fbpx

Flitse van gister

Ons het in die nag met die Blaauwklippen-pad in die rigting van die berge gery en langs ’n rivier (die Eersterivier?) gaan sit. Ons was jonk en die maan was vol. Later, toe ons na die dorp terugkeer, het ’n uil voor ons uit die pad opgevlieg.

In daardie jare het ek graag na plekke buite die dorp gegaan. Vriende het op ’n plaas in die Banhoekvallei gewoon. Hulle het vir ’n ruk lank aanhoudend na Pink Floyd – The Wall gekyk. Oor en oor. Maar een somermiddag het hulle die huis verlaat en het ons in die son gesit. Ek het na die berge gekyk en wou hulle insluk. Ek het hartseer gevoel omdat ek uiteindelik gaan sterf en daardie pieke dan hier op Stellenbosch sou moes agterlaat.

Daar was twee huurmotors (wit Valiants?) op Stellenbosch. Die bestuurders het wit jasse gedra. Een van hulle was lank en maer en het sy jas oor ’n kortbroek-safaripak aangetrek. Sy hare was swart en agteroor gekam. ’n Middel soos Brylcreem is na my mening aangewend. Ek het van sy dienste gebruik gemaak toe ek laat was vir die eerste dag van my honneurskursus in die joernalistiek. Op daardie oggend het hy my uit Heroldstraat na Crozierstraat vervoer. Ek het my oupa se verweerde leer-jagbaadjie aangehad.

Misgis ek my of het dit destyds in die winter meer op Stellenbosch gereën? Dit het gereën die Saterdagmiddag toe ek saam met die vrou met die lang blonde hare in die huis waar sy loseer het, na Diva gekyk het. Ons het op die rusbank sit en huil toe Wilhelmenia Wiggins Fernandez die aria uit La Wally sing. En toe ’n man met ’n duikbril en snorkel op sy kop ’n ui kerf, was dit vir ons mooi. Later het ons in die reën na die Breughel-teater gestap. Sy het haar hand onder my hemp ingegly en my rug gestreel terwyl ons verby die kaal, nat stamme van swart eikebome gestap het.

Dit het ook gereën toe ek aan die einde van ons verhouding in die nag van haar huis af gestap het langs die pad wat verby Du Toit-stasie loop, en ek ’n swart handskoen op die grond sien lê het en toe ’n ent verder ’n ongeskonde, sagte tamatie.

In die winter het ek dikwels ’n lang jas van grys-en-swart visgraatstof gedra wat ek in Langstraat gekoop het. Daarby ’n serp wat bestaan het uit ’n meter of wat van die Franse vlag – ook uit Langstraat. Ek het dikwels met die trein Kaap toe gery en daar rondgestap.

Die Lanzerac-hotel was my Downton Abbey. Ek het in die ou herehuis voor die vuur saam met vriende sit en wyn drink, of op die stoep in die somer. Maar dan het ek ook die klein kothuise ’n ent van daar af geken, want ek het ’n verhouding met ’n werknemer van die hotel gehad en sy het in een van hulle gewoon. Ons het soms laat in die nag kaal in die swembad geswem. Een nag het sy aan my ’n Victoriaanse lykswa gewys wat uit die oog van gewone besoekers besig was om onder ’n seil te vergaan.

As ek deesdae deur Stellenbosch ry en daar is iemand saam met my – waarskynlik ’n jong fotograaf – wys ek soms na die plekke waar ek gewoon het: Oude Rozenhof, Lindenhof, Sabo Sela. Ek weet nie of die huise in Heroldstraat nog bestaan nie. Wat vir my mooi is, is die wit spoelklippe in die gat waar die Priory gestaan het. Ek vind dit misterieus. Daar moes eens baie water gevloei het.

Ek probeer onthou hoe dit in die klein aantrekkamertjies van die Ou Konservatorium geruik het. Na die Gauloises wat ek gerook het, seker. En grimering en Pond’s Cold Cream en die sweet in die oksels van jong mense met verhoogvrees. Ek was Marat en het my woorde teen die einde (toe ek uit die bad moes opstaan) vergeet. Met Antonio in The Merchant of Venice het dit beter gegaan. Ek kan nou nog my eerste reël onthou:

In sooth, I know not why I am so sad:
It wearies me; you say it wearies you; … 

Murray La Vita skryf die Oop Kaarte-rubriek in Die Burger.