Stellenbosch se eie ‘lighuis’

Ná 80 jaar skyn Fidders in Andringastraat se ligte nog helder, skryf KARLA DE BOD.

’n Historiese foto van Fidders se oorspronklike winkelfront in Andringastraat, omstreeks 1945.

Fidders is soveel meer as net ’n winkel wat ligte verkoop; dis ’n lewende deel van Stellenbosch se geskiedenis en kultuur. Dit voel asof Fidders nog maar altyd op die dorp was – ’n hoeksteen en baken, waar jy letterlik enigiets kan koop, van kristalkandelare tot ’n battery vir jou motor se afstandbeheerder en dan nog geskenke vir jou skoonma en tannie ook. In 1945 was dit so en in 2025 is dit steeds so.

André-Louise Stroebel besoek die winkel al sedert 1980 amper daagliks. “Die eerste keer dat ek in Fidders gekom het, was soos om weg te raak in ’n paradys van kleur en die wonderlikste verskeidenheid andersoortige produkte,” sê sy. “Die beste produk is ongetwyfeld die mense wat jou met sóveel liefde, geduld en diensbaarheid help. Daar is ’n ligte atmosfeer, iets byna tasbaars.”

Met ’n groot verskeidenheid produkte – van ligte en koppies tot olyfolie en kaartjies – is Fidders ’n skatkis van alles wat mooi is. 

Toe Fidders destyds deur Herman en Lena Fidder geopen is, het die winkel bekend gestaan as Fidders National Electric en het die eienaars hulle op elektriese hersteldienste toegelê. Dit was eers toe Herman en Lena se seun Johan en sy vrou, Martie, oorgeneem het, dat die winkel ook geskenke begin verkoop het. Dit het alles verander.

Helena Strauss het Fidders in 1985 gekoop en die geskenke- en kombuisafdelings uitgebrei; die hersteldiens is as ’n afsonderlike winkel bestuur. Helena se dogter Melinda het later ook deel van die span geword – iets wat vir haar as ma ’n groot voorreg was.

“Fidders was ’n hoogtepunt in my lewe,” sê Helena. “Die lieflike personeel het nie geskroom om hul kant te bring nie. Ons wagwoord was: ‘As ons dit nie het nie, sal ons dit kry!’ Ons het dit absoluut gehandhaaf!” Dit het later ’n segswyse in die dorp geword: “As jy iets wil weet of iets nodig het, gaan na Fidders.”

DIE FAKKEL OORHANDIG

Fidders se mede-eienaars en vennote Danie Mostert en sy vrou, Sarie, saam met die bestuurder, Madeleine Germishuis (regs), by Fidders se voordeur.

Die winkel het onder Helena se leiding gegroei en daar het ’n behoefte ontstaan aan ’n man wat die beligtingafdeling kon hanteer. In 2000 het die alombekende Danie Mostert en sy vrou, Sarie, Helena se mede- eienaars en vennote geword. “Onder sy leiding en fyn aanvoeling het ons beligtingafdeling soos ’n vuurpyl opgeskiet,” sê sy.

Dit was nie lank nie, toe staan die winkel bekend as die “lighuis”. “Ook tot eer van ons Hemelse Vader,” sê Helena.

Helena oorhandig die fakkel in 2023 aan Danie – en dit brand steeds helder. Fidders se waardes – diens, eerlikheid en opregtheid – word hoog geag en in stand gehou.

Deur die loop van Fidders se ontwikkeling het die span, volgens Danie, nooit van die winkel se verlede vergeet nie.

Wat Danie betref, behoort Fidders aan die mense van Stellenbosch. “As dit nie vir elkeen se rand en sent was nie, sou die winkel nooit kon wees waar dit vandag is nie, in die eerste plek deur die Vader se genade, en in die tweede plek danksy elke klant wat oor ons drumpel gestap het.”

DORPSSKAT

Felishia Theunissen en Angelique Siebritz is al onderskeidelik 33 en 9 jaar deel van die Fidders-span. Neil Layman is al 13 jaar lank ’n verkoopsman by Fidders.

