Maggie Laubser Uitstalling by SU Museum

Met Maggie Laubser at 140 vier die SU Museum dié SA Meester, wat 140 jaar gelede gebore is in  1886, met ’n uitstalling van al die werk wat sy in haar testament aan die Universiteit van Stellenbosch bemaak het. Die 134 werke is die grootste versameling Maggie Laubsers in openbare besit. 

Die uitstalling bied ‘n bevredigende blik oor haar oeuvre – van haar vroeë portrette en landskappe uit 1914 tot 1919 toe sy in Engeland en Skotland gereis en in London tekenklasse by die Slade School of Fine Art geneem het. ‘n Handvol skilderye van sipresse langs ‘n meer dateer uit 1920-1921 toe sy in Italië langs die idilliese Garda-meer geskilder het met Arnold Balwé, die seun van haar weldoener Jan Balwé – ’n ervaring wat sy later as “die gelukkigste tyd in haar lewe” beskryf. Haar later dikwels omstrede Ekspressionistiese styl ontwikkel sy in 1922-1924 in Berlyn waar sy met voorste kunstenaars in dié beweging kennis maak.

Haar bekendste werk bly die kleurvolle pastorale skilderye uit die tydperk ná 1924, toe sy na altesaam 10 jaar in Europa, permanent teruggekeer het na SA en op die familieplaas, Oortmanspost, bly. Sy het nooit weer na Europa teruggekeer nie. Daar skilder sy die plaastonele van haar jeug – die diere, werkers, blomme, landerye en berge – en talle ganse en eende – wat sy in haar werk verewig en waarmee sy haar groot liefde vir die Skepping uitbeeld.

Later reis sy verder noord in Suid-Afrika en verskyn daar meer Afrika-figure in haar werk.

Die oudste werk – ’n konvensionele uitbeelding van sonneblomme – dateer uit 1902 toe sy omtrent 16 was – en haar laaste, ’n dalk onvoltooide plaaslandskap, uit 1972-73, kort voor haar dood op 87.

Buiten haar kenmerkende stillewes met blomme en kat, sluit die uitstalling ook ’n tiental uitsonderlike portrette in, veral van vroue en werkers, vir wie sy boeiend en diepsinnig uitbeeld.

Toegang: GRATIS

Tydperk: Junie-Desember 2026, Maandag tot Vrydag 9vm – 4nm, met langer toegang tydens Die Woordfees.

Adres: US Museum in Ryneveldstraat 52, Stellenbosch.