’n Foto van oeroue motorfietse op ’n vergete Soematraanse straathoek geneem, laat klop KIRBY VAN DER MERWE se hart onverwags warm. Oor dáárdie geluid.

NOU EN DAN verskyn daar op my Faceboek-blad onder ‘Your memories’ iets wat my verras. ’n Lekker herinnering. Soos nou die dag.’n Foto van ’n straattoneel in Soematra tydens ’n maandlange reis deur Indonesië.
Dié reis is nou so lank gelede. Ek onthou die dag heel goed – maar die naam van die dorp ontglip my heeltemal. Dit is op die oog af ’n alledaagse foto van ’n straathoek wat wemel van riksjas of becaks–motorfietse met syspanne geprakseer om ’n mens in relatiewe gemak en met beskutting teen die elemente rond te karwei. Op die voorgrond staan een van die becak-ryers trots langs sy gevaarte en wys na die fabrikaat-embleem op die motorfiets se tenk.
Maar wat’s die plek se naam?
Dis tog waarvoor vriende daar is, ongeag die tyd van die dag of nag. Ek teks terstond ’n vriendin wat haar ’n paar tydsones weg bevind.
Begin darem met “Jammer om te pla!”
“Wat’s die naam van die plek, ’n dorpie in Indonesië, wat krioel het van BSA-motorfietse?” vra ek. “Ons moes daar van een ryding na ’n ander een oorklim en moes toe ’n lang ruk daar in die oopte by ’n halte rondstaan. So ’n vreemde plek vol mans. Dis ver terug se probeer onthou. Groot asb!” Sy teks terug toe dit daar lig word. “Ek mag verkeerd wees, maar ek dink dit was Sipirok. Ons het daar oorgebly omdat dit die naaste dorp was van waar ons met so ’n driewielfietsie na Christian Leipoldt se gemeente gaan soek het. Daarvandaan het ons die Trans-Soematra-bus na Padang gehaal.”
Dit was ’n werkvakansie. Ons twee vriende is saam Indonesië toe. Sy, die reisgids, want sy ken die plek en is vlot in Indonesies. Ek het destyds gespot ek reis g’n alleen deur die gatkant van Soematra nie, want kom ek iets oor daar in die woude, gaan hulle my vir ’n dronkgat local aansien wat deurmekaar praat en bedel. En gaan ek vir jare in vodde verhongerd daar ronddwaal. Sou iets met haar gebeur, besorg hulle die blonde vrou dadelik by die naaste ambassade.
Sy het in Soematra navorsing gaan doen oor C. Louis Leipoldt se pa, die sendingpredikant Christian Leipoldt. Ek, vir ’n koerantartikel en navorsing vir my “Oosterse boek”, wat ek nou ná al die jare eers kans kry om te voltooi. (Ons albei se artikels het verskyn in By, die bylae by Die Burger, Beeld en Die Volksblad.)
Ons het van Singapoer na Medan in Soematra, gevlieg: “Van Medan het ons trein gery tot by Pematangsiantar. Daar het ons ’n bussie gehaal tot op Parapat. Vanaf Parapat ’n boot gehaal tot op die eiland Samosir. Die eiland deurkruis op twee gehuurde motorfietse. Daarna terug Parapat toe van waar ons die bus gehaal het tot by die dorp Bukittinggi
en Sipirok. Ons het ons ’n aand daar oorgebly en toe die bus gehaal na Padang. Vanaf Padang het ons Jakarta toe gevlieg.”
Dit was Pematangsiantar, val dit my by, en die straathoek was die een met die oorheersende gedreun van motorfietse. Die klank van “knalpotte”, soos die becak-drywer die knal uit sy motorfiets se uitlaatpyp beskryf het. Vermenigvuldig sy knalpot met die knalpotte van die motorfietse op die foto en ’n mens kan jou die klank indink,’n spesifieke klank wat mense met die regte oor én oog onmiddellik gaan herken.
Op die oog af is dit ’n klomp oeroue motorfietse, gelap, gehawend en ge-modify om die goed op die pad te hou. Tot jy reg kyk. Elke motorfiets op die foto is ’n BSA. Eintlik die ongelooflikste versameling van die Britse fabrikaat Birmingham Small Arms, vervaardig tussen 1952 en 1954, met enjinkapasiteit van 350cc–500cc, vandaar die kenmerkende klank. En daar in Soematra uitgespreek op Afrikaans-Nederlands: “Bee-Es-Aa”.
Die drywer vat my vir ’n spin met sy blink gepoleerde motorfiets, verchroomde tenk met die BSA-kenteken en al (ek, in die syspan, klou en hoop op die beste). Ek verstaan nie wat hy sê nie, vang hier en daar ’n woord of twee op: “knalpot”, “modify”, “speedo not working” – en toe hy iewers stop en wys na ’n becak bokant hom op ’n pilaar:
‘BSA Sidecar Monument’.
Nou, ek was as jong lat fanaties oor ’n sekere Italiaanse voertuigfabrikaat wat, so kan dié van ons wat hierdie karre besit het getuig, jou bloed warm laat klop, maar jou gaan beproef. Hulle sal jou vertel hoe ver en hoe diep. Ou-ou rygoed, vintage, klassiek of te not, is niemand – selfs nie dié met diep sakke – se speelmaat nie. Dis hoekom ek daardie dag so aangenaam verras was deur dié krioelende knalpotte. Veral toe ek snap dis dieselfde waansin, passie, wat baie van die becak-eienaars so
gedrewe maak om die ou motorfietse op die pad te hou.
Ek kan ’n boek skryf oor alles wat my ou karre my aangedoen het. Maar, ai, ek wens ek het die hele klomp gehou.

Kirby van der Merwe is ’n geswore sakpasreisiger. Altyd gereed om sy rugsak te pak en rof te reis die vreemde in.
Selde vir ontspanning, eerder
as navorsing vir artikels. Hy wil eendag ontspan onder
’n palmboom op ’n wit strand
en by ’n blou see.