Om te sorg dat Fidders sy eiesoortigheid behou, verg baie harde werk agter die skerms, benadruk Danie. Die winkel se bestuurder, Madeleine Germishuis, glo dié harde werk is altyd die moeite werd.

“Toe ek as bestuurder oorgeneem het, het tannie Helena en Danie aan my ’n dorpsskat oorhandig – ’n groot verantwoordelikheid en baie groot skoene om vol te staan,” sê Madeleine.

“Jy weet wie jy hier sal kry en dat jy op jou naam gegroet sal word. Everybody and anybody belongs here,” sê sy. Die personeel ken geslag op geslag klante, van oral in die land.

Madeleine sê haar gunstelingoomblikke in Fidders is wanneer jong mense instap, sê hul oumas het altyd daar gekoop, foto’s van hulself in die winkel neem en dit aan hul oumas stuur. Die verrassing en blydskap op die gesiggies van eerstejaarstudente wat vir die eerste keer hier instap, en die uitdrukkings op hul ma’s en oumas se gesigte as hulle ná ’n baie lang tyd hier kom, is kosbaar, sê Madeleine. “Die geselsies wat hieruit voortspruit bring soveel vreugde.”

Fidders ondersteun graag klein ondernemings, verkieslik in die Wes-Kaap. Die balans tussen ou en nuwe produkte is belangrik vir Fidders om te ontwikkel en te groei, sê Madeleine. Om dié balans te handhaaf, kyk Madeleine veral na produkte en verskaffers wat stories vertel.

LEKKER STORIES

In die voorste venster van Fidders sien verbygangers hangligte en dekoritems wat die winkel vul.

“Ons verskaffers het almal lekker plaaslike stories met ’n groot trefkrag,” sê sy. “Dit is deur stories te vertel dat ons verhoudinge aanknoop met mense wat hier instap. Dit maak Fidders enig in sy soort. Ons verkoop nie net mooi goed nie, maar deel stories wat die volgende 80 jaar se lojale klante byeenbring.”

Hulle hou ook omgewingsimpak in gedagte. “Mense wil weet waar ons aankoop, hoe ver die produkte reis, of dit in Suid-Afrika gemaak is, ensovoorts,” sê Madeleine. “Maar dit beteken geensins dat ons nie vir die oumas en tannies wat al jare lank hier by ons inloer, die bekertjies met blommetjies of voëltjies op beskikbaar sal hou nie.”

Fidders se toekoms is iets wat die span beplan om tree vir tree binne te gaan. Die afgelope agt dekades bestaan uit sulke treë, sê Danie. “Ons onthou hoe ons sonder enige tegnologiese hulpmiddels ontwikkel het tot vandag waar ons al hierdie hulpmiddels tot ons beskikking gebruik om dinge makliker te maak. Dit is belangrik om moderne tegnologie te gebruik, maar om steeds die sjarme en styl te behou.” Die oorgang tot moderne handelspraktyke het stap vir stap geskied; ’n groot aanpassing was nooit nodig nie.

Fidders se missie, sê Danie, is om bestaande middele op ’n manier te gebruik wat hul dekades lange, getroue klante net nóg beter dien. “Mense sal altyd vir ons belangriker wees as die besigheid. Ons het jare gelede ’n plakkaat in die winkel gehad wat gelui het: ‘Make a customer, not a sale’.” Dit geld steeds.

“Ons het al baie foute gemaak, maar daar was ook al baie suksesse,” sê hy. “Ek is dankbaar vir my vrou, Sarie, wat ’n sterk anker is. As span is ons gevestig in die genade van God. Ons is die Here dankbaar vir elke personeellid wat treë en ure in Fidders daaraan bestee om Fidders die winkel te maak wat dit vandag is.”

Fidders se storie is nog lank nie klaar geskryf nie en vir Danie is vanjaar se vieringe deel van ’n bundel met talle verhale wat nog geskryf gáán word. Môre en oormôre.