Op Saterdagaand 28 September het die finaliste vir ATKV-Crescendo se mentorskapprogram die gehoor met ’n kragtoer van suiwer talent vermaak by die Daisy Jones-teater net buite Stellenbosch.
By die Sit dit aan!-produksie het vanjaar se finaliste hulle musikale ontwikkeling oor die afgelope ses maande ten toon gestel. Die vertoning se naam, Sit dit aan!, is heel gepas, siende dat dit die eerste keer is dat 2024 se deelnemers na ’n jaar se mentorskap en ontwikkeling aan die publiek bekend gestel word.
As deel van ATKV-Crescendo se vyftigste bestaansjaar het die talentvolle musikante die verhoog gedeel met legendes Simon Witbooi (aka HemelBesem), Gracia Nicholls en Whaden Johannes.
“Hierdie reise was nie net altyd mooi en suksesvol nie; daar was onstuimige, ongemaklike tye ook. Elke finalis verdien om te sien watter hoogtes hy of sy reeds bereik het met die wete dat hierdie avontuur nog ver van klaar is,” het Kreatiewe direkteur, Robin Fourie, gesê.
Deur die loop van die jaar het deelnemers geleentheid gekry om deur verskillende mentors in die musiekindustrie touwys gemaak te word. Vanjaar het onder andere Lize Beekman, Bok van Blerk en Jak de Priester ’n draai by die ontluikende musikante gemaak. Daar is egter ook opleiding oor finansies, bemarking ens. om te verseker dat die finaliste uiteindelik ’n volhoubare loopbaan in die kunste kan volg.
Robin Fourie (aka Die Hooflig) verduidelik dat daar gefokus word om nuwe stemme, liedjies en video’s tot die Afrikaanse musiekindustrie te voeg. “Ons konsentreer egter eers op die menswees van elke deelnemer. Die enigste manier waarop ’n kunstenaar kreatief en nuut kan skep, is eers deur hom- of haarself te vind. Talent is volgens ons nie aan mense gegee om te kompeteer nie, maar om eerder mekaar te versterk en te komplementeer,” sê hy.
Gerrie Lemmer, ATKV-uitvoerende hoof: kultuur, verduidelik dat hierdie bekendstellingskonsert aan die einde van elke jaar ’n hoogtepunt op die ATKV se kalender is. “Dit is net ongelooflik om te sien hoe finaliste vanaf die eerste slypskool in April vanjaar gegroei het tot die kunstenaars wat die gehoor met Sit dit aan! [gesien het],” sê hy.