Jamestown is ryk aan stories met hart, maar die jaarlikse kunsveiling van Marié Stander by die Muratie‐wynlandgoed en die sopkombuis van die bekroonde sjef, Bertus Basson, is baie besonders, skryf MARGUERITE VAN WYK.

In Jamestown woon mense van allerlei slag en soort neffens mekaar. Dis ’n plek waar die gemeenskap saamwerk en selfsug min plek het.
In die jare negentig was dit nog ’n sogenaamde “bruin woonbuurt”. Toe kry dit nuwe intrekkers, mense soos Marié Stander, een van Suid-Afrika se voorste portretskilders, en haar man, Rick, ’n argitek.
Hulle het geglo in die ‘nuwe Suid-Afrika’, dat dit tyd was om hoë mure af te breek, tyd dat alle mense tussen mekaar moet woon – anders gaan die land nooit ten goede verander nie. Hulle het die daad by die woord gevoeg en in 1997 Jamestown toe getrek.
“Dís hoe Suid-Arika behoort te lyk,” meen die bekende kospersoonlikheid Bertus Basson, wat hom elf jaar gelede met sy gesin hier gevestig het.
Jamestown is deesdae die tuiste van talle skeppende mense, onder meer die skrywer en kunstenaar Ingrid Winterbach en haar man, die skilder Andries Gouws.

Die samebindende krag in Jamestown, ook bekend as Webersvallei, is omgee. In 2001 begin Marié haar Marié Stander School of Art Charity Art Auction, geïnspireer deur haar hartstog vir kuns en musiek. Sy moedig leerlinge by haar kunsskool aan om ’n kunswerk te skenk aan dié jaarlikse kunsveiling, ’n glansryke aand wat jaarliks by die Muratie Wynlandgoed buite Stellenbosch gehou word. Met die eerste veiling is R65 000 ingesamel.
Vanjaar het die 24ste veiling ’n rekordbedrag van digby ’n halfmiljoen rand opgelewer. Marié is ekstaties. “Ons glo die ligte reën wat uitgesak het, was ’n teken van seën,” sê sy.
Die tema vir die kunsveiling was Musiek laat die wêreld tol. Kunstenaars kon vir hul werke inspirasie put uit voorgestelde treffers soos Bob Dylan se ‘The Times They Are a-Changin’’ en ‘Highway 61’, ‘Ain’t No Sunshine’ van Bill Withers, en eietydse Afrikaanse sangers soos Karen Zoid en Jan Blohm se ‘Groen trui’.
Tjaart Steyn, ’n professionele afslaer van Darling, het vanjaar vir die eerste keer dié veiling behartig en al 36 kunswerke het rekordbedrae behaal.



Hierdie olieverf-stillewe van Gerhard de Bruin, getiteld ‘Kind of Blue’, is geïnspireer deur ’n musiekalbum van Joni Mitchell, genaamd Blue. Karin Brink se ‘Early morning in Church Street, Montagu’, is geskilder met Spoegwolf se lied ‘Kerkstraat’ in haar agterkop. Elzabi van Wyk se kunswerk, ‘Homecoming’, kry gestalte op die wieke van The Hollies se ‘He ain’t heavy, he’s my brother’.
“Sedert 2001 het kopers – familie, vriende, kunsgeesdriftiges en selfs die afslaers – hul hande diep in hul sakke gesteek vir Jamestown. Ons is diep dankbaar,’’ sê Marié.
Háár kunswerk, ‘Magnolia – Fragility Unfolds’, geïnspireer deur die woorde van die Amerikaanse rocker JJ Cale se ‘Magnolia’, het die hoogste bod – R86 000 – gekry.
“Die magnolia is ryk aan simboliek – enersyds delikaat, maar ook kalm en sterk,’’ verduidelik sy.
Haar model, Charlize Claasen, ’n meisie van Jamestown wie se ma onverwags dood is, het Marié ontroer. Dié laatlam het nou slegs ’n broer as familielid en het baie gesukkel om haar ma se plotselinge dood te verwerk.
“Sy het gekwyn, broos en maer geword. Ek wou haar statuur gee met ’n Madame Matisse- voorkoms,” sê Marié en verwys na Henri Matisse se ‘La femme au chapeau’ waar sy vrou grootoog onder haar hoed uitloer.
Menswaardigheid
Waar ons in Marié se huis gesels, hang ’n houtskoolportret getiteld ‘Afwagtend’ wat sy van tannie Hanna Daniels, nóg ’n Jamestowner, geteken het. In 2023 het dit vierde plek in die Nasionale Portrettoekennings behaal.
Sy vertel tannie Hanna was 96 toe sy haar gevra het of sy haar kon teken. “Sy het op ’n yskoue dag met dié trui aan by my ateljee opgedaag, en ek kon dit nie oor my hart kry om haar te vra om dit uit te trek nie. Ek was bang sy kry koud. Ek moes die trui dus steek vir steek teken.
“Toe ek haar na die Rust-en-vrede-galery in Durbanville neem waar die portret uitgestal is, was sy baie ingenome daarmee en wou net weet wanneer ons weer kan kom vir koek en tee!’’

