Toe ek oor Die Eike begin nalees voor ek by dié nuwe kosemporium van Bertus Basson gaan eet het, het die vraag by my opgekom wat enigiemand sou besiel om ’n restaurant te bedryf waar die kos verteenwoordigend is van alles wat in Suid-Afrika geproduseer word of te vinde is. Gegee die geweldige diversiteit van die mense in ons land is dit ’n feitlik onmoontlike opdrag om jouself op te lê.
Die antwoord op hierdie vraag lê deels opgesluit in Bertus Basson self. Hy skrik vir niks. Kyk net: In en om Stellenbosch is ’n viertal restaurante waar hy vir haas elke smaak en vorm van neusoptrekkerigheid voorsiening maak: Overture, The Deck, Spek & Bone en De Vrije Burger. Van fyn kookkuns tot hamburgers.
Toe Joe Warwick in 2013 sy bekende Where Chefs Eat-gids vir internasionale lekkerbekke saamgestel het, was Basson se Overture die enigste Stellenbosse restaurant wat aanbeveel is.
In watter mate Basson korrek is in sy aannames oor wat mense wil eet, is te sien in die feit dat dit – met die uitsondering van De Vrije Burger – altyd raadsaam is om goed vooraf te bespreek as jy enige van sy restaurante wil besoek. De Vrije Burger is juis geskep as uitsondering op die reël. ’n Mens wip vinnig daar in vir ’n burger, eet dit daar of neem dit weg.
Die Eike is egter ’n ander storie. Wat my betref, dié kosstorie van die jaar.
Daar is drie dinge wat jy vooraf van Die Eike moet weet. Vir eers dat as dit jou gewoonte is om oor pryse te kibbel, jy Die Eike maar moet oorslaan. Ten tweede dat jy gaan sukkel om die restaurant te kry, maar sodra jy dit gedoen het, wag die gastronomiese avontuur van die jaar op jou. Ten derde moet jy weet dat jou oë altyd groter is as jou maag.
Die Eike is aan Papegaaistraat geleë waar dit in Dorpstraat doodloop. Om dit te betree, ry jy vanuit Dorpstraat in die stegie langs Simply Asia in, parkeer in die privaat plek wat vir jou aangewys word en stap in veiligheid na wat sekerlik eens die gebou se agterdeur was, maar nou ’n onopgesmukte, smaakvolle vooringang is.
Slaan dan jou oë op die restaurant. Hierdie is ’n anderste soort plek. ’n Historiese Kaapse gebou met lekker dik mure en plankvloere. Binne, soos buite, spierwit geverf en daarbowe ’n outydse houtplafon. Die groot tafels is rond en het lekker gemakstoele. Teen die Papegaaistraatse muur is ’n vyftal kleiner vierkantige tafels vir geselskappe van twee. Die tafels is almal op ’n baie gesonde afstand van mekaar, wat uiteindelik baie help om ’n mens te laat voel dat jy in groot privaatheid sit en eet.
Die een toegewing aan moderne binneversiering is die hanglampe, wat na gelang van ’n mens se voorkeure met teenwigte laer of hoër hanggemaak kan word.
’n Mens voel dadelik tuis – en boonop is daar nie musiek wat iewers blêr nie. Jy kan op die kos en die geselskap konsentreer. Dis net, wel, jy kom baie gou agter dat jou konsentrasie nie so goed funksioneer wanneer ’n restaurant besig is om jou te verlei nie.
Die aand waarop ons daar geëet het, was alle tafels beset. Basson en sy sjef, Kyle du Plooy, het in die kombuis kos gemaak soos ’n dirigent wat strykers en koperblasers en die sneeuklokkies in ’n groot Wagner-orkes tegelyk hoorbaar wil maak. Klein porsies, gróót smake. En subtiele geure.
Nou, die kos. Volgens Basson wil Die Eike ’n viering wees van die Suid-Afrikaanse kookkuns, geïnspireer deur die herinneringe uit sy kinderdae aan klassieke plaaslike geregte, en die spyse wat hy tydens reise na die uithoeke van ons land self geproe het. Deur die kos kry ’n mens sekerlik ’n indruk van die verskillende klimaatstreke waaruit die bestanddele van sekere geregte spruit – en in die geheel van kulturele diversiteit.
