weer ’n WhatsApp van Henk: Hy het al die foto’s wat hy van my ma geneem het op ’n stokkie gesit: Wil ek dit kom haal?

Eers kan ek my nie so ver kry om daarna te kyk nie. In ’n tyd waarin die dood van geliefdes sy enigheid verloor het, wil ek my herinneringe afsper en bewaar. Maar ek weet tog dat my ma presies geweet het wat sy doen. Net soos sy wou seker maak dat ek en Matthias daar is toe sy haar oorgee aan die onvermydelike, sou sy geweet het ek sal Henk se foto’s sien.

Niks kon my daarop voorberei om die foto’s soos ’n video oor my rekenaarskerm te sien rol nie. Ek verstaan hoekom Henk my vooraf gewaarsku het: “As ek aan my kamera vat en die fast forward-knoppie druk, beweeg jou ma, al is sy dood.”

Daar is letterlik honderde foto’s van haar in haar helderrooi hemp. Haar wyse groen oë speel ’n spektrum emosies uit, die-per en wyer as die see. My ma wat “Die Stem” presies soos Anna Neethling-Pohl kon opsê sodat ons lê soos ons lag.

Aanvanklik is sy speels en lighartig, selfs skaam. Later is dit asof sy van Henk en sy kamera vergeet en deur ’n tonnel beweeg na ’n wêreld ligjare hiervandaan.

Sy draai haar gesig na ’n onsienbare son, haar hande gelig na die hemelruim. Soms is haar oë toe; haar liggaam vooroorgebuk, intens, asof sy luister na musiek wat net sy kan hoor. Ander kere is sy ’n ekstatiese derwisj wat op ’n hemelse wysie dans. Sy probeer (anders as wanneer sy by ons was) nie haar eie seer verbloem nie. Dis vir haar oukei om vir die kamera te wys sy’s moeg en sy hunker na ’n dieper slaap anderkant pyn en lyding.

Van die merkwaardigste foto’s is van hoe sy haar hare regmaak, soos voor ’n spieël. My pragtige ma wat nooit juis wou tyd mors met dinge soos hare kam of skoonheidsmiddels nie. Dit lyk asof sy gereed maak vir ’n finale konsert of selfs ’n geheime minnaar. Soms is hy ’n verskriklike vryer wat haar aan haar vingers,
kromgetrek deur artritis, kom wegvoer vir ’n danse macabre; ander kere is sy die dood se beeldskone bruid.

Wat my bybly, is hoe sy my (en elk van haar geliefdes) in die oë kyk, asof om ons te verseker haar onvoorwaardelike liefde sal ons nooit verlaat nie.

Haar liefde bly, net soos die portret bokant die kaggelrak in ons eetkamer.

Ons ma’s is nie dood nie; hulle leef in houtskool op Hahnemühle-papier.