Die Boom Van Kennis Dra ’n Wintervrug

DOMINIQUE BOTHA, ’n Vrystaatse kind wat op die Bolandse plaas Bethlehem kom bly het, beleef hoe seisoen en psige mekaar weerspieël en tot nuwe winterwysheid lei.

Die Klein-Drakensteinberge, gesien vanaf Bethlehemplaas en ‘n Pioniershuisie langs die Valsrivier.

“KRY VIR JOU ’N DIK DJAS,” het die kleinboer wat by ons grond huur gewaarsku toe ek kom huis opsit in die Boland. Dit was in Februarie, wanneer die kraaie tot ná middernag gaap, en die hitte soos ’n vonnis voel.

Asof verdwaal uit ’n Herman Charles Bosman-verhaal, begelei hy my deur sy land Kanaän in keurig gekruide Kaaps. Onder sy vingertoppe floreer krisante en kole en boontjies sonder bolwurm. Hy skryf sy groen vingers toe aan ’n Portugese voorsaat, maar een wat die potloodtoetsers van ouds sou laat kopkrap het. “Ja,” sê hy met ’n lag, “daar is baie melk in my koffie.”

My nuwe tuiste is een van die min Bolandse plase met ’n Bybelse naam. So genoem in die laat sestienhonderds deur die eerste eienaar, ds. Pierre Simond, predikant van die Franse vlugtelinge. Bethlehem. ‘Plek van brood’ in Aramees. Taal van Jesus. Daar is selfs ’n ster van Bethlehem wat die blye tyding van somer in wit klokkies verkondig op stele wat tjienk-tjienk as jy hulle teen mekaar vryf, vandaar die alombekende naam: tjienkerientjees.

Die Noord-Vrystaat in die winter: ’n Plaashuis langs die Valsrivier. ’n Boom afgeëts teen die winterkoue. Plaaskerkhofengel.

Ek moes my nostalgie vir die Hoëveld se donderstorms verleer en ’n nuwe geborgenheid tussen berg en wind karteer. My Vrystaatse komvandaan is so plat soos ’n snoekertafel en Pierneef het die wolke gemaak. Die hond se naam was Wollie, die kat se naam Magriet en somer was ’n C-majeur van sonneblomme. Die naaste wat ons aan berge gekom het, was Switserland op ’n sjokoladeboks, die deksel deur Oupa op Sondae ná middagete plegtig opgelig om ons met een salige soetigheid te seën.

Kosmos was die herfs se bont groetsoentjie in die langkampe, voor die uitgebleikte winter op die wasgoeddraad kom lê het. Pa en sy manne het tot laat in die yskoue nag gestroop om die vragte mielies by die graansuiers te kry. Vir ’n bietjie hitte het die manne om vure in konkas saamgedrom en Boxertwak in koerantpapier gerol.

Ons het onder hul sussende Sotho en gloeiende stompies wegkruipertjie gespeel voor ons huis toe gejaag is en dan doodstil onder winterlakens gaan lê het sodat net jou neus soos ’n klein bevrore spits bo die kombers uitsteek.

In die gang het die vloerplanke gekreun onder die gewig van die begraafplaasengel wat in die gang afskuifel, met haar vlerke wat teen die voorvaderportrette skraap. En dan wil jy van die horries vergaan.

Nuwe Bolandse tuiste in die Dwarsriviervallei: Maartlelies langs ’n wandelpad in Bethlehemplaas se wilde tuin. Herfsbome.

En wanneer jy wakker skrik, is jy skielik grootmens, ’n hele lewe later, op ’n plaas in die Boland, op die randjie van jou eie herfs, verkleur met vae voortekens. Eers kom die Maartlelie, effe geboë en bleek, met haar hals in rooswater gedoop. Dikwels alleen, onder eikebome wat akkers skiet sonder varkies om hulle op te vriet.

’n  Kraanvoëlpaartjie vlieg oor die huis, murmelend stryerig met mekaar. Heilige voël van die Xhosas, gebosseleer op die vyfsentmunt toe jy nog twee Wilsontoffies daarmee kon koop. Dan vang die naald van Simonsberg ’n wollerige wolk en hekel ’n traanvlies oor die vallei.

Aldus die nood vir die dik djas. Tyd om terug te trek en te besin. Soos die eerste eienaar in sy riet-en-modderhuis wat met behulp van Latyn en Hebreeus die Psalms van Dawid in verouderde Frans kon herberym, en uitgegee het as Les Veilles Afriquaines, oftewel ‘Nagwake in Afrika’. Dit word beskou as Suid-Afrika se eerste literêre werk. Hy het ook pleitbriewe om sy gemeente se lot te verlig aan die Here Sewentien gerig. Latyn as maatstaf van geleerdheid het vergaan, maar die spieël tussen seisoen en psige sal herhalend ontstaan. Daar in jou binnetuin word die afguns groen, die kamelias sprokiesrooi en die berge in suikervries getooi. Gesneeuwitjie in waarheid. Die blomme metafoor- swaar by die gedagte aan die derde hond onder die struik begrawe. Die hart is ’n winterdiersterfte, het ons groot digter* mos gesê.

In jou winter pluk jy die pennevrug van die boom van kennis, met hande verknot soos wingerdstok. Skryf is ’n poging om tyd te laat stol, maar die geheue roer nooit dieselfde beslag nie en hermeng die bestanddele sodat jy vir jouself altyd nuwe broodjies kan bak. En hoekom nie? My nuwe plek se naam is mos ‘Plek van brood’. En danksy die Hugenote ook plek van wyn. Carpe Vinum. Seize the wine! – in die immergroen wysheid van Latyn.

*Breyten Breytenbach, “Die hart is ’n winterdiersterfte” uit Katalekte (2012), Human & Rousseau.

Dominique Botha is ’n bekroonde skrywer wat op ’n familieplaas in die Vrystaat grootgeword het en tans in die Dwarsriviervallei buite Stellenbosch woon.