Bloemhof, Lushof

Die Hoër Meisieskool Bloemhof het onlangs 150 jaar van uitnemendheid gevier en ook ’n nuwe skoolhoof by hul feesvierings verwelkom. JOAN KRUGER vertel die verhaal van ’n buitengewone skool – en’n besonderse boek.

’N SKOOL WAT ná 150 jaar steeds in volle bloei staan, moet sterk wortels hê. En dit het die Hoër Meisieskool Bloemhof by uitstek. Van toe tot nou. Die skool is – soete vrugte! – einde 2024 as die héél beste kwintiel 5-skool in die land aangewys. Vanjaar breek daar ’n nuwe era vir Bloemhof aan. Skoolhoof Wilna van Heerden, geloof vir haar toewyding aan die kultuur van waardes en uitnemendheid wat sy daar staanplek gegee het, het einde verlede jaar afgetree. Haar opvolger, Maré Bosch, gaan, soos elke hoof voor haar, haar eie stempel op die skool afdruk. Om hulde te bring aan almal wat Bloemhof help uitbou het, het die skool ’n besonder mooi gedenkboek uitgegee. Bloemhof 150 jaar vang in woord en beeld vas hoe die nederige akkertjie ’n lushof geword het. Die uitgewers is Tip Africa Publishing, wat ook Stellenbosch Visio uitgee.

In die gedenkboek neem klasfoto’s uit ongeveer 1896 jou na matriekleerlinge met hul pofmoutabberds en perdebylyfies geskaar om die skoolhoof, en na ’n kookkunsklas van 1910 met leerlinge in vollengte wit voorskote by ’n houtstoof. Geplaas naas dié van huidige studente in hul mooi skooldrag agter rekenaars of in moderne koshuiskamers, word dit ’n visuele tydsreis, ook na leerlinge wat self baanbrekers geword het.

Die foto’s in Bloemhof 150 jaar neem jou op ’n tydreis. In ’n Kookkunsklas van 1910 is leerlinge touwys gemaak in die kombuis.

Die stigters, die waardige, bebaarde ds. JH Neethling en prof. NJ Hofmeyr, het met visie en regverdigheid ingesien ook die “bloemen” van die volk moet op die skoolbanke sit. Die beskawing van ’n volk berus immers by die vroue, eerder as by die mans, skryf prof. Hofmeyr met verblydende openhartigheid.

So gesê, so gedaan, en in Januarie 1875 meld die eerste studente, prim en proper in hul Victoriaanse kantkragies, hulle aan by die Girls Public School, gevestig in die ou Gimnasiumgebou in Dorpstraat. Voor hulle staan Miss Juliette Gilson, in Amerika vir hierdie skooltjie in Afrika gewerf. Ná haar volg nog vier Engelssprekende vroue as skoolhoofde: die Misses Carrie Ingraham, Etta Colby, Alicia Bleby, en ’n ene Miss Hannay.

Troebele oorlogstye lê voor toe Miss Lucie Joubert in 1897 die eerste Afrikaanse hoof word van die skool wat intussen tot Bloemhof herdoop is. Op een van die besonderse foto’s in die gedenkboek sit sy in haar kantoor in die Ryneveldstraatgebou wat die skool in 1907 betrek het, inkpotjie en vasie met blomme voor haar op die lessenaar, hekellappie op die plantstaander, alles fyn en vroulik. Maar haar houding en oogopslag sê hier is nie ’n vrou wat jy ligtelik durf opneem nie. Groot veranderinge vind tydens haar hoofskap van 25 jaar plaas. Denneoord Onderwyskollege word in 1920 as dogterinrigting geopen en voortaan sou Bloemhof nie meer onderwyseresse oplei nie. Net voor haar aftrede word Afrikaans in 1921 die skool se voertaal.

Diep Spore

Elke skoolhoof het deur die jare onuitwisbare spore nagelaat. Die knap en intellektuele May le Roux se taak was om Bloemhof volledig te verafrikaans en die skool deur die moeilike depressiejare te lei. Die jong Walla van der Walt wat in 1934 by haar oorneem, kry dit reg om die skool se goeie naam tot buite die landsgrense te laat weerklink. Sy spits haar op die breë opvoedingstaak toe, met praatjies deur kundiges oor wetenskap, musiek en kuns, en begin Bloemhof se indrukwekkende kunsversameling.

Links: Walla van der Walt steek kersies aan om Bloemhof se 75ste verjaardag te vier. Regs: Miss Lucie Joubert, die eerste Afrikaanse hoof, in haar kantoor.

Louisa Swart wat Walla in 1955 opvolg, is eweneens ’n formidabele vrou. Sy dra haar deel by tot die beplanning en ingebruikneming van die nuwe skool in Krigeville, maak van die tuin ’n klein paradys en besiel leerlinge met haar botaniese kennis.

Elize Coetzee wat in 1964 skoolhoof word blaas nuwe energie in die skool wat die volgende jaar ’n eeu oud word. Sy voer nuwe skooldrag in, stel die huisstelsel in, is die besieling agter die Kersprogram in die Moederkerk en speel ’n groot rol in onderwysverenigings. Dit is ook weer ’n onstuimige tyd in die land se geskiedenis toe Louise Barrie in 1985 skoolhoof word – en ook die skool ervaar beroering. Die hele onderwysstelsel het op die drumpel van onomkeerbare verandering gestaan en in 1992 word Bloemhof vir alle rasse oopgestel.

