Terroir is in elke opsig ’n restaurant van topgehalte, maar veral twee dinge het vir Kerneels Breytenbach gelukkig gemaak: die verruklike varklies, en die afwesigheid van agtergrondmusiek.
Maak nie saak dat Shakespeare gemeen het musiek is die voedsel van liefde of dat Duitse restaurante van die 19de eeu almal laat glo het dat musiek saam met Schweinshaxe und Sauerkraut ’n dawerende feestelikheid afgee nie. Musiek en kouende kakebene is nie altyd maats nie. En as jou restaurant onder die toptien in die land is, dan dink jy baie goed na oor die wenslikheid van musiek by die spyse.
Die musiekervaring het baie met persoonlike smaak te doen, en Jannie gaan nie altyd van dieselfde agtergrondmusiek as Sannie hou nie – en heel moontlik ook glad nie van die restaurateur se eie keuse van musiek nie. Vir my is restaurantmusiek ’n steurnis. Dit bederf goeie geselskap. Dit reduseer die voedsel op die tafel tot ’n bysaak. Almal probeer die kelner se oog vang om te vra dat die lawaai doodgeslaat moet word.
Gelukkig kan ek rapporteer dat Terroir se mense skrander verby is. Geen musiek die hele aand lank nie, tot die koffie laataand geskink is en doer, ver op die agtergrond, ’n klompie note opgeklink het. As jy nie jou ore gespits het nie, het jy dit nie gehoor nie. So, verstaan jy? Terroir het ons groep van ses in die heel beste van luime geplaas toe ons uit ’n bitterlik koue Kaapse aand die restaurant binnekom, ons sit kry, en dit tot ons deurdring dat dit hoegenaamd nie nodig sou wees om deur die gebruiklike ritueel van smeek vir stilte te gaan nie.
Daar was gaste by vier of vyf tafels – maar een van hulle had 14 uitgegroeide mans. ’n Eienaardige groep. Stil en op hul plek, hul aandag só by hul kos dat daar nooit werklik ’n dreuning van stemme hoorbaar was nie. My gedagtes het dadelik teruggegaan na 2005, toe ek op ’n dag die voorreg gehad het om sjef Michael Broughton in aksie te sien terwyl hy sy personeel inlig oor al die geheimenisse en versteekte plesiere van sy spyskaart terwyl hy geweet het daardie aand sou daar gaste by elke tafel wees.
Senuwees van ’n metaal wat nog nie uitgevind is nie… Michael bied iets vir elke smaak, en dit is vir hom belangrik dat sy kelners antwoorde op enige en alle vrae gereed het. Hy werk met smake soos Nina Schumann met klavierklawers – daar is altyd iets wat verras, iets wat jy ken maar nie só ken nie.
Teken nou in op Stellenbosch Visio om die volledige artikel te lees: http://bit.ly/1Of1YXP