In die voorjaar wag daar nuwe wêrelde op feesgangers, met die Toyota
Stellenbosch Woordfees 2024 wat belowe dit gaan heeltyd speeltyd wees.
Die Totota Stellenbosch Woordfees hou weer heerlike lente met meer as 400 ongeëwenaarde aanbiedings in nagenoeg 60 venues in en om die Eikestad: van die danser Gregory Maqoma se vaarweloptrede en ’n regte-egte Picasso in die vertoonkas, tot verkwikkende staptoere rondom die Bos – van die hart van die fees in Ryneveldstraat af tot in die Middedorp, óm die Braak en deur Idasvallei.
Daar is 12 afdelings op die program: die EasyEquities Skrywersfees, Visuele kuns, Klassieke musiek, Diskoers, Toyota Musiekfees, Komedie, Leefstyl, Filmfees, Dans, Toneel, Kinderfees en die WOW-fees.
Vanjaar se feestema is Speel, “wat nuwe moontlikhede ontsluit, wêrelde ontdek, en jou op onontginde plekke plaas waar jy net spontaan in die oomblik kan wees,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees.
“Om te kan speel, moet jy die pause-knoppie druk – halfgebak speel, is kroek. Speel vra totale oorgawe, verbeelding, en gewoonlik maats. Speel is ’n dans met die werklikheid, van ’n wêreld wat is, maar ook ’n wêreld wat word. Waar ander reëls geld, waar die onmoontlike haalbaar en selfs moeiteloos word.”
SPEELSHEID EN SPONTANEÏTEIT IN KUNSKYK
Die feeskunstenaar vir 2024 is die skilder en kleibeeldhouer Marlene Steyn. Haar benadering en kuns laat weergalm die feestema in die helder kleure, fantasie en vindingryke vorms waarmee sy droomagtige landskappe optower. Haar werk moedig ook waarnemers aan om hulle te verlustig in ’n eie speelsheid waarvan hulle dikwels nie eens bewus was nie. Sy bied vir die duur van die fees ’n uitstalling aan van haar werke wat al by verskeie versamelings en onlangse uitstallings ingesluit is, soos Home Bodies by die SMAC-galery op Stellenbosch en NON‑PLACES in die Powerlong-kunssentrum in Shanghai, China. Die uitstalling vind in die US Museum plaas en Marlene neem op 2 Oktober ook aan ’n gesprek oor haar werk deel in die US Museum-anneks.
Later is sy weer in aksie in Breath Of Gaia: Exhibition And Fashion Show, waarin sy en die ontwerper Lezanne Viviers mode deur die lens van uitvoerkuns verken.
In Picasso, Pinotage And Piano: A Sunset Celebration of Art, Music and Wine vang die sangeres Karen Petersen in ’n toonsetting die tentoonstelling van ’n outentieke Picasso in die Oude Leeskamer vas.
SPEELKAMERSESSIES MET BERTUS BASSON
Die stersjef Bertus Basson, bekend om TV-reekse soos In die sop, Ultimate Braaimaster en Kokkedoor, bied weer sy gewilde speelkamersessies aan. Kom beleef ’n kookdemonstrasie in sy hoogaangeskrewe Eike-restaurant waar hy spesialiseer in eg Suid-Afrikaanse geregte met ’n kreatiewe kinkel. Gaste sit ná die demonstrasie ook aan by ’n heerlike feestafel. Kaartjies na dié sessies kos R1 300. Vroegtydige besprekings word aangeraai.
Die Idasvalleigemeenskap bied ’n spesiale staptoer deur hul historiese, kultuurryke én biodiverse woonbuurt op Stellenbosch aan saam met die Walking by Faith Ladies. Gaste word verwelkom met koffie en tuisgemaakte koesisters of roosterkoek, waarna die toergids deelnemers meer vertel oor dié eiesoortige buurt en natuurgebied. Elkeen kry ’n inheemse boom om te plant in die natuurgebied wat deel vorm van die Idasvallei-gemeenskapsroete, deur die Wêreld Ekonomiese Forum as ’n top-innovasieprogram aangewys.
BEELDHOU IN DIE BEELDSKOON
’n Magiese natuurervaring wag in die Dylan Lewis-beeldetuin, waar 60 werke van dié beeldhouer ten toon gestel word. Hanlé Hill begelei ’n tuinwandeling met toegang tot kuns, ateljees en tuine. Let wel, die tuinpaadjies is ongelyk en met los gruis bedek, en dus gevaarlik vir diegene wat moeilik stap. Daar is geen parkeerplek by die tuin nie; gaste vertrek om 09:00 en 14:30 – ’n halfuur voor elke toer – per bussie van die Kochstraat-pendeldienshalte af.
