‘n Bruid uit die Randjies

Vervlietend soos die dae van ons jare mag wees, weet DOMINIQUE BOTHA steeds dat haar herinneringe aan vervloë Kersfeeste op die plaas so vas staan soos ’n kliphuis tussen rooigras.

NÁ DIE GROOT TREK was daar die Groot Stilstaan. Ons patriarg het sy osse laat uitspan op ’n heuwel langs ’n fontein waar bruin hiënas snags kom drink het. Die oumense het hulle wolwe genoem, daarom die plaasnaam Wolwekop. Hy het ’n huis van klip gebou, omring deur ’n genade van rooigras en vleie, en dit was aand en dit was môre.

Meer as twaalf seuns, en jy kon ’n nuwe plaas uitry. So het Leeukuil in die familie gekom, maar die laaste leeu is doodgeskiet lank voor die eerste Kakies deur die linies gebars het om te smeek vir water. Ons land van wilde heuning en komme Melkweg smôrens afgeroom tot anderkant Vredefort se koepel. Daar het Pa vir hom ’n bruid uit die rantjies gaan haal.

Sy is mooi en maak gemmerbier en smag na iets anders as hier. Sy skilder en lees Russiese letterkunde en noem haar jongste opslagbaba na die digter Osip Mandelstam se vrou, Nadeshda. Dit beteken hoop.

Hoop en skuld. Dit is al wat op ’n plaas groei, sê Pa – totdat die wolke begin saampak. Ná die eerste reën plant hy en sy manne van vroegdag tot laat in die nag. Op die sestiende Desember laat weet die buurman die polisie dat Pa se trekkers op die lande loop. Op Geloftedag. Pa voel vere. Ons Voortrekker was by Bloedrivier. Niemand vertel vir Pa hy hoort nie hier nie.

Ma en Martha en Selina versuiker grondboontjies en lê kwepers in en hang nat biltong in die meelkamer op agter ’n sifdeur wat toeklap om die katte uit te hou wat aanhou vermenigvuldig soos ons kinders. La Bohème word kliphard oor en oor op die Bang & Olufsen gespeel totdat die naald uiteindelik sotto voce oor die langspeelplaat se uitgeholde groewe gly.

Toe Ma ophou smeek en begin raas, stuur Pa sy voorman, Awie, om ’n denneboom af te saag en in die ingangsportaal staan te maak. Awie drink vier suikers in sy koffie en vertel vir Ma hy het laas jaar vir sy dogter rolskaatse gekoop wat reeds te klein is. En vir sy vrou ’n elektriese kombers wat sedertdien ontplof het.

Die reuk van dennenaalde en harpuis omtower die huis.

Versierings word uitgehaal. ’n Gekerfde takbok wat ’n slee sleep. Houtkaboutertjies met geel hare en rooi wangetjies. Balletjies gedoop in blinkertjies.

Ons ry Klerksdorp toe om swiets en roomys te koop vir die plaasskool se kinders wat dit bakhand en vreugdevol ontvang. Teen hul klaskamermuur is ’n plakkaat van ’n slang wat uit ’n smeulende konka kronkel. ’n Vermaning. Geslote ruimtes vergiftig. Maar hoe anders om die tokkelossie uit te hou?

Vir die wit kinders hou die Rotariërs Kerspartytjie by die gholfbaan. Die bier vloei terwyl die son sak en die grootmense lag al hoe harder. Boetie is nog klein en skrik vir “Krader Vismus” met sy groot boepens en wattebaard, en ons is snot en trane weg sonder ’n speelgoedtrekker of winkelpop.

Sedert die Muur geval het, stroom musikante uit Oos-Europa na ontvanklike gehore diep op die platteland van ’n ruwe beloofde land. Ma reël ’n Kerssoirée en nooi die kontrei se mense. Daar is sjerrie en gemmerkoekies met geglasuurde kersies en mans met rooigebrande gesigte en hul goed versorgde vrouens en kinders by dosyne en tussenin die opgewonde kolliehonde. Die jonges sit op die trappe in die dubbelverdieping-ingangsportaal, elk met ’n kers in die hand. Paul skroei aspris Francesca se vlegselpunte en nou wag ’n pak slae vir hom onder die Kersboom.

Ma het afskrifte van die program laat maak. Classical guitar, a selection of favourites. Die musikant lyk soos ’n olieverfskildery van Jesus. Ná die eerste akkoord sit almal doodstil. Sy hande is soos vlerke wat die glyvensters oplig en die geur van lemoenbome en marmervars fonteine uit Andalusië stroom ons voorhuis binne. Die musiek lig my kop vir die eerste keer oor die horison van die plaas, en ek begin verlang na plekke wat nie bestaan nie.

Vir die encore haal die kitaarspeler ’n lewendige perd uit die snare. Ná die laaste geplukte note wegsterf, trommel hy met sy vingerpunte oor die kitaar se buik. Soos dae wat galop oor die rante. Verby vervloë vleie. Deur rooigrasleegtes. Dit was aand en dit was môre.

En ons plek ken ons nie meer nie.

Dominique Botha het op die plaas Rietpan
in die Vrystaat grootgeword en haar kindertydse ervarings oefen ’n onuitwisbare invloed op haar skryfwerk uit.