fbpx

Die boekvraat van Kriefgat

My Stellenbosch het ’n benerige boesem en growwe hande en melkerige pêrel-oë wat ál agter ’n krom wysvinger aan nóg ’n boek en nóg ’n boek verorber, vergrootglas in die hand. Meer as net soms is my Stellenbosch die 21 redes waarom ek in 2009 moes terugkeer, al wou ek nie.

Miskien is my Stellenbosch nie ’n plek nie, eerder die storie van mense wat hier in my hart kom trap het. Mense soos an’ Rai. Knorrig was sy. ’n Helspyker, het sommiges gesê. Maar ons twee het mekaar gevind. Week ná week het ek die steil pad uit die Vlei uitgeklim Kreefgat toe, na an’ Rai toe, haar stapeltjie biblioteekboeke in my arms.

Sy het my weeklikse “taak” geword toe ek smiddae in die Idasvalleibiblioteek gewerk het. Ek ken al haar likes, het sy eendag gesê. Ou Kaapse verhale, moordboeke en boeke oor verre lande. En, het sy later verleërig vertel, sy hou tog só van die “musiekies” wat onse taal in haar losmaak wanneer iemand gedigte voorlees, hoe die woorde haar soms “bonte-blou” klap of dae lank laat nadink, “kopvriet”. My digbundels het ’n nuwe lewe gekry.

Wat soek iemand soos jy tog hier in Kriefgat, wou sy weet toe ek vir die soveelste keer ontydig by haar aangesit kom. Ons het langbeen op die smal stoepie voor haar tweevertrekhuis gesit, haar bene – weer erg “onbekwaam” – soek son en haar “sleg” oë die “Here se lig”. Oor my linkerskouer kon ek die huise in die Bo-Vlei sien, die lowergroen tuine met hul spatsels kleur. Reg voor ons, in die verte, die berge, wingerde. Wat hét ek inderdaad gesoek in ’n plek wat byna pervers deur soveel mooiheid omring word?

Soms verbeel ek my ek kan nog die nat grond van Kriefgat ruik en saam met an’ Rai voor haar venster na die reën sit en kyk en wonder oor lawwe goed, soos of die grond so geil ruik oor die grondmannetjies se wilde reëndans. Sy het gelag. Grondmannetjies, ga! Dalk, het ek gesê, is dit omdat die grond onthou, geil van eeue se onreg, van bloed wat hier vergiet is, van … Sy het dit nie afgelag nie, net ’n hand omhoog gehou, gesê ek moet weer N.P. van Wyk Louw se “Vier
gebede” vir haar voorlees. Toe ek loop, het sy my langer as gewoonlik vasgehou. Onder my vingerpunte het sy soos ’n voëltjie gevoel.

Wat hét ek in Kriefgat gesoek? Ek het nooit haar vraag beantwoord nie. Miskien het sy geweet dit was die verkeerde vraag, dat sy eerder moes gevra het: Wat kry jy tog hier in Kriefgat? En ek sou antwoord: vir jou, an’ Rai, en jou huis met sy nes-reuk, die plek waar ek vir my ’n kolletjie kon oopskrop, kon behoort. Jou geitigeite is oor jy ’n eenling is, het sy eens gesê. Nie alleenloper nie. Eenling. Sy het dalk pêrels op haar oë en haar sig is swak, maar haar hart se oog kyk diep
en ver, het sy laggend gesê.

Sy is dood die jaar toe ek weg is uit Stellenbosch. Koebaai an’ Rai, koebaai my antie, het ek gesê en my verbeel ek hoor die klik van haar tong, hoe sy my vies deur haar tande sleep. Tsssssssk. Van ’n ge-antie het sy niks gehou nie.

Ek wou nooit weer terug Stellenbosch toe nie. Maar in 2009 hét ek, na Crozierstraat 26 en 21 studente in die departement joernalistiek. ’n Huis met ’n nes-reuk. Ek behoort hier. En is telkemale
verwonderd oor 21 jong mense se omgee en sorg, hul stuwende begeerte na beter beste, vir hulself, vir mekaar, vir my. Miskien is ook dít my Stellenbosch: dié verwondering wat aan my siel bly knaag.

Sewe jaar later staan ek heimlik op die winterige kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland en snotter oor 150 eerstejaars se opgewondenheid oor hul eerste grootmens-eksamen in Afrikaanse teksstudies. En omdat die hoop, drome en potensiaal van die Klas van 2009 ook in hulle brand.

Die mense van Kriefgat gaan elders verskuif word, hoor ’n mens al hoe lank, maar vir nou … Die munisipaliteit het tuine hier aangelê, sien ek nou die dag. Groen so ver die oog kan sien. Spatsels kleur.

Ek verbeel my ek het an’ Rai hoor lag, haar hoor sê: “Kyra da, Stasi! Sie-sie-sie! Hie’s jou Stellenbosch.”

Anastasia de Vries is verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland se departement Afrikaans & Nederlands.
Anastasia de Vries is verbonde
aan die Universiteit van Wes-Kaapland se departement Afrikaans & Nederlands.