fbpx

Met My Rug Teen Adamastor

Die gramskap van Adamastor, daardie woeste en verwoede bewaker van die suidpunt van Afrika, boei skrywers al eeue lank. Kirby van der Merwe maak onverwags met hierdie reus kennis.

Hierdie beeld van Adamastor deur Júlio Vaz, die jonge, staan sedert 1927 by die Santa Catarina-uitkykpunt in Lissabon, Portugal.

IN DIE LAAT 1970’s plaas ’n Kaapse koerant op ’n dag ’n speelse fotovasvra. Jy moes bekende en onbekende plekke en dinge op foto’s uitken om jou intieme kennis van Kaapstad te toets.

Een van dié foto’s bly my tot vandag by. Dit wys die klipbeeld van ’n man in reliëf. Die gesig, veral, is erg deur tyd en elemente tot ’n driehoek verweer, mummie-agtig en dreigend. Die bors, hoog en afgeplat, val skerp weg tot net bó die knieë. Waarskynlik ’n figuur uit die borswering van ’n gotiese katedraal wat teen ’n muur van een van die Kaapse kerke beland het, het ek geraai.

Maar ek was verkeerd, heeltemal geflous. Dit was ’n foto van Tafelberg wat vertikaal geplaas is. Bekyk vanaf ’n sekere hoek en afstand én met ander oë, lyk Tafelberg soos ’n man. Weer horisontaal gedraai, kom die berg op die foto voor soos ’n slapende reus, op die naat van sy rug, met sy voete tot in die see. As jy dié slapende reus eers gesien het, steek die beeld by jou vas.

Wat my laat wonder: het die eerste Portugese skeepvaarders en ontdekkingsreisigers, die eerste Europeërs wat dit gewaag het om in hul houtskepe om die suidpunt van Afrika te vaar – Bartolomeu Dias in 1488 en Vasco da Gama in 1497 en 1499 – ook dié slapende reus gesien. Ek glo hulle het. Want in 1572 publiseer hul landgenoot, die grootse Portugese digter Luís Vaz de Camões, sy epiese gedig Os Lusíadas. In dié epos verbeel hy hom Vasco da Gama se vaart om die suidpunt van Afrika. Camões beskryf Tafelberg as ’n woedende reus genaamd Adamastor wat die golwe opjaag om die held Da Gama te vernietig.

Die Portugese skeepvaarders was tereg vreesbevange vir die vreemde waters, die Kaap van Storms, soos hulle dit genoem het. Hulle het die woeste Kaapse stormweer en stormsee beleef en die berg wat lyk asof dit uit die see verrys. Dit is stof vir legendes. Hul vertellings en skeepsjoernale was waarskynlik Camões se inspirasie.

Camões se Adamastor vind weerklank by die skrywer André P. Brink. Hy gebruik Camões se Os Lusíadas as raamwerk vir sy reisverhaal Fado (1970), sy verkenningsreis deur Portugal. Én hy publiseer ’n novelle, Die eerste lewe van Adamastor (1988). Adamastor klink ook op in die werk van nóg ’n groot Portugese digter, Fernando Pessoa (1888-1935). Interessant genoeg, Pessoa is in Portugal gebore, maar hy was op skool in Durban.

Ook die uitgeweke en grootliks vergete Suid-Afrikaanse digter Roy Campbell laat Adamastor herleef.

Hy publiseer in 1930 ’n digbundel getiteld Adamastor, Poems. In sy laaste jare woon Campbell in die dorpie Linhó in Portugal, en lê daar in Sintra begrawe.

Ek het grootgeword toe daar nog met ontsag gepraat is van Roy Campbell. Hy was ’n tydgenoot van die digter Uys Krige. Beroemd in sy tyd, was Campbell ook berug en uit die geskiedenis uitgeskryf as gevolg van sy uitsprake oor geloof en veral politiek. As student was dié hekelgedig van hom oor Suid-Afrikaanse skrywers ’n lekker mantra:

‘On Some South-African Novelists’
You praise the firm restraint with which they write –
I’m with you there, of course:
They use the snaffle and the curb all right, But where’s the bloody horse?

Toe ek dus Portugal die eerste keer in 2017 besoek, was dit my voorneme om Linhó, in Sintra, te besoek en ’n artikel oor sy werk en wel en wee te skryf. En natuurlik oor waarom hy bykans vergete geraak het.

Dit was hoogsomer, skroeiend warm. Ek verken Lissabon en die besienswaardighede waar Suid-Afrikaners gewoonlik ’n draai maak. Natuurlik mik ek na die restaurant-koffiehuis A Brasileira en die bronsbeeld van Pessoa wat buite by ’n tafel sit.

Een aand wandel ek en my vrou van ons woonstel langs ’n besige, steil straat op teen die helling. Ons draai op ’n ingewing regs in ’n systraat. Ons hoor samba- en salsamusiek op die aandlug. Op ’n breë terras met ’n uitsig oor Lissabon dans mense. Dit is ’n vrolike plek. Ons gaan sit op ’n bankie en bekyk die dansers. Een van die dansers, ’n skraal donker man met rastalokke, kom nooi ons om saam te dans. Almal is welkom, sê hy. Ons dans totdat die musiek skielik stop. Daar, aan die verste kant, verdwyn die musiekmakers én die man wat ons genooi het om saam te dans oor die heining, net betyds om aan die polisie te ontsnap.

Ons gaan sit op die gras met ons rûe teen ’n groot rots. Later kyk ek op en sien in die rots die silhoeët van ’n man. Ons sit, besef ek, by die beeld van Adamastor by die Santa Catarina-uitkykpunt.

Ek het toe nooit by Sintra uitgekom nie.

Kirby van der Merwe is ’n bekroonde skrywer en beeldende kunstenaar wat op Aurora aan die Kaapse Weskus woon.