fbpx

De Uitkijk se grande dame

De Uitkijk se tuin is soos ’n ou dame wat grasieus oud geword het. Die patina op die mure kan net met die verloop van jare aangebring word. Die plaashuis staan in die koelte van ou akkerbome wat hul takke soos waaksame wagte oor die huis uitsprei.

Dis koel vir Oktober en op universiteits­kampusse huiwer die lente onrustig. Maar dit voel ver van hier af, op die kruin van die Helshoogtepas, 400 meter bo seespieël, waar ’n mens die Kaap soos ’n wasvel tot teenaan Tafelberg sien uitstrek. In hierdie Banghoekvallei (die “g” is met verloop van tyd ontbeer) het olifante volgens oorlewering in 1708 hul trek oor die gevaarlike pas onder­neem, en later was een van die pieke ’n uitkykpunt vir skepe wat in Tafelbaai aangekom het – vandaar die naam Botmaskop (Bootmans­kop).

Ounooi Mostert.

Hier, teen ’n westelike helling, woon Ounooi Mostert, kleindogter van Abraham Johannes Benjamin Marais, wat ’n broer was van Johannes Henoch (Jannie) Marais, kampvegter vir Afrikaans en filantroop wat onder meer die stigting van die Universiteit Stellenbosch moontlik gemaak het.

Haar oudste seun, David, ontmoet my buite. As jy ’n hekel het aan nouveau riche en strukture sonder patina, sal hierdie ou Herbert Baker-opstal en sy werf jou met die intrapslag bekoor. Regs van die voordeur kyk ’n pou ons skuins aan. “Dis een van ma se diere,” laat David val. 

In die voorportaal, aan die voet van ’n deurgekykte familiespieël, staan ’n vaas vol inkalelies in die kleur van Leendert Blok se Rode Tulp, 1927. Ou tapyte bedek die houtvloer, op ’n kroonlys rus blou-en-wit porselein. Bo die riempiesbank hang ’n skildery van De Nieuwe Plantatie – Ounooi se heimat. “En die profielskildery van die elegante vrou wat lyk soos Virginia Woolf?” 

“Dis ant Anna, een van my ma se tantes.” 

Ons beweeg sitkamer toe, waar ’n vuur gesellig knetter. Die ruim vertrek is vol tekens van ’n ou Kaapse familie se herinneringe. Sy sit in ’n Victoriaanse stoel, oor haar skouers hang ’n rooi trui. Haar groen oë is lig soos vere en jy kan sien dat sy maklik lag. Op 95 is sy nog so helder soos glas.

Ounooi Mostert, oftewel Johanna Susanna du Toit, is in die Paarl gebore en het grootgeword op die historiese De Nieuwe Plantatie aan die voet van die Paarlberg. Haar pa, A.J.F. (Bertie) du Toit, het die plaas in 1928 gekoop en ná die dood van haar ma, Johanna Susanna Marais, in 1978, is die plaas verkoop. Vandag staan dit bekend as die Grande Roche-hotel.

Johanna Susanna is haar doopname, maar die stem van Ounooi het vroeg reeds teen haar kom lê: “As ek vir my pa se ouers gaan kuier het, hoor ek die huiswerkers noem vir ouma Ounooi. Toe vra ek: Hoekom noem hulle vir ouma Ounooi? Toe sê ouma: Maar hulle kan vir jou ook maar Ounooi noem. Ek was seker so vier jaar oud.”

Die huis word omsoom deur asaleas wat jaarliks in die lente blom.

Stel jou voor ’n jonge rabbedoe by name Ounooi wat met kaal voete die granietriwwe van die Paarlberg uitklim saam met haar broers, Marthinus, Appie, Albertus en Pietie, en susters, Anna en Gertruide, om vroegoggend voor skool akkers vir die varke teen ’n sikspens ’n blik op te tel.

“Ek het kakiebroeke gedra en het baie eerder met my broers gespeel as met my susters. Pa het die hardewarewinkel op die dorp bedryf.”

“Daardie ses riempiestoele was die winkel se stoele,” sê David en wys na die deurleefde stinkhoutstoele teen die een muur. 

“Kyk, daai jare was die plase ín die dorp, ons het Girls’ High toe geloop en etenstyd huis toe gekom. Ons het maklik grootgeword, maar nie op ons louere gerus nie; elkeen het hul take gehad. Vakansietye moes ek altyd my kamer uitwit. Ons het in die tuin gewerk, met die boerdery gehelp en kissies gemaak vir die vrugte se verpakking. 

“Ons het pret gehad, soos die seepkiskarretjies wat ons gebou het. Dan gaan ons daar van bo teen die berg af en gooi ’n S as ons onder op die werf kom. Saans is elmboë en als stukkend. Nou kan ek nie glo dat ek dit gedoen het nie.”

