Dit is altyd somer êrens

Dis op ’n Italiaanse eiland dat DOMINIQUE BOTHA weer die tydlose essensie van somer ervaar en verstaan.

Soos sy mense is die suide van Italië se plante taai en pronkerig. Sambreeldenne drom saam en onderskep die seewind. Bougainvillea skop uit soos ’n Spaanse danseres. Selonsroosstruike gee voor om bome te wees.

“My mother is very terrorist,” sê Salvatore, ’n blas laventelhaan wat ons haastig van die lughawe na die hotel in Sirakuse karwei, sodat hy betyds vir die Sondagmaal aan tafel by sy moeder kan wees. Die Oedipuskompleks is in Sisilië makgemaak en elke ma is onomstootlik die godin van haar seuns.

Tweeduisend jaar gelede was die suide van Italië ‘Griekeland‐Wes’ en Sirakuse die hoofstad. Hier het Archimedes kaal uit die bad gespring, met wiskundige insigte wat deur die eeue weergalm het tot in Griekwaland‐Wes se mielielande, waar my pa die berekeninge met ’n stomp potlood op die agterkant van sy sigrêtboks kon toepas.

Een van Pa se vele hartsbegeertes is om die geboorteplek van Archimedes te besoek. Hier is ons dus nou, op pad na die stad van die genie Archimedes en die tiran Dionisius. Saam met die tiran van Rietpan. Ma se rug is te seer om agter bouvalle aan te stap maar mooi winkels bring verligting. My dogter is ook by. Op een‐en‐twintig lyk sy soos Brigitte Bardot, maar sy gedra haar soos Casper de Vries. Op die ouderdom van vyftig verstaan ek uiteindelik die evangelie van Johannes. God is Liefde. Of ten minste Geduld.

Die suide van Italië lê op ’n gordel van gesmelte rots. Bedags borrel rook uit Stromboli se kern, en snags spuug sy vuur. ’n Nog groter vulkaan oorkant die baai dryf gereeld die druiweboere na die naaste kerkie om vir genade te bid. Aardbewings, soos mooi meisies, is ’n algemene verskynsel.

Die woestynwind wat uit die Sahara waai maak mens dankbaar dat die taxi se lugverkoeling werk. Elke tweede kar is ’n skedonk vol duike. Om ons ontvou ’n spaghetti van landskap‐onterende hoofweë sonder afdraaie. Ook sambreeldenne, Griekse tempels, boorde amandel‐ en bloedlemoenbome en Homerus se wyndonker see, wat eintlik blou is.

Ek vermoed Pa wil heimlik bevestig of die Griekse boumetodes van weleer aan sy hoë standaarde voldoen. Die tiran van Rietpan,

‘n van Pa se vele hartsbegeertes is om die geboorteplek van Archimedes te besoek. Hier is ons dus nou, op pad na die stad van die genie Archimedes en die tiran Dionisius. Saam met die tiran van Rietpan. Ma se rug is te seer om agter bouvalle aan te stap maar mooi winkels bring verligting. My dogter is ook by. Op een‐en‐twintig lyk sy soos Brigitte Bardot, maar sy gedra haar soos Casper de Vries. Op die ouderdom van vyftig verstaan ek uiteindelik die evangelie van Johannes. God is Liefde. Of ten minste Geduld.

Die tiran van rietpan met sy dogter en die vrou in die vallei van temples buite Agrigento. Selfs ons geliefde Tiran moes uiteindelik teen die somerhitte die stryd gewonne gee.

Die woestynwind wat uit die Sahara waai maak mens dankbaar dat die taxi se lugverkoeling werk. Elke tweede kar is ’n skedonk vol duike. Om ons ontvou ’n spaghetti van landskap‐onterende hoofweë sonder afdraaie. Ook sambreeldenne, Griekse tempels, boorde amandel‐ en bloedlemoenbome en Homerus se wyndonker see, wat eintlik blou is.

