fbpx

Man sonder grense

Johan Degenaar 07/03/1926 – 22/07/2015

Herman Lategan bekyk in die Winter uitgawe van Stellenbosch Visio die invloed van dié groot gees en hoe sy nalatenskap vandag steeds voortleef in sy oudstudente.

Op 7 Maart vanjaar het een van ons land se grootste denkers, die filosoof Johan Degenaar, 89 jaar oud geword. Dis gepas dat ’n man soos hy elke jaar geloof word. Skrywers en joernaliste moet gewoonlik versigtig wees om oordrewe beskrywings soos die beste, top, grootste en slimste te gebruik, maar van Johan Degenaar kan ’n mens met totale vertroue sê hy was en is een van die beste in sy vakgebied, en kollektief kan ons die knie buig. In my navorsing vir hierdie artikel het ek met talle mense gepraat, baie van hulle vandag prominente denkers, professore, regters, skrywers en groot kokkedore in die openbare oog. Elke liewe een het vertel hoe hy vir hulle as jong studente nuwe wêrelde ontsluit het, denkrigtings ingestuur het wat hulle nie eens geweet het bestaan nie. Self het ek nooit by hom klasgeloop nie, maar ek was altyd bewus van sy imposante bydrae tot verruimende denke.

Johan Degenaar
Toe hy en Jetty ’n paar jaar gelede na ’n aftreeoord verhuis het, het Degenaar sy boekery van duisende aan die US geskenk.

Met sy 80ste verjaardag is ’n boek aan hom opgedra: Gesprek sonder grense: Huldigingsbundel ter ere van Johan Degenaar se 80ste verjaardag. Die samestellers is Dirk Hertzog, Etienne Britz en Alastair Henderson, en die 37 bydraers het name ingesluit soos Lina Spies, Hennie Aucamp, Karel Schoeman, Van Zyl Slabbert, Sampie Terreblanche en Edwin Cameron.

In dié bundel is daar ’n ontroerende foto van Degenaar se jong pa, ook Johan, waar hy met ’n bordjie sit waarop die woord “Traitor” geskryf is. Johan sr. is in 1900 tydens die Anglo-Boereoorlog as ’n Natalse rebel weens hoogverraad aangekla en deur die Britse koloniale bewind tot een jaar gevangenisstraf gevonnis en met £50 beboet. In sy sagte, ferm oë en sy sterk maar weerlose skouers sien jy die trekke van sy seun. Daar is ook foto’s van Johan Degenaar in Moskou (1989), saam met Breyten Breytenbach en Van Zyl Slabbert in Düsseldorf (1989), by sy twee seuns as kinders, Hans en Marc (1960), asook waar hy kaalvoet op Clifton in ’n kortbroek sit by sy vrou, Jetty (1953).

Die verstommende ding van hierdie foto is dat daar ’n kat by hulle op die strand sit, en al drie tuur voor hulle uit na die see. Hoe surrealisties: ’n kat op die strand, sorgeloos tussen dié man en vrou.

En dit is wat ek van Johan Degenaar deur hierdie bundel en vele gesprekke met ander leer ken het. Hy is ’n informele, oopkop akademikus, iemand met ’n sin vir die aweregse – en die belangrikste: ’n man met ’n karaktervastheid en hart wat so ruim is dat selfs ’n straatkat rustig by hom op ’n strand sal sit . . .

’n Paar oudstudente, vriende en oudkollegas gesels oor die invloed wat Johan Degenaar op hulle gehad het.

Prof. Anton van Niekerk, voorsitter van die departement filosofie aan die US

Watter rol het Johan Degenaar in jou lewe gespeel? Hy was eers my dosent en later kollega. Ons het nie altyd oor alles saamgestem nie en hy het altyd die indruk geskep dat hy dit verwelkom en verskille beskou as ’n vreugdegewende uitnodiging tot verdere gesprek. Toe ek ’n baie jong departementsvoorsitter word, het hy my wonderlik ondersteun en my gelaat om dinge te doen soos ek wysheid daarvoor kon vind. Hy was die verpersoonliking van hoflikheid en vriendelikheid, maar hy kon geweldig hard en gedissiplineerd werk. Dit het ’n baie groot indruk op my gemaak.

Wat dink jy was sy bydrae tot die filosofie-dialoë of -diskoerse in SA? Sy belangrikste bydrae was nie soseer geleë in wat hy geskryf het nie, maar in die voorbeeld wat hy gestel het van hoe die filosofiese lewe gelei moet word. Sy grondreël was Sokrates se uitspraak dat die ongeëksamineerde lewe nie die moeite werd is om te lewe nie. Ek het nog nooit sedertdien ’n beter voorbeeld van ’n werklik Sokratiese filosoof teengekom nie. Wat sy skryfwerk en navorsing betref, staan twee sake vir my uit. Die eerste is sy briljante artikel oor die filosofiese betekenis van pyn, geskryf rondom 1982 in die SA Journal of Philosophy – een van die beste stukke hieroor wat ek ooit gelees het. Die tweede is dat Degenaar meer as enigiemand anders verantwoordelik was vir die bekendstelling van die werk van die Franse filosoof Jacques Derrida en die dekonstruksiebeweging in filosofiese kringe in SA.

