fbpx

Portchie se lewe in kleur

Die Stellenbosse kunstenaar Portchie vier vanjaar sy 60ste verjaardag met sy grootste en kleurrykste kunsuitstalling nóg. Ons gesels met hom oor wat was, wat is, en wat nog gaan wees.

Portchie voor sy esel in die sitkamer van sy huis in Stellenbosch. Hier werk hy aan ’n tipiese Portchie- skildery: ’n landskap met spelende kinders en hul vlieërs, kleurryke blommevelde, en blou bome wat na die lug reik.

Wanneer dit by kleur en kreatiwiteit kom, is ouderdom slegs ’n getal. En vir die Stellenbosse kunstenaar Portchie Viljoen, wat vanjaar sy 60ste lewensjaar vier, was die lewe nog nooit só kleurryk soos vandag nie.

Hoewel hy eers sowat 30 jaar gelede heeltyds begin skilder het, het Portchie van kleintyd af oral rondom hom kleur gevind. In die klein Vrystaatse dorpie Tweeling waar hy grootgeword het, het hy kleur tussen die groente van sy pa se groentewinkel en in die kledingstukke van sy ma se klerewinkel gevind. Vandag,met die verkoop van oor die 19 600 oorspronklike werke en meer as een miljoen afdrukke wêreldwyd agter sy naam, vind Portchie steeds kleur in Stellenbosch.

Maak nie saak in watter rigting jy ry nie, jy beleef die trefkrag van die berge, die wingerde wat verkleur, sê hy. “Die kleurrykheid van alles maak die dorp só mooi.” Elke seisoen bring nuwe kleure na vore, en elkeen inspireer hom op ’n ander manier. “Die seisoene se verwisseling is baie fel, en dit maak dat daar ritme binne-in jou lyf kom. En veral in die lente raak jy opgewonde soos wat alles rondom jou begin ontplof in kleur.”

Maar dit is nie net Stellenbosch se kleure wat hom al 30 jaar inspireer nie; dit is by die dorp se mense waar sy hart lê. “Ek is verskriklik dankbaar vir Stellenbosch; die dorp tolerate my kleurvolheid en interessanthede al baie jare,” sê Portchie. Dit is in Stellenbosch waar Portchie se kunsloopbaan werklik begin het, maar dié begin was nie so eenvoudig nie. Nadat hy in 1994 uit Johannesburg, waar hy by Spoornet as vervoerekonoom gewerk het, Stellenbosch toe getrek het, het hy sy eerste kunsateljee in die motorhuis van ’n meenthuis ingerig. Hy het in die motorhuis gebly en geskilder, en die kamers van die meenthuis vir ’n inkomste verhuur.

Jy is glad nie seker dat iets suksesvol gaan wees nie, sê Portchie. Dit kos jare se harde werk en energie. “Ek moes maar bietjies-bietjies bymekaarsit om my kuns vorentoe te vat, en hoop en bid dat ek dit op ’n manier wel sal kan doen.”

Tydens die onderhoud was Portchie besig met ’n portretstudie. Dié skildery, saam met meer as 400 ander, gaan deel van sy verjaardaguitstalling vorm.

Selfvertroue en kwahale

Portchie het al dié harde werk en energie aan sy kuns bestee met die doel om mense deur sy skilderye te verduidelik wat in sy kop aangaan, en met die hoop dat hulle dit sal snap en besef dat sy kuns die potensiaal het om iets groots te word. Nodeloos om te sê, mense hét dit gesnap, en dit hét iets groots geword.

Die Portchie-portrette wat tóé in Stellenbosch gesnap is, was nie veel anders as sy kuns wat vandag wêreldwyd bekend is nie. Al wat verander het, is die selfvertroue van sy kwashale.

“In die beginjare is daar nie baie geld vir verf nie. Jy verf dus bietjie dunner en alles lyk armer en skraler, maar jy werk met wat jy het,” sê Portchie. “Namate jy meer finansieel stabiel raak, kan jy dit bekostig om ’n bietjie meer rojaal te raak en die verf dikker aan te wend – dán kom daar ’n nuwe energie in jou skilderye.”

