Woordfees 2023

Die Woordfees 2023 is een van ons land se beste kunstefeeste. Van 7-15 Oktober blaas dié unieke fees nuwe lewe in die kunste met meer as 600 produksies in 50 lokale in en om Stellenbosch. Ons deel ’n paar hoogtepunte uit die feesprogram.

DIE 2023-PROGRAM verlei feesgangers met 640 unieke aanbiedings wat in meer as 50 venues in en om die Eikestad aangebied word. Daar is 14 afdelings op die feesprogram: die EasyEquities Skrywersfees, Klassieke Musiek, Toneel, Fringe, Kinderfees, Savanna Komedie, Toyota Musiekfees, Dans, Visuele Kuns, Diskoers, Leefstyl, Filmfees, Landbou, die WOW-fees en gratis geleenthede.

Vanjaar se feestema is Borrel, wat “verwys na speelse bruising en drif, ’n swewende, dromerige gevoel, onskuldige kinderpret met seepbelle, en die lekker ou Nederlandse woord vir ’n partytjie waar die silwer borrels in Bolandse vonkelwyn graag geniet word,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees.

 

Beste plek om te begin Borrel – Aan die Langtafel

Die amptelike opening van die 2023-Woordfees vind op 6 Oktober aan die gesellige Langtafel onder die eike en tussen die pragtige ou geboue van Ryneveldstraat plaas. Vanjaar verskaf Bertus Basson en die topdrie-spanne van kykNET se gewilde koswerklikheidsreeks Kokkedoor: Vuur & Vlam – tot 19 Oktober elke Donderdag om 20.00 op kykNET – inspirasie vir die aand se spesiale spyskaart.

Vir Kokkedoor: Vuur & Vlam moet deelnemers alles in die vlamme, op die kole, binnein die as of op die rooster voorberei om beoordelaars Bertus Basson en Kobus Botha met hul braaivernuf te beïndruk. Langtafel-gaste is dus verseker van ’n vuurwarm maaltyd, maar plek is uiteraard beperk.

Kaartjies na die Langtafel kos R900 per persoon en sluit ’n driegangete in. Daar is 10%-afslag op groepbesprekings. Gaste word verwelkom met ’n glas borrels of wyn met die komplimente van Stellenbosch Wynroetes.

Daar is meer as 50 ander aanbiedings op die Leefstyl-program wat bestaan uit ’n groot verskeidenheid lekker en interessante goed om te verken, eet, drink, leer en ervaar.

Jy kan gaan stap, draf, joga doen of met ’n e-fiets ry, tuine kyk, kookdemonstrasies bywoon, argitektuurtoere meemaak en alles proe en geniet wat die wynlande en Stellenbosch se koskultuur bied.

 

Die Kuns en Plesier van Kunskyk

Die Woordfees se Visuele Kuns-program het vanjaar vele fasette en ’n paar opwindende nuwighede.

Die feeskunstenaar vir 2023, wat met ’n groot uitstalling gehuldig word, is Wilma Cruise. Sy ontgin graag die verbintenis tussen mens en dier in haar werk. Van haar gesogte groot beelde in vuurklei en brons sal saam met ’n keur uit haar skilderye, tekeninge en klankinstallasies te sien wees, onder meer by die US Museum.

Nuut op die program is Ateljeebesoeke wat feesgangers toegang bied tot Stellenbosse kunstenaars se kreatiewe ruimtes.

Deelnemende kunstenaars is op vasgestelde tye in hul ateljees beskikbaar. Jy kan ’n kaartjie vir ’n individuele ateljeebesoek koop en/of met die feesbussie ’n kunsroete volg en verskeie ateljees ná mekaar besoek.

Die 18 kunstenaars wat hul ateljees vir besoekers oopstel, is Jacques Buys, Johan Swart, Keith Dietrich & Heléne van Aswegen, Lunga Kama, Marianne Burger, Marié Stander, Maritza Breitenbach, Marlene von Dürckheim, Paddy Bouma, Paula van Coller-Louw, Rose Namubiru Kirumira, Rudolf Gouws, Sharlé Matthews, Stephen Rautenbach, Strijdom van der Merwe, Trude Gunther en Vernon Swart.

Jy kan jou ateljeebesoeke beplan deur eers die Woordfees Atelier-uitstalling te besoek – ’n oorsiguitstalling van die werke van deelnemende kunstenaars in die IS Art-galery.

 

Aandag, Kunsversamelaars – Groot en Klein 

Die jaarlikse Toyota US Woordfeeskunsveiling, in samewerking met Strauss & Co, vind op 12 Oktober in die Stellenbosse stadsaal plaas. Teresa Lizamore is die kurator. Die kunswerke waarop vanjaar gebie kan word, word in Augustus bekendgestel en sluit werke deur bekende en opkomende kunstenaars in wat elke sak sal pas. Die werke word vir die duur van die fees in die stadsaal uitgestal.

Almal is welkom om op 12 Oktober vanaf 18.00 in die opwinding van die veiling te deel. Voornemende kopers sal ook aanlyn en per telefoon kan bie.

 

Raak Kunswys in die Oude Leeskamer 

Hoogtepunte van Strauss & Co se veiling wat in November in Johannesburg plaasvind, word in die pragtige Oude Leeskamer ten toon gestel. Dit sluit onder meer in werke uit die boedel van wyle prof. Danie Joubert, voormalige rektor van die Universiteit van Pretoria.

