fbpx

Ontmoet Maria, Stellenbosch se Franse heelmeesteres in ‘Wieg’

Wieg, Joan Kruger se biografie-in-konteks van Maria du Plessis, née Marie Buisset (1679–751), wentel om ’n uitsonderlike Hugenoot en vroedvrou. Michèle Meyer gesels met die skrywer.

Ware vertellings roere. Weerspieël dit verhale van vroue buite tradisionele grense, sit ek penorent. Joan Kruger se Wieg weef ’n web waarbinne die leser ook leerder word.

Joan, wat op Paternoster woon, is hier afgeneem in die kantoor van Tip Africa Publishing in Woodstock, Kaapstad. Sy is ’n stigterslid van die maatskappy en ’n medewerker aan Stellenbosch Visio. Picture by Bruce Tuck

Die menswees en omstandighede van Maria du Plessis, née Marie Buisset, boei. Leergierig, leerder, leerkrag. Eggenoot, stiefma, reisiger, bloedma. Vroedvrou, boer, sakevrou. Weduwee, konvensiebreker. Heelmeesteres, geloofwaardige getuie voor die hof. Driehonderd-drie-en-veertig jaar ná haar geboorte in die stad Sedan, Frankryk, hou dié formidabele vrou my dae lank gevange in Pretoria, Suid-Afrika. Dus Kaap toe om die skrywer uit te vra.

Wieg het in September 2022 by Litera verskyn en is in alle goeie boekwinkels beskikbaar.

Ons ontmoet in Woodstock, Kaapstad, in die kantoor van Tip Africa Publishing, die maatskappy waaraan Joan steeds verbonde is. Sy staan fier. Petite, hartlik. Ontdaan van enige fraiings wat mens sou kon verwag by ’n deurwinterde joernalis, redakteur en skrywer.

Rondom Joan rinkink energie. Midde-in die tasbare, lewegewende uitstraling setel ’n diepe kalmte. My eie dwarreling bedaar. Helder oë agter die brilraam onder haar silwer elfiestylkuif koggel konvensies oor ouderdom. Sewe dekades lê agter haar. Haar hele wese weerspreek dit.

Maria, die voetnoot-vroedvrou, het Joan deeglik aan die baadjiepant beet. Sedert navorsing oor vrouetaal, in 1999, waar sy Maria bloot raaklees in ’n “taalkundige dokumentjie”. Joan verkneukel haar in herroep. “As kind op Kakamas het ons meisiekinders soos seuns grootgeword; ons het trekker bestuur, katoenbale getrap… ek’t nooit die ding beleef van vroue hoort in ’n hoekie nie. Die vrouebevryding van die sestigerjare het ook seker onbewustelik meegespeel dat ’n buitengewone vrou met ’n mens sal praat. Vroue is nou nog maar altyd my gemeente! Maria het mý gekies… hoe meer ek oor haar ontdek het, hoe meer het ek besef: Maria, ek en ander vroue is dit aan jou verskúldig. Én aan die vrouens van jou tyd, om die waarheid omtrent julle te weet.”

Vier jaar gelede begin Joan Maria du Plessis se lewe mikroskopies ontleed, meer ondersoekende joernalis as geskiedskrywer. “Jy begin op ’n pad, wie weet waarheen, maar
dis onweerstáánbaar… wat wás die werklikheid; is ons beeld van daai werklikheid reg? Joernalistiek laat jou in die voorste gestoeltes toe, waar jy vrae mag vra… jy kap en kap, soekend na brokkies waarheid.”

Legkaartstukkies van Maria du Plessis se prentjie was maar ’n handjie vol, boonop oor kontinente heen versteek. Die tyd van die Hugenote aan die Kaap laat nie veel geskrifte van vroue na nie. “Gelukkig is soveel dokumente sedert die draai van die millennium gedigitaliseer, anders sou ek nóóit by al die navorsing uitgekom het nie!”

In 2020 du die pandemie Joan se gedrewenheid om Du Plessis se verhaal neer te pen, al dringender. “Ek was so bang ek gaan dood, en al hierdie inligting raak verlore, sê nou niemand anders stel daarin belang nie! Hier oor die sewentig staan ons mos in die voorste ry… toe gaan sít ek, en ek skrýf. Skryf is vir my swaar. Om so sy aan sy langs daardie tyd se mense te beweeg, asof met oop sinapse, is pynlik.”

