fbpx

Nederige seder

Ons verneem met hartseer van die heengaan van Aaron Cupido, gemeenskapsleier en wandelende historikus van Stellenbosch. Burgemeester Conrad Sidego het vroëer vanjaar een middag by dié merkwaardige inwoner van Idasvallei gaan tee drink en gesels oor onthou en vergeet. Willem Pretorius was daar.

Aaron Adrian Cupido (97) word stadig deur sy dogter Cynthia, in die sitkamer van die huis in Luckhoffstraat 18, Idasvallei, Stellenbosch, in ’n rolstoel ingestoot. Hy dra ’n geruite Skotse pet en ’n blougrys strikdas. Groet sag en vriendelik.

Op die tafel in die hoek is daar ’n Kerskoek, lekker mosbolletjies, ’n tafel vol frikkadelle, garnale en sosaties. Daar is fyn porselein-eetgerei en koeldrank reggesit vir die burgemeester, wat as 15-jarige seun ‘n klipgooi van die Cupido’s se huis kom intrek het. Teen die pilaar hang daar twee pierings met prinses Diana en prins Charles se gesigte op.

Teen die mure van die huis waar hy al 62 jaar lank woon, hang toekennings van die Stellenbosch Erfenisfees, ’n Sertifikaat van Verdienste van die Hoërskool Stellenbosch, een van die Stellenbosch Museum en vele ander. Die kinders dra koerantknipsels en ander aandenkings aan om met die onthou te help.

Daar is veel te sê oor Cupido se merkwaardige lewe as gemeenskapsleier en opvoeder. Tog is hy traag om oor homself te gesels.

Die Idasvallei-huis, met die jakaranda in volle blom voor die deur, is ver verwyder van die pragtige wit geuwelhuis in Ryneveldstraat waar die familie destyds gewoon het. Cupido se pa het die Ryneveldstraat-huis in 1927 in die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl gebou. Dis hiér waar die familie gewoon het, voordat die politieke stootskrapers oor hul lewe geloop het.

Aron Cupido en Conrad SidegoBurgemeester Conrad Sidego kom in en word soos ’n ou bekende gegroet. Cupido is effe ongemaklik oor al die aandag. “Daddy het so lank geleef en so baie gepraat dat hy nou wil stil wees,” verduidelik sy dogter saggies.

Ons gesels oor sy jare as onderwyser en hy onthou hoe hy in Junie 1936 by ’n kerkskool op Somerset-Wes as assistent vir die skoolhoof ingeval het. Sy toewyding van 46 jaar aan die onderwys maak hy ligweg af met “ag, ek het maar ander mense se kinders opgepas”.

Hy vertel van reise deur die land met ’n Chev en ’n Vauxhall Cresta – van Idasvallei tot in Mosambiek, Durban en oorsee. “Nou is ek net rustig. Ja, vroeër het ek behoorlik die lat ingelê. Ook by die huis. Die lat was ’n goeie ding,” sê hy met ’n onverwagte staalkyk.

In die boek In ons bloed deur Hilton Biscombe, onthou hy: “Daar was ’n sekere manier hoe ons ons kinders grootgemaak het. Die kinders moes Sondags na die Rynse Kerk, die Engelse Kerk of die Metodistekerk voor in die dorp gaan. Hulle het dan hul beste klere aangetrek. Kyk, ons het gepraat van die eerste gelui as die kerkklokke lui … of die tweede gelui. Jy’t jouself ge-time sodat jy darem betyds by die diens kan aankom.

“Ons het baie respek vir mekaar gehad. Moenie iets verkeerd doen en dink dat niemand jou sien nie. Jy kan jou klaarmaak dat jou ouers daarvan sal weet. As jy smiddags uit die skool uitkom en daar is ’n ouerige persoon wat swaar aan pakkies dra, was dit jou plig om te help dra. Jy mag nie geld vra nie, jy mag ook nie geld neem nie, jy moes maar net die pakkies dra. So is ons grootgemaak.”

Sidego gaan haal staaltjies uit prof. Hermann Giliomee se boek, Nog altyd hier gewees, waarin Cupido aangehaal word. Daar is vele stories wat oor en weer vlieg, wat Cupido af en toe met ’n kopknik bepunt.

Die een wat egter die duidelikste byval vind, is toe Cupido voor die Groepsgebiederaad in 1956 gaan getuig het oor waarom bruinmense nie na ’n gebied by St. James geskuif moet word nie.

“Ons was nog altyd in Stellenbosch. Hier is ons gebore en het ons grootgeword en gewerk, hier het ons gehelp stig wat hier is, en ek sien nie hoe van ons verwag kan word om dit alles sommerso vaarwel te sê nie. ’n Afrikaner bly ’n Afrikaner, hy wil nie ’n uitlander word nie,” het hy getuig.

Sidego vertel met ontsag hoe Cupido “iets so seer en diep soos ’n jintelman hanteer het en sonder haat en wrewel probeer leef het ondanks die hartseer”. Hy praat van die waardige hantering van so ’n groot onwaardigheid, hoe Die Vlakte die Distrik Ses van Stellenbosch geword het, die Slag van Andringastraat. Verskeie name wat opduik, word deur ’n kopknik van die oom begroet.

’n Bietjie van hoe dit was, kom so te berde in die Cupido-aanhaling uit In ons bloed: “Man, die poskantoor het twee bedieningstoonbanke gehad met een dik koperpaal in die middel wat gedien het as skeiding tussen blankes en die sogenaamde Kleurlinge. Op hierdie spesifieke dag was daar een lang ry aan die gekleurde kant. Dit was meestal bodes van groot besighede. Aan die ander kant was net een blanke persoon. Die blanke kant het vier klerke gehad en die ander kant net een. Jy kan jou verbeel hoe ’n ongemaklike affêre dit was. Ek, wat ook in die ry gestaan het, was ontstoke; ek kon die paal uitruk van frustrasie, veral omdat ek net een posseël wou koop.”

Later merk Sidego peinsend op: “Daar is soveel wat nog reggestel moet word, maar hier is ons vandag op ’n plek waar ons nie gedink het ons ooit in ons leeftyd sou wees nie … Meneer Cupido se lewe vergestalt die proses waardeur ons is. Ons moet dae afsonder vir onthou en om mense soos hy te eer vir hul bydrae. Noem dit ’n geestelike salf vir ’n historiese verwonding.”

Aron CupidoCupido haal sy geruite pet af, vat aan sy strikdas. Dit lyk asof hy iets wil sê, maar die woorde kom nie.

Later word hy agter die klavier ingestoot, sy vingers op die klawers geplaas, maar daar kom nie ’n klank uit nie. Die burgemeester tokkel iets om hom aan te spoor, maar dis vergeefs.

Dis asof hy die musiek hoor, maar sy hande lê stil op die swart en wit klawers wat netjies langs mekaar lê.

* Daar sal Donderdag 13 Augustus ‘n gedenkdiens om 19:00 vir Cupido in die Rynse kerk gehou word, waarna hyom 11:00 Saterdag vanuit dié kerk begrawe sal word.

** Met die onderhoud was die oudste mens op Stellenbosch Andrew John Barron, lewenslange boorling van Tulbagh. Hy is 102 jaar oud en woon sedert 2006 op die dorp.