Die Strauss & Co-reeks van agt lesings en gesprekke, gelei deur kunskenners, word van 9 tot 13 Oktober in die Oude Leeskamer aangebied. Toegang is slegs R30 per lesing.

Die hele program is op woordfees.co.za beskikbaar waar ’n PDF van die volledige feesgids in Afrikaans en Engels afgelaai kan word. Besoek gerus ook die webwerf om te sien watter produksies bekendes opgewonde maak.

Die gratis gedrukte feesgidsboekie is by die Woordfeeskantoor in die Erfurthuis (Ryneveldstraat 37, Stellenbosch) en ook by verskeie biblioteke, boekwinkels, toeristeburo’s en gastehuise in die Wes-Kaap te kry, solank voorrade hou.

Kyk is vry en koester daarby

Die Woordfees-kunsveiling, in samewerking met Strauss & Co, vind op 12 Oktober in die Stellenbosse stadsaal plaas.

Die kunswerke waarop vanjaar gebie kan word, word voor die veiling in die Stadsaal uitgestal en sluit werke deur bekende en opkomende kunstenaars in wat elke sak sal pas.

“Die werke op uitstalling is ongelooflik uiteenlopend, maar in sy geheel bring die uitstalling vreugde. Dit is ’n visuele tonikum. Die uitstalling pas dus goed by die bruising en sprankeling van die feestema – Borrel. Dis ’n verfrissende ervaring in ’n wêreld waar kuns geneig is om baie ernstig en somber te wees,” sê die kurator, Teresa Lizamore.

Van die 180 werke wat uitgestal word, kom om en by 90 by die veiling onder die hamer. Beide die uitstalling en veiling is gratis.

Klik hier om ‘n groter verskeidenheid van die kunswerke te sien en meer oor die uitstalling en veiling uit te vind.

Groot ontmoetings in die US Museum

Die uitstallings van Wilma Cruise, David Kramer en John Hogg, en Anton Kannemeyer in die US Museum is almal gratis.

Vanjaar se feeskunstenaar, Wilma Cruise, bekyk graag die verbintenis tussen mens en dier, met ’n klem op kommunikasie. In haar tentoonstelling, The Animal – What a Word!, bepeins sy die “vraag van die dier” in die konteks van taal, hoe ons óór hulle en mét hulle praat. Die uitstalling bevat drie klanklandskappe wat die veeltaligheid van ons land vier. Sy werk hoofsaaklik in vuurklei, maar van haar lewensgroot mens- en dierfigure vind ook uitdrukking in brons.

Twintig jaar gelede het David Kramer verskeie volksmusikante in die dorre streke van die Karoo en Noord-Kaap gaan opspoor, wat gelei het tot die Karoo Kitaar Blues-konserte. Unieke stemme soos Helena Nuwegeld, Hannes Coetzee, Tokas Lodewyk, Koos Lof en Siena Mouers het gehore meegevoer en dikwels tot trane geroer. Die fotograaf John Hogg het destyds dié konserte en kunstenaars (van wie die meeste intussen oorlede is) afgeneem. Die foto’s, wat nog nooit voorheen ten toon gestel is nie, vertel roerende verhale van ’n ryk, miskende tradisie.

Anton Kannemeyer se eerste solo-uitstalling in Suid-Afrika sedert 2015, Boerplek van vrees, is ook in die US Museum te sien. Vir hom was 2015 ’n waterskeidingsjaar – die jaar van die #FeesMustFall-opstande en die jaar wat uitdagende satire op vele platforms wêreldwyd die mond gesnoer is. Nie, soos gewoonlik, vanuit ’n regse oord nie, maar deur linkse aktiviste en die voorheen verdraagsame, liberale kuns-establishment. Sy nuwe werk tree in gesprek met cancel culture en dink na oor watter uitdagende kuns nog geduld word.

Fliek verwoed, verniet

Die opwindende program van die 2023 Woordfees Filmfees sluit meer as 70 films uit meer as 20 lande in, waarvan ongeveer 50 gratis vertoon word. Al die kortfilms, kort dokumentêre en ook animasie, wat nuwe werk van Diek Grobler insluit, is verniet.

Twee klassieke Buster Keaton-stilrolprente word gewys met musikante wat in die teater ’n geïmproviseerde klanbaan skep.

’n Keur van rolprente uit Afrika word ook vertoon.

Die filmfees word vanjaar moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Open Window. Alle vertonings word in die Neelsie Cinema gewys. Besoek ons webwerfom die volledige filmfeesprogram te verken.

Kom dink en praat saam

Ons het baie geleenthede in die media om te luister na kenners en meningsvormers, maar selde die geleentheid om saam te gesels. By die Woordfees is daar ’n groot verskeidenheid van debatte en gesprekke wat gratis vir besoekers is. En hier kan jy ook jou mening deel en direk vrae stel.

Die uitgebreide diskoersprogram sluit die RSG-uitsendings by die Plataankafee in asook, onder meer, die Netwerk24-, Sake & Sauvignon-, Science Café-, Resonans- en Ongehoord-gespreksreeks. Daar is ook Teatergesprekke, Naggesprekke en ’n aantal besprekings rondom die toekoms van Afrikaans.

Raadpleeg die feesgids op die Woordfees webwerf vir meer inligting.