Emosie versluier haar stem tot fluister. “Die Hollanders sê: Wie schrijft, blijft, en ek wil dit aanvul: Wie schrijft, blijft léven. Oprah Winfrey uiter gereeld een slawevrou se naam hardop. By die noem daarvan lewe daardie vrou weer. Ek’t gevoel, Maria, jóú naam moet genoem word. Jy wat ongehoord, ondenkbaar, ’n verswakte slaaf by jou op ’n perd se rug gelaai het…”

Joan raak stil. Die ruit bo die spoorlynvlegsels anderkant die gebou kaats oggendlig blink onder haar regterkantse brillens.

Geen sprokie nie

Marie Buisset se kinderlewe was geen sprokie nie. Uit kerkboekinskrywings spruit die aanname dat haar ma, Anne Buisset, née Guiri, nie die geboorte van haar tweede kind oorleef nie. Die baba sterf binne dae. Marie is pas twee jaar. Haar pa se naam word nie weer in kerkrekords aangeteken nie.

“Daar is wel vermelding van ’n tante wat getuie was by haar doop- en ‘ondertrou’-dag. Ontheem deur godsdiensvervolging in Frankryk, waarskynlik aangewese op genade van ander, kan mens die lot van die Hugenote-gemeenskap aflei… Soos vandag steeds met vlugtelinge, bly onderdruktes mekaar se aanspraak en familie,” sê Joan.

Op 29 Augustus 1700, in Amsterdam, trou Marie met die 62-jarige wewenaar en chirurgyn, Jean Prieur du Plessis. Die bruidegom is drie maal so oud soos sy, ook vader van twee tienerseuns en ’n sesjarige dogter. Die verbintenis is waarskyklik ’n geriefshuwelik vir beide partye. “Sy gaan ook ’n lewenslange verbintenis aan met die heelkunde, ’n nering wat sy as vroedvrou tot haar dood sou beoefen. Met Jean as haar leermeester sou sy selfs op die duur die grense van ‘vrouewerk’ help verskuif.”

’n Maand later vertrek die hersaamgestelde gesin na die Kaap, op een van die handelskepe van die VOC se Kermisvloot. Die wêreld wat Maria du Plessis leer ken nadat sy haar lewe as Marie Buisset in Amsterdam agterlaat, lees warempel soos ’n wildernisverhaal. In 1701 vestig die Du Plessis’s hulle op Stellenbosch. Die nedersetters haal die kromme note met huis bou, boerdery aanlê en die eise van ’n groeiende gesin. Maria leer die jong spruite Nederlands, Jean werk as chirurgyn en lei sy vrou algaande op as vroedvrou.

Ons gesels oor die varia ervarings wat Maria beleef, van vlugteling tot voorvatter. Buiten tallose bevallings wat sy behendig behartig, getuig sy ook van die geboorte van ’n nuwe land, volksgroep en taal. Sy begraaf twee eggenote.

Sakevrou

Teoretiese kennis put sy waarskynlik uit vroedvrouhandleidings, ’n poespas van mites en feite. Hoofstuk Een van die sogenaamde Leerboek vir Vroedvroue waarsku byvoorbeeld: “Ondanks haar onversadigbaarheid moet ’n getroude vrou haar bedeesd gedra in die egtelike bed.”

“Maria was twee dinge; vroedmoeder, maar ook gesinshoof; mater familias, die dryfkrag. In haar latere lewe bereken sy skuld, koop ’n huis op Stellenbosch, spekuleer daarmee, en slaan boonop ’n goeie slag. Haar rekeninge is soos ’n professionele sakevrou bygehou. Haar gerespekteerde hofgetuienisse oor geweld teen vroue is buitengewoon vir daardie tyd.”

Joan weeg haar woorde “Miskien is dit vandag vir vroue belangrik om te weet, jy kan albei wees… vroedmoeder en stamhoof. Ook by die werk is daar mense wat soms bemoeder moet word.”

Die roerende getuigskrif van Maria en die vroue in haar omte wyk nie uit my gedagtes nie: “Haar werk het haar tot op die einde deel gehou van die intieme belewenisse van vroue. Die wonder van nuwe lewe. Die gebrokenheid en verwonding van grootword. Als deel van haar dagtaak. Sy moes getuie en helende hande wees as ’n jaloerse minnaar se mes, die vuiste van ’n godsman of die luste van ’n verkragter hul teikens gevind het. Want soos dit nou is vir vroue, so was dit ook tóé.”

Hierin lê ’n skrikwekkende onmiddellikheid. Die leser is geplaas, midde-in die vervlegte lewens van die gemeenskap waarbinne Maria leef. Joan leun vorentoe. “Ek het probeer eerlik skryf; dit kon net sowel vandag wees. Lesers moet dáár wees.”

Die skrywer onder wie se onverskrokke oog en sekure hand ’n klein, edele lewe van voetnoot na vandag verhef is, glimlag. Dit kos een onkonvensionele vrou om ’n ander terloops raak te lees, te benoem.