fbpx

Wenplan van ‘n wenspan

Met die blitsbokke se asemrowende oorwinning teen Nieu Seeland in die finaal van die Dubai Sevens hierdie naweek, kyk ons terug na ons gesprek met afrigter Niel Powell in die nuwe somer uitgawe van Stellenbosch VISIO:

Almal het minstens een so ’n gemeenskaplike kennis. Die soort mens oor wie ’n gesprek só begin: “Jis, hy’s ’n lekker ou.”

 

 

’n Lekker ou is iets anders as ’n goeie ou. Neil Powell, die Springbok-sewesafrigter, is ’n goeie ou ook. Hy’s albei. Maar hy’t ’n klompie ekstra kruie en koljander in die braaispeserye van sy mondering. Hy’s sout van die aarde én spice of life. Hy sal nooit die laaste tjoppie in die bak eet nie, maar hy sal altyd nog ’n wingerd- stompie op die vuur gooi. Hy laat hom nie vir die gek hou nie, maar hy neem homself terselfdertyd nie te ernstig op nie. Hy’s méns. En dis veral uit sy menslikheid, eerder as net sy uitsonderlike tegniese insig in die blitskode van rugby, dat die kultuur gebore is wat die Blitsbokke vroeër vanjaar tot wêreldkampioen aangevoor het.

 

 

Tog moet jy nie vir Neil alleen uitsonder en loof vir die vordering van die spelers onder sy leiding nie. Die kalklig laat hom koud. Hy’s ’n man vir ’n vuur wat sy gloed op almal laat val. ’n Mens soos Neil put sy energie uit mense, en mense put hul energie uit hom. Sy wese is in daardie sosiale dinamika geanker. ’n Lekker ou? Ja. Maar per definisie is daardie soort mens die verpersoonliking van ubuntu – ons is wie ons is deur andere.

Neil hou sedert 2013 die breiersleisels van die span. In vier van die laaste vyf Wêreldsewesreekse het die Blitsbokke tweede geëindig. Toe, vroeër vanjaar, word die span vir die eerste keer sedert 2009 as wêreldkampioen gekroon. Neil was by albei spanne betrokke, en in die jongste reeks het die Springbok-sewesspan in die eindstryd van agt van die 10 toernooie gespeel. Daarvan het hulle vyf gewen.

 

Dit gaan oor ubuntu

“Wen is belangrik, maar bekers het nie blywende waarde nie,” sê Neil in ’n geselsie so ’n entjie in die pad af van waar hy en sy gesin in Kylemore woon. “Ons kultuur is ongetwyfeld die ding wat ons sukses oor die laaste drie jaar moontlik gemaak het. Vir ons is die belangrikste die ontwikkeling van die mens, en dit verg besonderse verhoudings tussen almal in hierdie rugbyfamilie van ons.

 

“ ’n Groot faktor is dat ons omtrent die hele jaar by die Stellenbosch-Sportakademie (SAS) bymekaar is. Ons het wêreldklasgeriewe hier wat ons ons ‘huis’ kan noem. Dis ’n voorreg. Die deurslaggewende ding is dít: As mense so baie tyd saam deurbring, gaan hulle óf geheg aan óf omgesukkel met mekaar raak. Ons ouens raak net erger oor mekaar, en dis vir my dikwels mooi om te sien hoe die spelers ná ’n baie strawwe dag na die naaste Stellenbosse koffiewin- kel gaan en mekaar se teenwoordigheid verder geniet. Die omgewing dra by tot hierdie kultuur van samehorigheid.”

 

 

Onder Neil se voorganger, Paul Treu, is die nes gebou waarin die huidige bestuur en spelers hul vlerke leer klap het – eers met hul basis op Coetzenburg en toe by die SAS, ’n gerief van Remgro waar die spelers oefen, eet, koukus, en waar die helfte ook tuisgaan.

“Ek voel ongemaklik as mense my gelukwens met wat ‘ek’ met die span uitgerig het, of met die sukses van die laaste seisoen,” sê Neil. “Hierdie ding kom al minstens vyf jaar aan, en as ons ons waarde as mense aan uitslae heg, sou ons mos vier uit die vyf jaar misluk het. Dit is nie waaraan ons ons oordeel nie. Hier is ’n belangriker beginsel wat ons kultuur onderskraag: Ek probeer jóú beter maak, en jý probeer ’n volgende ou beter maak. Saam maak ons die stelsel beter. Sáám.

 

“Rugby word dan net ’n platform vir ons om as span ’n verskil aan die wêreld te maak. Onthou, álmal wil wen, en om dit jou hoofdryfveer te maak, onderskei jou van niemand nie. Daarom verbind jy jou as span tot iets groters, en vir ons as bestuur is die maatstaf dít: As ek jou ’n beter speler maak, maar ek help jou nie terselfdertyd om ’n beter mens te word nie, het ek jou as afrigter én mentor in die steek gelaat. As ons dit regkry om die span meerdimensioneel te help groei – as sportlui en as mense – het dit terloops, maar nie toevallig nie, ’n positiewe invloed op hoe ons presteer.”