DIE BESTE PLEK OM DIE BAL AAN ROL TE SIT – AAN DIE LANGTAFEL
Tussen die pragtige ou geboue van Ryneveldstraat word die Langtafel weer onder die bottende eike gedek – met feestelike kos en gesellige gaste wat glasies klink. Vanjaar verskaf kinkelkok Johnny Hamman die aand se spesiale spyskaart, wat alles oor kole voorberei word. Bespreek vroegtydig jou plek aan dié geliefde tafel.
Kaartjies na die Langtafel kos R1 200, met ’n afslagprys van R1 000 as jy voor 1 Augustus jou plek bespreek. Dit sluit ’n driegangete in en gaste word begroet met ’n glas wyn of borrels met die komplimente van Alto-wynlandgoed, Blaauwklippen, Dorp St Wine en Spier van die Stellenbosch-wynroetes.
Daar is 30 ander aanbiedings op die Leefstylprogram waarmee jy jou lewenslus kan verfris. Jy kan gaan stap, draf, twee-in-een kry met tuin-en-kuns-kyk, kookdemonstrasies bywoon, argitektuurtoere meemaak en alles proe en geniet wat die Wynlande en die Eikestad se koskultuur bied. Stellenbosch is ’n skatkis vol stories wat dikwels uit die dorp se interessante ou geboue opgediep kan word. Die kultuurhistorikus, Matilda Burden, sal jou met nuwe oë na die hart van die Eikestad laat kyk met staptoere na die dorp se argitektoniese juwele. Twee roetes word op alternatiewe dae aangebied, naamlik ’n verkenning van die middedorp en ’n wandeling om die Braak.
Albei toere vertrek van die Erfurthuis in Ryneveldstraat.
KLEURGLASVENSTERS
Die orrelis Zorada Temmingh van die Stellenbosse Moederkerk bied nuwe, verrassende interpretasiemoontlikhede van die simboliek van dié gebou se kleurglasvensters – veel meer as dít wat opgeteken is sedert die installasie van die eerste vensters byna 50 jaar gelede.
Oor son en sterre, duiwe en druiwe, visse en vlamme, windpomp en weerlig, kandelaar en kers – watter verhaal fluister die kleurglasvensters van die Moederkerk? Kuns in openbare ruimtes, kenmerkend van Stellenbosch se ryke kultuuromge- wing, kan ook te voet verken word.
Pule Dhoti en Hanlé Hill bied Kuns op straat aan, waar die besigtiging van wêreldbekende kunstenaars se handewerk nie beperk word tot die binnekant van geboue nie; dit kan deur almal op ons sypaadjies en in ons parke waardeer
word – gratis. Op dié begeleide toer sien jy beelde van nader en hoor meer oor
die agtergrond van elke werk waarby ’n mens so dikwels net verbystap.
Langs die Eersterivier kan jy ’n gratis sonsondergangstaptoer geniet op die pasgeopende Stellenbosch-kunsmyl, waar kreatiwiteit en natuur dinamies saamvloei. Die kunsmyl se 2024-’25-uitstalling,
Tapyt van tyd, word saamgestel deur Clara Babette. Gevierde kunstenaars
se werk besin oor die uitgestrekte geologiese tydperke wat die omliggende landskap gevorm het, sowel as oor die historiese ontwikkeling van Stellenbosch. Die staptoer begin by Eerste Kafee in Suidwalstraat. RSG-omroepers Martelize Brink en Johan Rademan saai Driesestig weer regstreeks uit by Die Khaya-kafee om jou op die hoogte van sake te hou. Hulle gesels met mense wat ’n verskil maak en ’n interessante storie het om te vertel. Kom gesels gratis saam.
AANDAG KUNSVERSAMELAARS – GROOT ÉN KLEIN
Die jaarlikse kunsuitstalling en -veiling van die Toyota Stellenbosch Woordfees, in samewerking met Strauss & Co, vind vir die duur van die fees in die Stellenbosse stadsaal plaas.
Teresa Lizamore is die kurator van die uitstalling. Die kunswerke waarop vanjaar gebie kan word, sluit werke in van gevestigde én opkomende kunstenaars. Bieërs kan op hul persoonlike toestel aanlyn in die stadsaal bie óf van enige ander plek af.
Die res van die kunsprogram is op woordfees.co.za beskikbaar waar ’n PDF van die volledige feesgids in Afrikaans en Engels afgelaai kan word. Besoek gerus ook die webwerf om te sien watter produksies bekendes opgewonde maak.
Die gedrukte feesgids is gratis by die Woordfeeskantoor in die Erfurthuis (Ryneveldstraat 37, Stellenbosch) te kry en ook by verskeie biblioteke, boekwinkels, toeristeburo’s en gastehuise in die Wes-Kaap. Kaartjies is by Quicket te koop. V