Onder leiding van Sanette Nowers wat in 1994 skoolhoof word, betree die skool ’n belangrike tydvak.

Sanette is ’n opvoedkundige in elke vesel en hou Bloemhof op die voorpunt van prestasies op akademiese sowel as sport- en kultuurfront. Die leerdertal styg van net 189 tot 700 in die jaar toe sy aftree.

Links: Onder Wilna van Heerden is Bloemhof aangewys as die beste kwintiel-5 skool in die land. Regs: Sanette Nowers het as skoolhoof ’n ommekeer gebring en die skool se leerdertal het dramaties toegeneem.

Wilna van Heerden se naam het in die dertig jaar dat sy by Bloemhof was (eers as adjunkhoof, sedert 2010 as hoof) sinoniem geword met Bloemhof. Sy bring nie net vernuwing nie, maar ook verdieping. Erkenning van Bloemhof as Skool van Uitnemendheid bly nie uit nie. Haar belangrikste bydrae beskou sy self as die omvorming van Bloemhof tot ’n waardesgedrewe skool.

Soveel van die duisende jong meisies wat as Bloemhof se “bloemen” die wêreld kon aandurf kan van die skool se invloed op hul lewens getuig.

Oudleerling Lisa Lubbe skryf uit die buiteland aan die huidige leerders: “Die manier van praat, doen, dink en probleemoplossing wat julle geleer word, is goed genoeg om julle na die toppunt te neem in enige posisie en op enige plek in die wêreld.” So was dit van Bloemhof se stigting af.

Voorlopers

Onder die voorlopers wat by Bloemhof op skool was, was vroue soos Lydia van Niekerk, die eerste vrou wat professor aan die Universiteit Stellenbosch (US) geword het, Lulu Latsky, die eerste vrou wat ’n doktorsgraad aan die US ontvang het, en Maria Fismer wat die eerste professor aan die US se musiekskool geword het. Hul invloed strek ook verder as Stellenbosch: Anna de Villiers is die eerste vrou in Suid-Afrika wat prinsipale word van ’n tersiêre instelling (Hugenote-Universiteitskollege) en Tobie Muller die eerste vroulike professor aan ’n mediese skool (Tuks). Onderskeidings bly nie uit nie: Malie Smuts word die eerste vrou wat Onderstepoort se Theilermedalje as topstudent ontvang en in 2009 word Esthea Kruger die eerste musiekstudent wat die US se Kanseliersmedalje wen.

Prof. Lydia van Niekerk, die eerste vrou wat in ’n hoogleraarspos by die US aangestel is. Dr. Tobie Muller, die eerste vroueprofesssor aan ’n mediese skool.

Dis nie net in die akademie dat oud- Bloemhoffers uitblink nie. Marlene van Niekerk, wat ook die US se Kanseliersmedalje ontvang het, verwerf internasionale aansien as skrywer en digter. Die kunstenaar Marlene Dumas verwerf wêreldroem. Een van haar kunswerke is in Mei vanjaar vir $13,6 miljoen (rofweg R246 miljoen) verkoop. Dit is ’n nuwe rekord vir ’n lewende vroulike kunstenaar. Ook op sportgebied ding Bloemhoffers met groot sukses mee en verwerf kleure op provinsiale, nasionale en internasionale vlak. Mari Rabie behaal ’n uitsonderlike prestasie. Sy is ’n Rhodesbeurshouer én neem by twee Olimpiese Speles (2008 en 2016) aan driekamp deel. By die 2024-Olimpiese Spele in Parys is daar nie minder nie as twee Bloemhoffers betrokke: driekampatleet Vicky van der Merwe en hokkieskeidsregter Wanri Venter.

Maar Bloemhof is soveel meer as sy uitblinkers; dit is ’n lewende monument vir elkeen wat die waarde van uitnemende onderwys uitgeleef het en steeds nastreef.

Van die Ou Skool…

Van die geboue waar die eerste geslagte Bloemhoffers skoolgegaan het, het behoue gebly as deel van Stellenbosch se argitektoniese erfenis. Die mooi klein Victoriaanse gebou, die Stellenbosch

Gimnasium, Dorpstraat 120, waar die eerste skool gevestig is, staan steeds trots sy plek naas ander historiese geboue vol. Die tweede skool in Kerkstraat, ’n dubbelverdieping- Kaaps-Georgiaanse gebou is ongelukkig gesloop, maar die derde skool, die treffende gebou in die Vlaamse Renaissance-styl in Ryneveldstraat, huisves nou die Stellenbosch Universiteitsmuseum.

Bloemhof 150 Jaar-Gedenkboek

Die Bloemhof 150 jaar-gedenkboek is op 11 Maart vanjaar in die ou Bloemhofskool in Ryneveldstraat bekendgestel. Die boek, saamgestel en uitgegee deur Tip Africa Publishing, bied ’n treffende blik op die skool se geskiedenis, geslagte van oud-Bloemhoffers en prestasies oor die afgelope 15 dekades. Dié glansboek is teen R750 te koop. Klik hier vir die bestelvorm van dié besondere gedenkboek.