 

Heil, die ubuntu­Bokke!

 

Die omgewing waarin juis dié benadering tot hoë prestasie lyf kry, het twee bene: Die omgewing – Stellenbosch se infrastruktuur plus spankultuur – moet dit vir spelers lekker maak om werk toe te kom, en die omgewing moet dit vir spelers moontlik maak om hul volle potensiaal te verwesenlik.

 

 

“Hoewel ons saamwerk om die groter geheel te bevorder, is die geluk, genot en doeltreffendheid van ons pogings afhanklik daarvan dat die omgewing ’n speler tot sy reg laat kom. Ons het hom gewerf omdat hy die potensiaal het om ’n beter weergawe van homself te word, en nie omdat hy lyk of hy in ’n rigiede boksie kan pas nie. Ons probeer individuele briljantheid aanmoedig, want as die span suksesvol wil wees, moet individue uit selfvertroue en nie uit vrees nie funksioneer. Ons weet daarom dat ons stelsels reg is as daar ’n glimlag op die spelers se gesig is.”

 

Dans tot die einde van die liefde

 

Daarvan is ’n goeie bewys die Nieu­Seelandse en Australiese sewestoernooi, wat die Blitsbokke vanjaar in agtereenvolgende weke gewen het. Voor albei eindstryde het die spelers in die tokskamer spontaan in ’n sirkel loop staan en een­een dance­offs gehou, vertel Neil. “Tot Philip Snyman, die kaptein, wat ek voor my siel weet nie kan dans nie.”

 

Suid­Afrika het Fidji in Wellington met 26­5 geklop en vir Engeland die week daarna met 29­14.
“Ek kry ’n span jammer as hy teen ons moet speel die dag dat die spelers besluit om met ’n dance-off litte los te maak. Dán weet ek die ouens gaan ’n barshou speel.”

 

 

Hierdie dans van die Blitsbokke laat dieper en wyer voetspore as net dié van die band of brothers, soos die spelers na hulleself verwys. “Dance me to the end of love,” het Leonard Cohen gesing, en gades en geliefdes word doelbewus in die gloed van dieselfde spanvure sitgemaak. As Neil dan die “pa” van die Ubuntu-Bokke is, maak dit sy vrou willekeurig die moederfiguur.

 

Neil en Tanya het in 2009 op Stellenbosch ontmoet toe sy hom as biokinetikus behandel het nadat hy sy arm gebreek het. Toe raak hy sommer been-af op hierdie peetdogter van die legendaries vlugvoetige Springbok-haker Uli Schmidt.

 

“Ek het met ’n ongelooflike vrou getrou. As dit nie vir haar was nie, sou ek nie kon doen wat ek doen nie. Sy is geweldig ondersteunend, en sy verstaan rugby soms beter as wat ek wil hê sy moet,” sê Neil.

 

Maar Tanya “verstaan” ten eerste. “Ons span is 16 weke van die jaar weg van die huis af, en dan moet Tanya in ons huis ook die rol van pa speel. Sy doen ongelooflike werk met ons seuns, Joshua (5) en Caleb (1). Dis nie vir haar maklik nie, maar sy staan nie buite hierdie deel van my lewe nie. Sy’s deel daarvan, en ook dáár is sy my grootste steunpilaar.

 

 

“Toe ek in die aanloop tot die Olimpiese Spele een-een met die spelers moes praat oor wie die span gehaal het en wie nie, het Tanya ’n week lank gehuil. Sy’t geweet dis nie vir my lekker nie, maar sy het ook die spelers geken en hulle vir haar. Dis ’n intiem emosionele ervaring as jy so ’n ding moet deurmaak met mense vir wie jy omgee. En Tanya gee vir almal om.”

 

Neil ook. Nou die dag kry hy ’n oproep van ’n Blitsbok wat in die “af-seisoen” Curriebeker-diens doen. Die speler wil darem net sê hy sien uit daarna om weer op Stellenbosch by sy makkers aan te sluit.

 

“As jy dít by ’n speler hoor, is dit soos wanneer een van jou kinders wat al die huis verlaat het, vir jou sê: ‘Hoor hier, Pa, ek kan nie wag om weer saam met julle te kuier nie.’ En om die waarheid te sê, kan ek self nie wag tot die hele span weer bymekaar is nie.”

 

 

Hy sê gelukkige mense word gelukkige spelers. En eindelik is rugby en die voorreg om af te rig vir Neil Powell ’n geleentheid om die groei van “afgeronde mense” moontlik te help maak.

 

“As ’n speler eendag hier van ons op Stellenbosch af weggaan, wil ons weet hy groet rugby en gaan die wêreld tegemoet as ’n goeie pa vir sy kinders, ’n goeie man vir sy vrou, en as die soort rolmodel wat Suid-Afrika broodnodig het. Als anders is ’n blote bysaak. En dis goed so.” V