Jamestown ís Marié se mense. Dis húlle wat sy teken, vir wie sy deur haar kuns menswaardigheid gee. So verskyn daar in die boeke Onse Mense (2010) en Onse Mense Twee (2016) houtskoolsketse van Jamestown- inwoners, met gepaardgaande gedigte deur bekende Suid-Afrikaanse digters, saamgestel deur haar en Monica Ross, destydse kurator van die Rust-en-vrede-galery in Durbanville.
Om ’n verskil aan mens én dier se lewe te maak, is iets wat Marié by haar ouers, Gene en Jacob van Reenen, van George geërf het. Hulle het hul sewe kinders gewys liefde is ’n werkwoord. “Ek doen dit glad nie om geloof te word nie. Maar nood laat my nie koud nie.’’
Die veiling se geld word gebruik om minderbevoorregte kinders van die gemeenskap in en om Stellenbosch by te staan met winterklere, sielkundige dienste, onderrig, musiekinstrumente en sporttoerusting.
Maak Jou Tafel Groter
Die veiling se geld gaan ook aan die Jamestown-voedingsprogram. Op Woensdae kook Bertus se sjefs sommer vroegoggend al ’n reusagtige pot vegetariese sop by sy restaurant, Eike, geleë in ’n historiese gebou in Dorpstraat op Stellenbosch.
Dit voed sowat 200 honger kinders wat vieruur smiddae in Jamestown in rye daarvoor kom staan. Bertus skenk die bestanddele, asook vrugte en brood.

“Ek sou verkies dat ons die sop in ’n vertrek aan hulle voorsit en dat hulle met lepels kon eet. Menswaardigheid is belangrik,’’ sê hy.
Bertus en sy vrou, Mareli, glo elke Suid- Afrikaner het ’n plig om te help. “Kos is ’n basiese lewensbehoefte, waarsonder jy niks kan doen nie.’’
Sý ma, Hetta, is haar lewe lank by die kerk betrokke en het haar kinders geleer jy maak jou tafel altyd groter. “Dis deel van die Afrikaanse kultuur,” glo Bertus. Hy en Mareli prent dié lewenswaardes by hul spruite, Theodore (7) en Elizabeth (4), in.
“Ons leer ons kinders dit maak nie saak ofjyarmofrykisnie–álwattelisofjy’n cool, ordentlike mens is. Dís wat Jamestown ’n mens leer.’’



Wilma Adams, een van Jamestown se engele, werskaf agter die kospotte om die gemeenskap te voed. Elwin September help getrou met kosinkopies vir die Jamestown- voedingsprojek. Van die kinders stap kilometers ver vir ’n bakkie kos.
Die ander drie kosbeurte in Jamestown, wat Wilma Adams en haar kombuishelpers, Gertie de Villiers en Johanna Abrahams, behartig, word deur die Marié Stander Kunsskool geborg. Elwin September help met inkopies. Supermarkte op Stellenbosch is meer as toegeeflik as hy sy trollies instoot.
Bertus het Wilma en haar span geleer om ‘randrekgeregte’ soos eenvoudige pastas te kook. “Danksy die hulp van my verskaffers kon ons haar piepklein kombuis vergroot en toerus met ’n gasstoof en rakke.’’ sê hy. “Theuns Botha van Afrigas staan klokslag gereed met ’n nuwe gasbottel.”
Nie ‘n Borreltjie Nie
Soms pyn Marié se hart oor die sosiale probleme om haar: werkloosheid, dwelm- en drankmisbruik, afwesige ouers, dieremishandeling …
Só sien sy eenkeer tydens die voeding ’n kleuter – kaalbolyf, in ’n kortbroekie – wat vuurwarm sop oor haar lyfie uitstort. “Waar’s haar ma om te troos,” wonder sy. Die kind moes – soos talle ander – kilometers ver alleen stap vir ’n bakkie kos.
“Die lewe gaan oor geluk en oor hartseer. Hier leef ons nie in ’n borrel nie; ons is gevoelig vir Suid-Afrika se probleme. Ek voel tuis in ’n plek sonder pretensie,’’ sê Marié.
Sy deel nooit geld uit nie, maar gee kos en klere en neem gereeld mense hospitaal toe, of staan hulle by met dokumentasie by Binnelandse Sake. Sy ry ook siek diere aan veearts toe en steun Stellenbosch Animal Welfare se sterilisasieprojek.
“Mense het kwalik geld vir kos. Waar kry hulle vir hul troeteldiere kos? Ons wil eersdaags kospakkies vir diere uitdeel en soek dierekosborge.’’
Wanneer Marié Jamestown binnery, en die blou berge voor haar sien, dink sy aan haar kinderjare op George, maar weet: híér hoort haar hart.
Jamestown is ryk aan stories wat haar voed en sin aan haar lewe gee.








