fbpx

Kerneels eet by Geuwels op die Kaapse Vlakte

Wat is die volmaakte ete? By Geuwels op die Kaapse Vlakte wag daar vir Kerneels Breytenbach ’n antwoord op daardie tergende vraag.

Die afgelope ses jaar het Stellenbosch Visio getrou verslag gedoen oor Stellenbosse restaurante wat gereeld onder die topeetplekke in die land gereken word. Elkeen van daardie etes kan ek onthou om spesifieke redes – danksy die spyse, die ambiance, eintlik ’n hele verskeidenheid faktore.

Warmgerookte varklies, pampoenkoekies, kaiings en kappertjieblare. Foto’s verskaf

Dit was eers toe ons by Geuwels wegstap, dat ek besef ek het moontlik ’n antwoord op die vraag wat oor die ses jaar telkens teruggekeer het: Wat is die volmaakte ete?

Dink net daaroor na. Was dit iets spesifieks op die spyskaart wat die skaal geswaai het? Was dit die personeel se diens? Was ons net gelukkig genoeg om die sjef te tref op ’n dag dat hy die fleurige lewe deur sy are voel bruis het? Was die geregte absoluut uniek? Of was dit, omdat hy so ’n groot kulinêre mag in ons kontrei is, bloot ’n geval van die Bertus Basson-towerkrag?

Miskien iets van alles, miskien nie. Die feit is, by Geuwels het die hele konsep van ‘lek-ker’ vir my daardie besonderse dimensie gekry waar ek gevoel het dat daar harmonie in my lewe is, dat ek sommer wil glimlag vir enige en alle bekommernisse, dat ek lief is vir almal omheen.

My maag het vir my gesein dat dit selde, indien ooit, só bevredig gevoel het.

Vooraf het dit in die sosiale media gegons oor die naam wat Bertus Basson gekies het vir sy nuwe eetplek op die Vergenoegd-landgoed. Natuurlik spel mens gewels anders, mense. Maar die landgoed se naam gee reeds ’n leidraad vir diegene met ’n sin vir semantiese swewing: Vergenoegd het niks te doen met die ideale afstand weg van iets af nie. Dit slaan eerder op opgenomenheid, tevredenheid, gelukkigheid, voldaanheid – en daardie gevoel van totale bevrediging.

Geuwels dra ook die kiem van ironie – dit herinner aan heuwels, en Vergenoegd is beslis nie dáár nie. Dit is op ’n deel van die Kaapse Vlakte waar vlakte jou ’n idee gee van die plat, gelyke grond van hierdie wynlandgoed.

Sjef Drikus Brink

Vir Stellenbosch Visio se ete het sjef Drikus Brink ons laat aansit in ’n voorvertrek wat direk na die kombuis lei. Hy kom ons self inlig oor die vele plesiere van die spyskaart, en het vroeg al een besluit kon neem wat ons almal die hupstootjie na gemoedelikheid gegee het. (Drikus is natuurlik geen onbekende vir die Stellenbosch Visio-span nie – ons het sy kookkuns in 2015 by Overture beleef.)

Ewentwel, Drikus beskryf die Geuwelservaring as iets soos Spek en Bone, maar meer Suid-Afrikaans – “en dit op ’n wyn-plaas!” Die klem val op loslittigheid, met gaste wat aangemoedig word om hul eetplesier met die tafel te deel. Ons het dit ter harte geneem en die korterige spyskaart van begin tot einde deurgewerk. Ses mense, meer as genoeg vir almal.

Agterna kan mens natuurlik slim wees oor alles, maar ek sal dit tog vir my lesers wil saamvat: die voorspel, dan die dans van eetplesier, die ritueel wat op sy kop gekeer is. Hier is nie die melodrama van fine dining nie, die soort ete waar mense hul polse liggies op die tafelrand rus terwyl gepaste wyne geproe word en Vivaldi se Vier Seisoene op die agtergrond speel nie. Hier is net bonhomie, geen musiek wat baklei vir die aandag van ons ore nie, en die spyse.

Bo-aan die spyskaart is roosterkoek, warm uit die oond, met Bovril en biltongbotter. Drikus neem daar ’n groot besluit toe hy hoor wat die tafel se gevoel oor Bovril is, en vervang dit met Marmite. Net daar slaat ons overdrive. Ons lag en skerts, die riglyne van restaurantrituele vergete. Jy geniet die geselskap, die grappe en die skermutselings met politiek, groot en klein.

Naas die roosterkoek was daar kalamata-olywe, Richard Bosman se copa-ham, uiemarmelade, ’n verskeidenheid kase met appelskywe en melba-roosterbrood. Jy eet pik-pik en peusel-peusel, maar jou oë hou die tafel dop om te sien of daar nie dalk ’n stukkie roosterkoek stief staan nie. Ons is Marmite-mense!

En so, met voorgeregte wat plek maak vir die groot oomblik, waarin tafelgenote hul aanspraak op een bepaalde gereg verruil vir die kans om van alles op die tafel ’n ietsie te geniet, ontwaak iets amper atavisties in elke eter. Jy weet wat jou smaak pas, maar jy gryp die geleentheid aan om dinge wat jy nie normaalweg eet nie te verken.