Daar was die aand van ons besoek twaalf gange op die vaste spyskaart. Ek gaan nie ál twaalf probeer beskryf nie, dit sal die hele tydskrif in beslag kan neem. Só goed was al twaalf.
Maar net om ’n idee te gee: Die eerste gereg sal teoreties gesproke vir die plattelanders uit die noordelike streke van die land bekend klink: stampmielies en boontjies, nuut gemaak. Die mielies en boontjies kom as ’n smeer op ’n klein tortilla-rige broodjie en oor die gereg is ’n pragtige lagie verpoeierde kale gesif. ’n Mens vou die tortilla dubbel en eet dit sommer met die hand. Aldus begin jou Eike-avontuur – die smake is vaagweg bekend, maar die bereiding en aanbieding maak dit vars en nuut.
Daarna kom iets ongelooflik subtiels: veldun snye spanspek met vinkelblaartjies, knoffel in balletjies room, en ’n paar spatsels bottarga (soutige blouvintuna-eiertjies). Terwyl jy die gereg in jou mond laat verlangsaam, dring dit tot jou deur: Hierdie restaurant is in ’n heeltemal ander liga.
Lees jy die spyskaart, lyk dinge soos prawn cocktail en kaaskoek met gerookte stokvis en hanepoot alte bekend. Maar die garnaalkelkie lyk soos ’n roomdwarreling met skerfies radys, en die stokvis-kaaskoek kom van ’n ander planeet: fyn op die oog, rumoerig in die kamers van jou geheue soos jy probeer om die smake te plaas.
Ek was weer ’n kind, sterre in die oë, en het vir ’n oomblik daaraan gedink om die Oliver Twist-vraag te vra.
In die jargon van ons tyd sou ’n mens kon sê Bertus Basson en Kyle du Plooy dekonstrueer die kookkuns. In ’n sin is hulle op dieselfde vlak as Kobus van der Merwe van Wolfgat-faam, dit is net dat hulle nie die natuur van een streek in die kombuis inbring nie, maar dié van ’n hele land en sy mense.
Dis die moeite werd om hier te eet net om te sien presies wat met “Opsitkers” bedoel word, of hoe hemels dun skywe van die bees se kruisskyf kan wees saam met pampoen en uie. ’n Eetbare kunswerk, met ’n sous só diep vol dat ’n mens kan fantaseer oor hoe die kombuis dae lank daaraan berei het.
Daar was ook ’n geheimsinnige ui, gepiekelde vis, pap en nyama, maar laat ek volstaan. Ek wou nog sê van die poeding, maar ’n restaurant van hierdie kaliber se slotgange is terglustig goed. As jy nog plek in jou magie het …
Om die uniekheid van Die Eike te snap, moet ’n mens daar besoek gaan aflê. Al die woorde wat ek kan inspan, is net prikkels. Maar ek kan sowel smulpape as lekkerbekke verseker dat wanneer ’n mens uitstap na die bekende reuke van Stellenbosch se naglug, die wêreld nuut voor jou is en jy net een woord het om Die Eike mee te beskryf: Briljant.
Die Eike, h/v Papegaai- en Dorpstraat, Stellenbosch. 021-007-4231; info@eikeresturant.com
Bottle half full
Fine dining should always be supported by fine wines. Die Eike is a truly top-class restaurant that can compete with the best in the world, even with its unashamedly South African flavour. Fortunately, the well-put-together wine list did not disappoint.
Wines are served by the glass or 250ml carafes for not-so-thirsty patrons, and also by the more usual bottle, by the magnum and, as a pleasant surprise, by half bottles (375ml) of some excellent wines.
As an aperitif we sampled a glass of the Le Lude MCC NV at R90 – just the way to start a perfect evening. Then we migrated to the Uva Mira The Single Tree Chardonnay 2015 at R990. This is an exceptional wine. Also enjoyed was the Meerlust Rubicon 2014, a relative bargain at R790. A year older than the lauded 2015, this wine is now more approachable but also gives an idea of what the former may become.
We simply had to try one of the 375ml bottles (especially with the last steak dish) and settled on the De Toren V 2016 at R475. This was decanted and opened up rather well.
The wine list is a pleasure to read and, unusually, includes the name of the winemaker. The front of house manager, an Irish lass by the name of Colette, doubled as a sommelier and knew the cellar well.
These fine wines were served in beautiful large Riedel glasses and the service was excellent and knowledgeable.
There is no byo.
– Chris Otto