Ten slotte met Johan Myburg: Lourierblare teen alleenheid

Afgesonder in ’n dorpie in Italië terwyl die Swart Dood digby woed, ervaar tien jong mense eeue gelede die helende krag van ’n tuin en van verhale. Dit was dié stories wat Johan Myburg na Fiesole gelok het.

Fiesole, waar ’n paradyslike tuin eeue gelede teelaarde vir onsterflike verhale geword het. Foto verskaf

’n Hele paar jaar voordat ‘kwarantyn’ deel geword het van ons alledaagse woordeskat, was dit Giovanni Boccaccio se Decamerone wat my gelok het na Fiesole, die dorpie net buite Florence in Italië. Fiesole was die plek waar Boccaccio se brigata, ’n groep van sewe jong meisies en drie jong mans, in afsondering die somer van 1348 deurgebring het terwyl die Swart Dood in Florence verwoesting gesaai het. As jy, soos dié groepie, die middele gehad het, kon jy die builepes vryspring wat tussen 1347 en 1351 soveel soos 45% van Europa se bevolking uitgewis het.

Om die tyd in Fiesole te verwyl, het elkeen van dié adellikes twee weke lank elke aand die geleentheid gekry om ’n storie te vertel. Dit was behalwe Sondae en ook een aand per week wat aan takies gewy is – met ander woorde, tien dae lank (van daar die titel van die boek wat “tien dae” beteken).

In hul gekoesterde omstandighede het hulle vorendag gekom met stories oor goed wat hulle geraak het, oor gierige en korrupte kerklui, oor geld en die tekort daaraan, oor liefde (opwellende sowel as mislukte liefde) maar ook oor wreedheid, verraad en uitbuiting.

Hoewel Boccaccio nie die naam van die villa noem waar hulle vertoef het nie, is daar getuienis dat dit die imposante Villa Palmieri (soos dit tans bekend staan) kon wees. As simbool van die groepie se paradyslike omstandighede te midde van die pes, beskryf Boccaccio die tipiese Middeleeuse tuin met ’n sentrale vywer, pergolas met lowerryke wingerdranke, en sitrusbome, rankende rose en jasmyn, aangeplant en getroetel op terrasse.

Deur die eeue het baie van die tuine in die Fiesole-omgewing heelwat veranderings ondergaan – die invloed van die Renaissance en Barok is oral te sien – hoewel ’n mens op wandelings bewus word van tyd wat stilgestaan het. Dit sien jy in die geduld van statige sipresse en hoor jy in die sikades (hulle klink net soveel anders as ons sonbesies) wat 673 jaar later steeds sing van son en volop somers. Dit ruik jy in die oeroue geur van lourier wat jy van lang latte kan stroop.

Tuin, soos ek daaroor dink, is meer as om plante te sien groei (soos wat reis meer is as om plekke te besoek en soos lees meer is as om inligting te bekom). Dit is ’n manier om die lewe draagliker maak; noem dit ’n meganisme om welstand te koester.

In Decamerone maak Boccaccio van tuin ’n teelaarde vir stories, ’n plek waar die tien jongelinge geil fiksie kan ontgin terwyl die dood dreig. Dit word die plek waar die genesende krag van verhale gedy, juis in ’n tyd van isolasie. Wat uitstaan van Decamerone is dat ons stories nodig het om ons te help uitmaak wie ons is as alles om ons so op losse skroewe begin staan. En dat ons ook mense nodig het om na ons verhale te luister.

Eeue later spoor Boccaccio ’n mens nog aan om na te dink oor jou verantwoordelikheid jeens ander, oor meelewing en geselskap en gulhartigheid. En moedig hy sy lesers aan tot verdraagsaamheid en hoflikheid teenoor dié van wie jy verskil. Kortom, om na te dink oor die waarde van ’n lewe en straks ’n beter lewe te versin ná ’n pandemie.

Lank reeds terug van die reis na Fiesole, kook ek steeds met die bondels lourierblare wat ek daar gepluk het, en voed die volgeur van die blare almal om my tafel, genees die lourier iets van die alleenheid wat kom met ’n nuwe pandemie en dae van kwarantyn, en wakker die aardse smaak my aan om eendag weer te reis. Dalk terug na Fiesole.

Die bekroonde digter, denker en kunskenner Johan Myburg se ontginning van die verlede bring hom uit by ou waarhede en oor waarom ons verhale nodig het.