fbpx

Die Woestyn

Die ongenaakbare landskap waardeur die pad na Lüderitz strek, het LIEN BOTHA in verwondering gehad toe sy ná jare ’n kinderdroom van ’n ekspedisie na Suidwes-Afrika waar gemaak het.

TYDENS ONS KINDERJARE is daar dikwels gedroom van ’n reis na Suidwes-Afrika. Jaar in en jaar uit is beloftes gemaak en fabelagtige taferele geskets oor die voorgenome ekspedisie. Later is selfs ons Duitse bure by die beplanning betrek. Saam met die Aust-kinders het ons opgewonde geraak en gefantaseer oor avonture na die aangrensende woestynland. Daar is bespiegel oor Plumpudding Eiland, Etosha se vlieënde springbokke, Hererovroue met rondomtalierokke, en verlore skepe aan die Skedelkus. Mettertyd is die kaarte egter weggebêre tussen die vergete legendes van Haitsi Aibeb.

Jare later, nádat die land as Namibië onafhanklikheid gekry het, kon ek uiteindelik ’n fragment van die eens gekoesterde reis beplan saam met ’n man wat drome verstaan. Ons motor, ’n Opel Kadett, was allermins die ideale woestynvoertuig en gevolglik is ’n besadigde roete beplan.

Lüderitz dus, al met die N7, deur Springbok, dan na Steinkopf, en oor die grens by Vioolsdrift, al nader aan ’n deel van die kinderdroom. Die waterlose wêreld het ons in verwondering. Ons draai af om klippe op te tel of ons aan die eindelose hemelruim te vergaap.

Sowat vyftien kilometer voor Lüderitz stop ons langs die pad om die verlate woestyndorp Kolmanskop, wat in die verte skim, te besigtig. Dit is ’n spergebied en ons lees op die kennisgewingbord ’n permit word benodig, maar wat-wou, ons kruip deur die draad en begin luier na die verwese strukture waar sand alles gereduseer het tot ’n primordiale ruimte met een oorweldigende gevoel van eensaamheid. Teen die tyd wat ons oor die duine terugstoom na die motor, sien ons ’n kwadfiets op ons afpyl. Ons laat waai vir die draad, betyds woeps ons onderdeur en skiet vort, in die rigting van Lüderitz.

Asof in ’n hallusinasie, wandel ons deur strate waar die Duitse invloed op vele keistene manifesteer: Lubecker, Woermann, Hafen, Vogelsand en Nachtigal.

Deur die nag, ons lywe suf van die myle (kilometers?) agter ons, hoor ons die gerusstellende misklok wat op die water naby ons dobber. Diep in die oggendure is mens nie seker wát begogeling en wát realiteit is nie.

Douvoordag is ons wakker en gereed om verder te ontdek. Lentelig toor die koloniale argitektuur in kleure van blou, geel en oranje en laat mens verwonderd voor die Duitse Victoriana se spindels, torings, en dekoratiewe houthandwerk. Gemmerbroodhuise, wat so vêr en vreemd tot uiting gekom het om aan die ongenaakbare landskap waar die suidwestelike deel van Afrika afplat na die Atlantiese oseaan ’n surrealistiese atmosfeer te gee. Dit voel kompleet asof die strukture gaan verdwyn as jy daaraan sou raak. Ons stap in straatjies op en af, verby Felsen-kirche (die Evangeliese Lutherse kerk) bo-op ’n heuwel, en dan wentel ons langs Diamantberg na die swierige Goerke Haus wat in 1909 deur die myninspekteur Hans Goerke laat bou is.

Daarna draai ons by die museum – ’n kuriosum – tot stand gebring deur die versameling van Friedrich Eberlanz, ’n Duitser van Witten, wat hom in 1914 in Lüderitz gevestig het. Dié entoesiastiese versamelaar het ’n private herbarium geskep waar sukkulente oorvleuel met reptiele, rare gesteentes en selfs ’n geheimsinnige vroueskelet wat volgens oorlewering verbind word aan Bartolomeus Dias se Angra Pequena.

Ter afsluiting besoek ons Shark Island. Na die area word soms verwys as “Death Island” na aanleiding van die konsentrasiekamp wat tussen die jare 1905 tot 1907 hier geleë was. Vandag is dit deel van die skreiende nalatenskap van die wrede militêre bevelvoerder Lothar von Trotha, onder wie se bewind grootskeepse volkslagting van die Herero- en Namavolke plaasgevind het. Deur die misbank uit die weste, waar die verlede se leed doodskoud teen die rotse ruis, verbeel mens jou die spook van die volksheld en opperhoofman van die Hereros, Samuel Maharero.

Die volgende dag moet ons nach Hause. Hierdie keer neem ons die alternatiewe C13-roete suid, deur Rosh Pinah na Sendelingsdrif se pont, met die plan om via Alexanderbaai en Port Nolloth die huiswaartstog met nog ’n dag of twee te verleng. Terwyl ons met brandstof opvul by Rosh Pinah word ons gewaarsku om voor toemaaktyd by die pont te arriveer “want daar is net mooi boggerol”. Dis voet in die hoek sit terwyl ons onwrikbaar glo die pont sal nog oop wees om ons oor die Oranjerivier te neem. Teen skemer kom ons aan by Sendelingsdrif waar ’n vreemdeling ons meedeel die pont is reeds toe. Verslae staar ons na ons geboorteland oorkant die water. Die volgende skof behoort aan die daglig, maar vir eers is dit ons en die sandspoke van die nag. V


Kamerakunstenaar, woordkunstenaar, liefhebber van bome, blomme, berge, reisiger deur skeppings van mens en natuur, is Lien Botha se oë en gemoed fyn ingestel op alles rondom haar. Dit het onlangs weer neerslag gevind in haar 14de solo-uitstalling, Lost in Translation, en haar tweede roman, Vin.