fbpx

Maanligmymeringe

Op die naat van my rug, ingewikkel in die klippiesgruis van ’n verlate plaaspad diep in die Groot Karoo, lê ek saam met my medestappers en staar na die hemelruim. Nou en dan gesels ons in die donkerte, maar dan raak dit weer stil terwyl ons die naghemel gadeslaan: die Suiderkruis, ’n verskietende ster of twee, wolke wat verbydryf, ’n verstommende rits satelliete kompleet soos ’n lang trein. Maar die éíntlike een waarop ons wag, die koningin van die nag, is haar majesteit die volmaan.

Ons is vier dae lank op ’n afgeleë plaas tussen Beaufort-Wes en Fraserburg wat grens aan die Karoo Nasionale Park. Die vyf roetes – die kortste 9km en die langste 18km – begin en eindig by die plaashuis waar ons oornag (met ’n paar slaapplekke binne en die res buite in eie tente). Soms vertrek ons laatmiddag, sien die son sak en die maan opkom, en kom plons in die ronde plaasdam. Ander kere begin die stap in die vroeë oggendure en is ons terug vir ontbyt.

Liezl en Douwe Vlok is gasvrye, hartlike mense. Hulle bederf ons met heerlike etes, stook die donkie vir warm badwater, vertel Karoostories en deel lewenswyshede. Dis amper soos om by familie te gaan kuier. Tussenin speel ons kaart, knip ’n uiltjie (of twee), lees, swem, lê en niksdoen.

Douwe moedig ons aan om so min as moontlik ons koplampe te gebruik sodat ons oë die donker gewoond kan raak. Hy verduidelik elke roete met aanwysings soos “hou reguit links”, “stap tot by E”, “moenie deur daai hek gaan nie” en “fokus, fokus”. Mettertyd besef ons ook dat die effense konsternasie om ons pad te vind juis deel van sy plan is. Ons is sewe vroue wat saam onthou hoe ons moet loop, saam lag, saam tel hoe ver die weerlig slaan, saam die wolke wegwens sodat haar majesteit in alle glorie kan verskyn – en dit bind ons op ’n besonderse manier saam.

Hoe pas mens hierná nou weer in die beskawing aan? Ons gasheer hoef nie lank na te dink oor sy antwoord nie: “Daai is nie die beskawing nie. Daai is die oerwoud, waar hulle roof en moor en steel. Hierdie – dís die beskawing!”

My voete sal weliswaar weer hul weg na die beskawing vind. Na die eenvoud en die stilte. En na die maanlig.

Vir meer inligting besoek www.heuningland.com/volmaan-karoostap