fbpx

Uit ons argiewe: Drie vroue aan die voorpunt

’n Reeks dramatiese orgaanoorplantings in Kaapstad het onlangs die kollig laat val op drie chirurge wat almal baanbrekers – en internasionale leiers – op hul gebied is. Maar dit het Elmi Muller, Susan Vosloo en Elmin Steyn soms koppe stamp gekos om te kom waar hulle vandag is, vertel MARÍ HUDSON.

prof. Elmi Muller, dr. Susan Vosloo en prof. Elmin Steyn
Van links na regs: prof. Elmi Muller, dr. Susan Vosloo en prof. Elmin Steyn

Dit was sop gepas: 50 jaar nadat Chris Barnard die wêreld se eerste hartoorplanting uitgevoer het, word daar op een dag in Kaapstad tegelykertyd drie oorplantings gedoen – dít te midde van die grootste tekort aan skenkerorgane in twee dekades. Die dag daarna volg nog ’n orgaanoorplanting. En al dié lewensveranderende en lewensreddende operasies was te danke aan één mens wat genoeg omgegee het om voor sy heengaan te bepaal dat sy organe gebruik kan word om ander se lewe te verleng…

Sou jy op Woensdagmiddag 14 Junie 2017 by enigeen van die drie betrokke operasieteaters inloer, sou jy van die wêreld se voorste oorplantingchirurge in diepe konsentrasie aan die werk sien, drie vroue wat elkeen op haar eie terrein reeds verskeie grense verskuif het.

In Teater Vier van die Christiaan Barnard-Gedenkhospitaal was dr. Susan Vosloo besig om die skenkerhart in die borskas van ’n langafstandswemmer oor te plant. Twee deure verder het prof. Elmin Steyn in Teater Twee ’n nieroorplanting uitgevoer. En in die Netcare UK Privaat Akademiese Hospitaal – die privaat vleuel van die Groote Schuur-hospitaal – is dieselfde skenker se lewer terselfdertyd deur prof. Elmi Muller oorgeplant. Elders in Groote Schuur het nog ’n pasiënt op die tweede nier gewag, en Elmi sou die volgende oggend sy operasie behartig. 

Susan, Elmin en Elmi is vandag al drie wêreldleiers op die gebied van orgaanoorplanting, en elkeen is uit eie reg ’n baanbreker wat van jongs af daaraan gewoond was om operasies aan te durf waarvoor ander artse nie kans gesien het nie. Hul dryfveer was nog altyd in die eerste plek die nood van die pasiënt, en min dinge (of mense) kon in hul pad staan as hulle eers besluit het om iets aan daardie nood te doen.

Prof. Elmi Muller
Prof. Elmi Muller

Prof. Elmi Muller, vegter vir MIV-regte

Prof. Elmi Muller, hoof van chirurgie by die Universiteit van Kaapstad en dus ook aan die hoof van die lewer- en nieroorplanting­spanne van die Groote Schuur-hospitaal, het eweneens in 2008 ’n klein opskudding in mediese kringe veroorsaak. Sy het die eerste chirurg ter wêreld geword wat niere van MIV-positiewe skenkers in MIV-positiewe ontvangers oorgeplant het. 

“Daar was baie MIV-positiewe nierpasiënte in die hospitaal, en ook baie MIV-positiewe skenkers wie se organe nie vir ander ontvangers gebruik kon word nie. Moderne medikasie het vigs van ’n terminale siekte in ’n chroniese siekte verander en dié pasiënte kon gehelp word – maar hulle is nie. Moes ek dit net ignoreer?”

Die internasionale mediese gemeenskap het ook terdeë kennis geneem van Elmi se grensverskuiwende aanslag toe die hoog aangeskrewe mediese joernaal The Lancet in 2012 ’n spesiale artikel aan haar gewy het met die titel ‘Elmi Muller, bending rules, changing guidelines, making history’. Danksy haar dink die Suid-Afrikaanse mediese establishment nou heeltemal anders oor orgaanoorplantings op MIV-positiewe pasiënte. 

Hoe word ek ’n orgaanskenker?

Geen mediese ondersoek is nodig nie en dit kos net mooi niks. Of jy jonk of oud is, siek of gesond  – daar is geen beperking op wie ’n skenker mag wees nie. Die dokters en oorplantingspan sal uiteindelik ná jou dood op grond van mediese redes besluit of jou organe geskik vir oorplanting is.

Jy ontvang ’n plakker wat aandui  jy is ’n skenker. Plak dit in jou ID-boek of op jou rybewys. Dis ook belangrik dat jy jou familie van jou besluit in kennis stel.

Die artikel het oorspronklik in Stellenbosch Visio se lente-uitgawe van 2017 verskyn.