Daniel Naudé se opspraakwekkend reusagtige foto’s van insekte het ’n boeiende aanloop. BIBI SLIPPERS wou by hom weet waar dit alles begin het.

“Om kuns te maak … Jy gaan sit in ’n woonstel, in ’n kamer, alleen. Jy staan op. Nou moet jy begin. Waar begin jy? Waar de hel begin jy?” Daniel Naudé is aan die woord oor sy nuwe reeks werke, Still Life – monumentale foto’s van insekte wat hy as “mikroskopiese dioramas” bestempel. Die werke word in Oktober vir die eerste keer uitgestal as deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees. Die uitnodiging om feeskunstenaar te wees was nét die motivering vir Daniel om hierdie reeks, waaraan hy al byna agt jaar werk, te voltooi. Maar waar begin jy die storie van Still Life vertel? Waar de hel begin jy?
Een begin was tydens Daniel se studentedae aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy kuns studeer het. Kuns was vir hom ’n voor die hand liggende keuse. “My ma is kunstig. Ons is altyd na kunsgoed toe, kuns, kuns, kuns, kuns, kuns. En kuns is makliker as wiskunde. Dis lekkerder ook.”
Hy vertel hoe herstelwerk aan die kunsdepartement se gebou gemaak het dat die kunsstudente ’n jaar lank in die entomologie- departement gehuisves is. Dis hier waar die gogga hom gebyt het om werke te skep wat oor verkenning en ontdekking gaan.

“Elke Maandagoggend kom die entomologiestudente met hul vangnette daar aan, van waar ook al hulle die naweek was om insekte te vang, en hulle is verskriklik opgewonde. Hulle het dié ontdekkings gedoen, dié goed gevang.”
En net daar beland Daniel self in die vangnet!
’n Ander begin was op besoek aan Switserland, waar hy ’n gespesialiseerde Alpa-kamera vir argitektuur gaan koop het. Daniel is ’n man wat maklik vriende maak, en hy raak toe pelle met een van die ouens wat vir Alpa kameras ontwikkel. Dié wil Karoo toe kom om kleinrooivalkies af te neem. Natuurlik bied Daniel aan om hom te help. “En toe sê hy hy kan vir my enigiets van Alpa te lene saambbring, en ek sê ‘I need that microscopic camera …’ Hy’s toe soos, ‘There’s only three of them in the world, but I’ll see what I can do’. Die volgende dag bel hy my en sê hy bring dit vir my, vir nege maande. Ek kan dit gebruik maar ek moet iets tot stand bring.”
Still Life is wat hy tot stand gebring het: reusagtige foto’s van insekte, met die Alpa-kamera in mikroskopiese besonderhede afgeneem, in dioramas wat Daniel self geskep het.
Hy het iets van die verwondering probeer uitbeeld wat die insekkundige prof. Henk Geertsema moes ervaar het toe hy dié insekte dekades gelede gevang het.
VAN HONDE EN HEILIGE BEESTE

Soos in die geval van tradisionele stillewes, waar objekte versigtig opgestel word, het Daniel as kunstenaar belangrike keuses gedoen om die gewenste effek te verkry. Die agtergrond is in olieverf geskilder (iets waarmee sy vriend die skilder Petrus Maree hom gehelp het) en Daniel het uit kristalle en kwarts wat hy self langs die Oranjerivier gaan uitgrawe het, ’n landskap geskep waarin die insekte tot “lewe” kon kom.
Elke foto is ’n samestelling van meer as 2000 supernabyskote’s wat digitaal aanmekaar gestik is sodat die insek in verbysterende besonderhede afgebeeld kon word. Die foto’s is so groot opgeblaas dat die insekte groter is as die mense wat na hulle staan en kyk. Die effek is iets uit ’n ander wêreld; ’n mens kan jou oë byna nie glo nie.
In sommige van die werke is dit ’n enkele insek wat uitgebeeld is, in ander is daar wisselwerking tussen verskeie insekte. Hy wys van die foto’s op sy foon: “Sien jy hoe dans hulle!” Om lewe aan die insekte te gee, het weke en maande se nagte geverg. Dit het hom vier jaar gekos om die nege foto’s in die reeks te voltooi. “’n Goeie reeks werke vra tyd. Want jy kyk daarna, en jy gaan weg, jy kyk daarna, jy gaan weg, en dit groei op jou. Al die atome en alles wat ek al oor fotografie geleer het, het in hierdie reeks bymekaargekom.”
Die ander beginpunte, die werke wat hierdie reeks voorafgegaan het, en dit op verskillende maniere beïnvloed het, was sy foto’s van Afrikaans-honde wat gelei het na die heilige beeste, wat gelei het na die veghoenders en die prieelvoëls en hul kunstige neste, wat op hul beurt weer gelei het na die dioramas met duiwe, die direkte voorgangers van die Still Life-reeks.
Daniel het die museumuitstalling so ontwerp dat besoekers die ontwikkeling van sy styl duidelik van foto tot foto kan volg, en uiteindelik uitkom by die nuwe werke waarin jare se kennis en ervaring saamgetrek is met stokou insekte en die heel jongste tegnologie.
Dit alles in die naam van ’n oomblik van skoonheid en stilte, wat deesdae skaars is. “Stilte is belangrik vir sien. Jy hoor nie, jy kyk net. Jy absorbeer net deur jou oë.”
Still Life is van 3–11 Oktober tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees in die US Museum te sien.
DRIE GENERASIES INSEKMANNE
Jan Giliomee, emeritusprofessor aan die departement bewarings ekologie en entomologie aan die Universiteit Stellenbosch, het straataf gewoon van waar Daniel in Stellenbosch grootgeword het. Toe hy die geleende kamera uit Switserland ontvang, het Daniel by hom om hulp gaan aanklop. “Toe ry ons in sy Jetta tot by die entomologiedepartement, en hy loop by die gebou in, tot heel bo, en hy sê vir prof. Roets, hoof van die departement, ‘Francois, leen vir hom wat hy wil hê, hy wil dit in sy ateljee gaan afneem’.” En so kies Daniel baie van die insekte wat versamel is deur die afgetrede entomoloog prof. Henk Geertsema, wat ook aan die departement verbonde was.