Wat staan vir jou uit van Johan Degenaar die mens? Die mees bewonderenswaardige aspek is die onafhanklike en eie stem wat hy in sowel die teologiese as politieke debatte in die SA van die jare 50 tot 80 ontwikkel het, en sy bereidheid om die verguising wat dit hom op die hals gehaal het, te verdra sonder om daardeur geïntimideer of verbitter te word. Hy was par excellence die denker wat die vraag na ’n eietydse, gesekulariseerde betekenis van God en die evangelie aan die orde gestel het. Dit het hom die gramskap van die NG Kerk besorg en was die rede vir die jammerlike skeiding van die departemente filosofie en politieke filosofie in 1969. Ons almal se grootste vreugde was toe daardie skeiding in 1987 opgehef is. Wat die politiek betref, was hy een van werklik min Afrikaanse denkers wat die waansin van apartheid by die naam genoem en konsekwent intellektueel bestry het. Ook daarvoor is hy aan ’n wye front verguis. Die oorgang van 1994 was ’n bevestiging van dit waarvoor hy altyd gepleit het.

As ek aan hom dink, staan die humor en genieting uit wat gesprekke met hom altyd gekenmerk het. Hy het werklik verstaan hoe om ernstige intellektuele gesprekke te deurspek met humor en ironie wat almal die meeste van die tyd laat skater het. Lag was vir hom belangrik, want lag is die beste meganisme om ons daaraan te bly herinner om onsself nie te ernstig op te neem nie, en om die relativering wat Sokratiese ironie vereis, deurentyd deur te voer. Daarby het hy altyd aangedring op die noodsaak van ’n sogenaamde “tweede refleksie”, dus ons intellektuele plig om nie te vinnig tevrede te wees met verwerfde insigte nie, maar om selfkritiek vol te hou en altyd te vra na die swakpunte van ons argumente, hoe oortuigend hulle ook al vir ons mag klink.

Dr. Etienne Britz, letterkundige en ouddosent in Afrikaans en Nederlands aan die US

Watter rol het Johan Degenaar in jou lewe gespeel? In die laat jare 60 toe ek by Degenaar klas geloop het, was hy in sy rol as dosent en akademiese skrywer die toonaangewende voorbeeld van ’n andersdenkende, of eintlik krities denkende Afrikaner op Stellenbosch. Hy was in sy vak byna die ekwivalent van Sestiger-skrywers soos André P. Brink en Breyten Breytenbach, hoewel hy 10 tot 15 jaar ouer as hulle was en eintlik beter tuis gevoel het binne die denke en kreatiewe werk van N.P. van Wyk Louw. ’n Mens kan sê hy het Van Wyk Louw se ideaal vir die Afrikaner as innerlik beskaafde mens probeer dien.

In die tweede helfte van die jare 60 was die Nasionaal-Christelike faksie in beheer van die universiteit. Maar daar was ook ’n sterk liberaal denkende of progressiewe faksie met baie ondersteuners onder die studente. Degenaar het baie filosofie-studente van eersgenoemde na laasgenoemde faksie geswaai.

Die Broederbond was sterk verteenwoordig in die dosente-korps en in die universiteit se topbestuur en het sy invloed probeer inperk, onder meer deur die departement filosofie te splyt en so die tokkelokke buite sy bereik te plaas.

Dit was egter moeilik om ’n stempel op Degenaar te plaas. Hy was ’n aristokratiese, fyn gemanierde figuur van onmiskenbare integriteit en hardwerkendheid. Hy het vrae gestel eerder as stellings gemaak. Studente het na sy klasse uitgesien. Hulle wou graag deelneem aan gesprekke waarin hul opinies met belangstelling en respek aangehoor is. Degenaar was dus byna onaantasbaar en het voortgegaan met sy niepartydige, rasionele, volwasse kritiek op die status quo.

Degenaar het van jou ’n Afrikaanse mens van die toekoms gemaak. Nie iets makliks en binne jou bereik nie, maar iets waaraan jy hard en eintlik permanent moes werk deur te luister, te vra, krities te besin, moreel sensitief te wees, oop te staan vir ’n groter wêreld as die Afrikanerdom alleen. Hy was skraal, fiks en netjies geklee, entoesiasties maar terselfdertyd gereserveerd – ’n byna ouwêreldse figuur.

Laetitia Pople, kunsredakteur, Die Burger

Watter rol het Johan Degenaar in jou lewe gespeel? Hy het my kop oopgeblaas. Ná die eerste klas by hom het die wêreld bra vreemd gelyk, want ons is geleer om alles te bevraagteken en te ondersoek, en vir die benouende jare 80 was dit revolusionêr. Die belangrikste was om jou eie opinie te vorm en nie iemand anders s’n op te warm as jou eie nie, en om alles te ondersoek.

Dit was bevrydend om die gemors van die politieke vaders as net dit te sien, en steeds bewus te wees van ons rol en verantwoordelikhede as burgers in SA. Ek pas elke dag in my werk en my lewe beginsels toe wat ek by hom geleer het. Dis asof hy vir my ’n gereedskapskissie gegee het.

Ek onthou sy suiwer, helder denke, sy afkeer van nice warm feelings, sy wantroue in sekerhede. Ek sal nooit sy absolute respek vir mense vergeet of sy manier om ’n eerstejaar se bydrae hoog te skat en dit saam met jou te analiseer nie. Jy het altyd gevoel hy het tyd vir jou. As jy dink julle gesels oor koeitjies en kalfies, besef jy skielik julle gesels nou oor iets veel meer. Ek sou sê hy is vreesloos en egoloos, ’n seldsame kombinasie. En hy het die mooiste maniere.

 

Jetty en Johan Degenaar in hul later jare. Jetty is in 2011 oorlede. Die egpaar was 57 jaar getroud.