Almal lag. Ounooi se glimlag is die breedste.

’n Versameling porselein uit toeka se dae.

Nonchalant vertel sy van die keer toe sy per ongeluk ’n spyker ingesluk het, juis toe haar broers haar wou wys hoe om ’n kaskar te bou. Sy het van die spykers in haar mond gehou en een het deurgeglip. ’n Paar dae lank kon sy slegs patats eet en moes sy tjoepstil lê. Toe kom die spyker uit, sonder dat enige skade aangerig is. 

“Ag ja, so het ons maar aangegaan.” 

Sy hou ’n oomblik op mymer. “Jaag daai pou daar buitekant weg, hy eet al die blomme af … klop aan die venster, David!”

“Ma is baie lief vir diere,” sê haar dogter Helmine, wat haar intussen by ons aangesluit het. “Sy het allerlei wilde troeteldiere gehad. Vertel ’n bietjie van ma se diere, tóé.” 

“Meerkat se naam was Poerie, Strepie was die groot stinkmuishond met swart strepe en dan was daar Saartjie, die varkie. Ma se jongste broer, Chris Roux van Witput naby Kimberley, stuur een jaar vir ons ’n bobbejaantjie in ’n paraffienkissie. Pa het haar by die stasie gaan haal, sy het sommer op die bed by my geslaap onder die eiderdown. En dan was daar die mannetjiesbobbejaan Jacob, wat my altyd aan my lang bos hare gegryp het as ek vir hom kos vat. Een jaar met parstyd weet pa-hulle nie wat aangaan nie, want ’n hele vat wyn word suur. Toe vind hulle uit Jacob haal die prop af en steek sy arm so ver in as wat hy kan, en dan lek hy die wyn van sy arm af.” 

Net daar vlieg ’n janfrederik deur ons gesprek. Swiep in en uit. “Ja, hulle vlieg heeldag die huis binne,” sê Helmine.

In 1939 is Ounooi kollege toe om huishoudkunde te gaan studeer aan die Technical College Cape Town. Twee jaar later ontmoet sy haar man, Johannes Albertus (Mossie) Mostert, op ’n troue. Wanneer ek haar vra of dit liefde met die eerste oogopslag was, lag sy skaam. Sy was 24 toe hulle getroud is en hy was 30.

“Die gemeenskappe was klein en ’n mens het binne jou vriendekringe en verlangse familie getrou. So was pa en ma fourth cousins van mekaar.” Volgens David loop die stamboom kruis en dwars deur Cloetes, Van der Bijls, Mosterts, Du Toits, De Villierse, Marais’s en Neethlings. Voorsate uit Frankryk, Nederland en Duitsland, selfs ’n skeut Italianer – Rocco Catorzia. Maar geen Engelse nie.”

Onder die plataanlaning groei die krismisrose, asaleas en bergrose dig teen mekaar.

Kort ná hul troue in 1946 trek die Mostert-egpaar Pretoria toe, waar Mossie in die landbou-ekonomie-mark gaan werk. Die oudleerling van Paul Roos, wat landbou op Stellenbosch studeer het, se droom om eendag te gaan boer word eers vir hul spaarjare gebêre. David word in 1948 gebore en ’n jaar later trek hulle Durban toe met Mossie se aanstelling by die kunsmismaatskappy Safco. Hul oudste dogter, Susan, is daar gebore. 

In 1951 is hulle Johannesburg toe, waar Mossie as Safco se hoofverteenwoordiger vir Noord-Natal, Vrystaat en Transvaal aangestel is. Die daaropvolgende 15 jaar behoort aan Dittonlaan 24, Aucklandpark, naby die huidige Universiteit van Johannesburg. “Die Melville-styl-huis was vervalle, maar ons het ingespring om die huis met sy pragtige staalplafonne en boogvensters weer te laat skitter. Albert en Helmine is daar gebore. Ons was gelukkig.”

“Mettertyd is Safco deur Fisons oorgeneem, maar toe laasgenoemde deur Triomf oorgeneem is, besluit pa die tyd het aangebreek om uiteindelik te gaan boer en so word skoolvakansies in die Kaap oorheers deur die soektog na ’n geskikte plaas. Ons tannie Xenia laat toe op ’n dag vir pappa en mamma weet sy het ’n piepklein advertensie in die koerant gesien en dit klink na die regte plek. Pa kom kyk toe al die pad van Johannesburg af en hy was skaars bo-op die pas, toe weet hy – dis die ware Jakob,” vertel David.

“Toe ek die plek die eerste keer sien, het dit my aan De Nieuwe Plantatie herinner,” onthou Ounooi. 