Eendeiers Benedict met warmgerookte Lourensfordforel op geroosterde roosterkoek

So tussen die happies en proesels het ek my laat geld met die kerrie-eland-jaffle, die gerookte varklies, en die Chalmar-beeshaas. Verstaan mooi, hulle word voorgesit met dinge soos blatjang, pampoenpoffertjies, kaiings, bone, en ’n jus van groen peperkorrels. Jou palaat steier nie, dit gaan tekere, altyd soekend na nog heugelike smake.

As mens in gedagte hou dat die kombuis op daardie dag ook twee Kersetes moes hanteer, moet ek goue sterretjies uitdeel vir die beeshaas en varklies. Dit het gesmaak asof iemand nét daaraan aandag gewy het in die georganiseerde tumult van die kombuis.

Ek het ook van die flertse blomkool (met mosterd, knoffel en makadamianeut), die krulkoolslaai (met skeersels appel, radys en vinkel) en die gebraaide aartappels geskep. En baie daarvan gehou. Laasgenoemde is een van daardie keer-my-of-ek-maak-’n-vraat-van-myself-geregte.

Elders aan tafel is die gratin van gerookte beestong (met soet mosterd en grasuie), harders (met bruin botter, suurlemoen en bros kappertjies) en die geelstert (met tamatie, komkommer, brandrissies, lemmetjies en koljander) met akklamasie geniet. Klink nie altyd fênsie nie, maar in die loslitgees van die dag en plek is die bord harders heeltemal ge-polish. Vir die soekende palaat was dit suiwer gehalte.

’n Voetnota: Die jaffle was in sagte beesvet gebraai. Dit is om van te juig!

In een stadium het die tafel gelyk soos ’n Van Dyck-skildery. Daar was net glimlagte om die tafel, en hande het telkens, selfs toe die borde amper leeg was, na nog ’n laaste krieseltjie plesier uitgereik.

Toe kom die nageregte.

Dit sou seker fatsoenlik gewees het om net koffie te laat kom, maar nee, ons was onstuitbaar. Weer het ons gedeel, met spektakulêre gevolge. Cremoratert (met aarbeie en sorbet), Tant Hetta se appeltert, tradisionele soetgoed soos dadelballetjies, hertzoggies en koeksisters, en ’n uitsonderlike melasseroomys.

Ek wonder, terwyl ek hier skryf, hoe ek alles met soveel gemak kon inkry. Maar op dié dag, in daardie glorieuse oomblikke, was daar altyd plek vir nog. Nugter beskou, was die volume nie heeltemal so baie nie – dit was die gehalte wat hoog was. En dít is Geuwels se geheim. Topgehalte kos vir diegene wat bereid is om die bollas los te skud en breed te sit.

Geuwels, wat soggens van agtuur af brekkie bedien en ongetwyfeld gou beroemd gaan word danksy die loslittige middagetes (in ons geval amper losbandig!), is ’n plek waar ’n mens jouself kan vind, en met een middagmaal ’n lewe se herinneringe kan skep.

Chalmar-lendestuk, jong wortels, boerboontjies, kerwel en jus van beesvet

Rooiwynwêreld

Vergenoegd* lê verder weg van Stellenbosch, na die Faure-kant toe, neffens Meerlust, en is dus rooiwynwêreld. Die Faures het geslagte lank hier geboer en veral uitstekende rooiwyne gemaak. Ek onthou nog die klassieke etikette van veral die Cabernet Sauvignon en die Landgoed Versnit.

Met die Löw-familie se toetrede is hul naam by dié van Vergenoegd gevoeg en die etikette vernuwe. Die rooiwyne, in hierdie geval uit die 2015-oesjaar, is steeds onverbeterlik, en is op die restaurant se wynlys beskikbaar teen ’n baie billike R290 per bottel.

Die wynlys is egter nog in wording en veral die klassieke witwyne ontbreek. Dit mag Geuwels dalk baat om van die omgewing se wyne ook op die lys te plaas.

Soos kollega Kerneels sê, dis ’n kuierplek dié. Ek het dus die groot ysbak wat maklik vier bottels kan herberg besonder baie waardeer. In die warm somermaande bly drinkgoed heerlik koud.

Die bediening was flink en die glase treffend gepas. Soos die reël by al die restaurante op wynlandgoedere, kan jy nie jou eie wyn bring nie. Dis ’n beleid wat Geuwels gerus kan heroorweeg tot tyd en wyl die landgoed weer in volle produksie is. Gelukkig is daar oral tekens van nuwe aanplantings en herontwikkeling.

Gaan kuier gerus daar en neem jou lekkergeselspêlle saam.

– Chris Otto

* Mens kan nogal lekker speel met die name Vergenoegd (behaaglik voldaan) en Meerlust om te suggereer dat al het jy hóé lekker geëet en gedrink, bly jy steeds lus vir meer.

Die Eendkamer, private eetkamer met vuurherd, perfek vir ’n reëndag

@geuwels