Ek vermoed Pa wil heimlik bevestig of die Griekse boumetodes van weleer aan sy hoë standaarde voldoen. Die tiran van Rietpan, stokoud maar onoorwonne, is soos hoop. Hy beskaam nie en gluur uit die kar na die gestroopte koringlande: “’n Kaal landery is soos ’n kaal vrou op die strand. Dis mooi, maar dis verkeerd.”

Skielik word die pad versper deur ’n herder wat uit die voorgeskiedenis met sy trop bokke aangestap kom, asof Homerus nog op pad is. Die hele eiland was eens ’n reusewoud voor Romeinse invallers die bome afgesaag het om oorlogskepe te bou. Later bring die Moslems literatuur, leivore en lemoene. Nog later, die Vikings rooi hare en blou oë, en daarna die Bourbons hoepelrokke en barokargitektuur. Elke dan en wan bring vulkaniese uitbarstings en aardbewings volslae verwoesting. Hier hardloop klein jakkalsies al duisende jare met brandende sterte deur die wingerde. Dit maak die mense gelate.

“In Sicily we have the problem of mentality,” sê Salvatore. “We have so much riches, so why is Sicily poor?” Dan verhelder ons taxifilosoof se gesig, seker by die gedagte aan die noenmaal wat by sy ma se huis op hom wag. “But we are rich inside.”

Volgens legende het Zeus se skelmpie na Sisilië gevlug om die toorn van sy gade Hera te ontsnap. Zeus en Hera was broer en suster, asook man en vrou.

Sirakuse is die eerste plek waar die Grieke in Sisilië aan wal gekom het. ’n Vesting ontvang in owerspel en bloedskande, tussen vulkane, sonbesies en vlootblou strome.

Ons hotel in die stad van die rokkejagter en sy wraaksugtige susterbruid is versteek in ’n labirint van selonsroosverfraaide stegies. Ma, Pa, ek en dogter peul uit die taxi soos die vier winde wat elkeen ’n naam het.

Wanneer die branders uit Griekeland se rigting aangerol kom, word die wind El Greco genoem, uit Libië die Libeccio, uit die Sahara die Sirocco. Uit die noorde die Maestrale.

Ligte golwe wat opbou, en dan verbrokkel. Soos die see, so ook die samelewing, volgens argeoloë wat met potskerwe uit antieke ashope goël. Op die kruin van welvaart is die breekware bont, in die trog van terugslae is die erdewerk eenvoudig. Die kadens van beskawing is ’n siklus van sopbekers.

Ná die lang sit wil Pa dadelik iets hê om te drink. By die restaurant binne loopafstand van die straat waar Eureka! weergalm het, bestel ons Bellini’s en vinnig weer ’n tweede ronde. ’n Perske‐ en‐prosecco‐elikser waarin selfs die vae verlange na mense wat jy nog nooit eers ontmoet het nie opgelos kan word in ’n lang, lui bel canto skemer.

Voor ons paradeer die mensdom verby. Miljoenêrs in espadrilles met duur seiljagte en ingroeitoonnaels. Hera en haar dogters wat roomys verkoop. Elke dan en wan ’n jong Zeus wat sy dwalende oë op my dogter laat rus.

“In order for everything to stay the same, everything has to change,” skryf Giuseppe di Lampedusa in The Leopard, sy groot roman oor Sisilië. Die essensiële bly egter onveranderd. ’n Distillaat van wine, women and song, en kinders, kerk en kos. Saluté.

Die Italianers weet hoe om te lewe.

Dominique Botha het op ’n familieplaas in die Vrystaat grootgeword, en woon tans in die Dwarsriviervallei buite Stellenbosch. Haar debuutroman, Valsrivier, uitgegee deur Umuzi Random House, is onder andere bekroon met die Eugène Maraisprys. In 2023 word aan haar tweetalige bundel, Donkerberg/Bloodwood, die Ingrid Jonker-prys vir poësie toegeken.