Op 2 Junie 1965 (Mossie se verjaardag) koop hulle die plaas en The Outlook word De Uitkijk.

“Ons was soos wildsbokke wat losgelaat is; het als met wiele gery: trekkers, bakkies, kruiptrekkers en ’n Morris Minor.” 

Weer eens was die plek vervalle en behalwe vir die akkerbome was daar min sprake van ’n tuin. “Die plafonne was deur ceiling boards bedek, al die houtwerk was geverf met drie, vier lae van groen tot blou tot cream; ek moes afkrap dat dit bars.

Ounooi, David en Helmine.

“Eendag toe Mossie dorp toe is, besluit ek om die stoep af te breek. Toe hy terugkom en vra wat aangaan, sê ek: ‘Nee man, ek kan nie sien nie, dit maak donker en die vallende akkers klink soos oorlog.’ ” 

Die plaas was 17 hektaar groot en sowel Mossie as Ounooi het stukke bygekoop tot dit op 52 hektaar gestaan het. 

Daar word verby middagete gesels, drie stemme se klankgolwe soos ’n kudde wat somer en winter se saamtrek verstaan.

“Ons het vir die grootste deel van ons lewe geleef soos ons wou. Dis kleigrond hierdie, jy gly, áls gly, maar die grond behou die klammigheid, wat dit uitstekend maak vir boerdery.” Wanneer Helmine die woord “grond” sê, kom dit diep uit haar mond.

Daar is geboer met pruime, pere, appels en vroeë perskes wat in Oktober geoes kan word. “Dit was róf, gedurende vakansies het ons almal gepak en as ons klaar gepak en gelaai was, het ons die ou lorrie gevat – eers stasie toe, dan kom laai ons weer vir die Eppingmark; ons is vodde, maar al vier kinders sit voor in die lorrie, dan ry David. By die mark het almal mekaar geken. En hoe gouer die inspekteur die tjap gee, hoe gouer kan jy ry,” vertel Helmine. 

Ná die dood van Ounooi se ma het haar huiswerker, Klein-Dehlie, by hulle kom woon. “Sy kon kook! Alles, van Kaaps-Maleis, boerekos, roasts en groente tot koekbak en konfyt wat van die bome af gekom het. Daar was elke dag sop, winter of somer. As ons van die skool af kom, is daar ’n bak sop,” onthou David. 

Baie jare lank het hulle uitgevoer, en toe die boerdery te groot word, het Stellenpak vir hulle begin pak. 

In 1993 is Albert onverwags aan ’n hartaanval oorlede, en Mossie het besluit om ’n deel van die grond te verkoop. ’n Jaar later is hy ook weg.

David het ’n ruk lank met blomme geboer, maar op ’n dag besef hy is nie ’n landbouer nie en so het die wete tot hulle deurgedring dat dit beter sal wees om te verkoop, met dien verstande dat Ounooi haar laaste dae hier kon slyt. “Ek willie padgee nie,” sê Ounooi. 

Die plaas is verkoop en die nuwe eienaar het ingestem dat Ounooi en Helmine kon aanbly. 

Ons besoek loop einde se kant toe in ’n sirkel deur die tuin. Ou werf, halfeeu se seisoene. 

“Ma het die krismisrose heel eerste geplant,” vertel Helmine. Blou poele rondom akkerbome vir Desember. Waar tuin wingerd word, staan ’n sequoia wat een jaar deur weerlig getref is, maar drievoudig teruggegroei het. Die wisteria-laning herroep digters uit “ ’n land­skap aan die einde van ’n eeu”.

Noordwes van die huis lê die groot swembad “waar ma tot in haar laat 80’s amper elke dag geswem het, winter en somer”. Soos asem beweeg ’n middagwind deur die blare van kandelaarkroonsparre, pride of India, verbleikblomme. Lente se laaste pronkertjies tuimel, winter se affodille slaap ondergronds, clivias vlam oranje, in skadu blom ’n seldsame asalea. 

Die pragtige blom van ’n Cymbidium-orgidee.

“Die Cymbidium-orgideë het ons lewe lank saamgetrek.”

Eenkant staan ’n budjiehok vol kwetterende poeierblou voëltjies. Grysbaard-lugplante wieg aan takke van vioolhout. Hier staan ’n jakaranda, daar ’n kiepersol.

“Die kersieboom moet jy sien wanneer dit oor so ’n maand gaan blom,” sê Helmine toe ons groet. “Dan glimlag Ounooi heeldag.” 

 In die truspieël verbeel ek my ek sien vir Ounooi Mostert onder die boom waarvan bloeisels soos somersneeu oor haar neersif.

To stay updated on all things Stellenbosch, subscribe to our newsletter.