Vir Portchie was die dikker aanwending van verf ’n draaipunt in sy loopbaan – dit is vir hom bewys van vertroue in homself en in sy kuns. Tesame met hierdie selfvertroue, het geloof hom nog al die jare gedra. “

Geloof laat my besef dat ek dít wat die Here vir my gegee het moet gebruik tot die maksimum, en my talente uit die buisie moet squeeze – niemand anders gaan dit vir my doen nie. Ek moet self besluit hoe ek die eienskappe wat ek het bymekaar gaan sit om ’n lewe daaruit te maak.

Portchie-kuns wat aan die mure hang en sy nuutste kleurryke beeldhouwerk, voel dit asof jy in een van sy skilderye instap.

Almal het iets gekry om mee te werk; niemand is met ’n leë pakkie na die lewe gebring nie,” sê hy.

Vir Portchie is dit ’n groot mylpaal om sestig jaar oud te word. Sy ouers is albei redelik jonk oorlede, net nadat hy sy universiteitsgraad voltooi het. Die dood van sy ouers het hom diep getref en hom laat wonder of hy dalk ook vroeg sou sterf. Wanneer hy aan sy 60ste verjaarsdag dink, is die eerste ding wat by hom opkom dankbaarheid dat hy tot nou toe uitgespaar is. “Dus laat die feit dat ek sestig gehaal het ’n groot dankbaarheid in my hart,” sê hy.

Met dié dankbaarheid het Portchie groot planne vir die toekoms. Hy vertel dat sy verjaardag hom motiveer om ’n paar interessante hase uit die hoed te ruk, hulle in die lug te gooi, en te kyk wat daarmee gebeur. Daar is dus slegs een manier waarop Portchie sy 60ste verjaardag wil vier: die aanbieding van sy grootste kunsuitstalling nóg.

“Ek wil graag met ’n uitstalling ’n dankiesêbriefie aan Stellenbosch en sy inwoners skryf,” sê Portchie. Hy wil vir hulle iets fantasties bied om te geniet en oor te praat, iets wat hulle sal inspireer om die lewe mooier te maak vir die mense rondom hulle.

Portchie se huis is net so kleurryk soos hy self. Met helderblou kombuiskaste, geel
suurlemoene om elke hoek en draai.

Dankbare terugblik

Dié verjaardaguitstalling, Portchie: Van Tweeling tot Trafalgar Square, is vir hom ’n manier van terugkyk in dankbaarheid. Dit gaan ’n viering wees van wat was, wat is en wat nog gaan wees, met die naam van die uitstalling wat verwys na die twee dorpe wat as draaipunte in sy lewe gedien het.

Vir Portchie het Tweeling die grondslag gelê vir sy instelling om mense van naderby te leer ken, om ’n sagtheid vir mense te hê, en bewus te wees van mense wat swaarkry. ’n Klein dorpie leer jou baie dinge op baie vlakke, sê hy, en al dié dinge vorm later deel van jou lewe. “Tweeling was my vertrekpunt.”

Trafalgar Square in Londen is waar Portchie besef het dat hy internasionaal bekend kan word. Tydens twee suksesvolle uitstallings het mense in Europa tougestaan om sy werke te koop, vertel hy. “Trafalgar Square het grense in my kop verskuif. Dit het vir my bevestig waaroor ek al die jare gehoop en gedroom het: dat ek ’n internasionale kunstenaar kan word.”

Met oor die 400 skilderye en beelde, en ’n verwagting van meer as 10 000 gaste vanoor die wêreld, gaan Portchie: Van Tweeling tot Trafalgar Square die storie van Portchie se lewe vertel. Dit sal bewys dat mens jou eie grootste beperking is en dat jy dít wat jy kan droom, kan doen.

“Daar is altyd kans vir ’n bietjie magic,” sê Portchie.

Uitstalling

Die Portchie: Van Tweeling Tot Trafalgar Square uitstalling vind plaas van 19-23 November, 10-17:00 daagliks in die Stellenbosch Stadsaal. Klik hier vir meer inlighting en kaartjies.