fbpx

Anna Basson Eiendomme

“STELLENBOSCH het sy eiesoortige eiendomsmark en ’n mens kan dit nie sommer met enige ander dorp in die omgewing vergelyk nie. Eiendomspryse is hoër, maar dit gaan om veel meer as ’n blote bedrag op papier. Dit het met ’n lank gevestigde leefstyl te doen, met die natuurskoon, berge, riviere en veral die rustige wynlande.”

screen-shot-2016-09-26-at-1-28-29-pmAan die woord is Anna Basson, veteraan-eiendoms-agent en een van die eerste vroue-agente op Stellenbosch. Reeds in 1972 kondig sy haar toetrede tot die bedryf aan met ’n advertensie in die plaaslike koerant. Die handelsnaam Anna Basson ontstaan in 1985 toe die destydse Trustbank sy eiendomsafdeling sluit. In 1989 volg die nou bekende logo van haar agentskap met sy Kaaps-Hollandse gewel toe ’n transaksie in Mostertsdrift beklink moes word. Nou reeds afgetree en met haar onderneming veilig in die hande van die tweede – en derde! – geslag Bassons, gesels Anna Basson met gesag oor plaaslike eiendomsaangeleenthede.

Haar sakesin het sy van haar pa gekry en haar onderneming aanvanklik van haar huis af bedryf. Haar eerste saketransaksie is beklink met die verkoop van ’n huis in Dalsig vir die prinslike bedrag van R14 000!

“My verkoopstrategie was baie eenvoudig,” vertel sy. “Dit was om net eerlik te wees. Ek het baie geleer by ’n bekende prokureur op die dorp, Piet Marais. Hy het my alles van kontrakte, sakepraktyke en veral etiek geleer. Ook om empatie met mense te hê. Hy het later minister van onderwys geword.

“Dalsig was daardie jare dié adres op Stellenbosch. Ironies genoeg was die huise in Mostertsdrift destyds as te oud gereken en niemand wou daar bly nie. Alles moes modern gewees het. Vandag is dit anders,” sê sy. “Stellenbosch is geseënd met soveel van waarde! Die afwesigheid van besoedelende nywerhede speel veral ’n groot rol om ’n unieke karakter aan die dorp se eiendomsmark te gee. Die landbou (insluitende die wynbedryf), hoë grondpryse en die beginsel van verdigting en vaste stedelike grense, sorg dat die dorp nie onverskillig uitbrei nie. Dit bring uiteraard hoër eiendomspryse mee.

“Vandat ek kan onthou, was eiendomspryse nog altyd hoër op Stellenbosch as op aangrensende dorpe. Goeie skole en sport soos rugby en atletiek was ’n groot trekpleister. Natuurlik ook Maties wat sy tuiste op Stellenbosch het.

“Wanneer daar in die verlede ’n insinking in die ekonomie was, het eiendomspryse op Stellenbosch eintlik maar net gestabiliseer. Dit het veral in die tagtigerjare begin styg,” sê sy. “In die 1990’s het Stellenbosch van ’n akademiese dorp na een vir welgesteldes en sakeleiers verander. ’n Mens dink aan bekendes in die sakewêreld soos Jannie Mouton van die PSG Groep, GT Ferreira van RMB, Christo Wiese met sy betrokkenheid by die Lanzerac, Whitey Basson van Shoprite, Steinhoff International, Capitec Bank en meer onlangs Mxit met Michael Jordaan as voorsitter. Dan was daar natuurlik dr. Anton Rupert wat diep spore in Stellenbosch se geskiedenis getrap het. Sonder sy ingryping om die vlaag slopings in die laat 1960’s en vroeë 1970’s te stuit, sou Stellenbosch sy unieke karakter verloor het,” sê sy.

Ook Anna Basson het diep spore op Stellenboch getrap. Met die leuse “Leef Stellenbosch” gaan dié familiebesigheid voort onder die bestuur van haar dogter, Mari Basson-Carstens. Die derde geslag in die onderneming word deur haar kleinseun Herman Carstens, wat tans besig is met ’n meestersgraad in entrepreneurskap, verteenwoordig. Soos sy vroulike voorgangers is hy van plan om hierdie eiendomsagentskap se handelsmerk en leuse te laat voortleef om steeds Stellenbosch as historiese dorp met ’n kultuur van waarde te weerspieël.