Kuierwinkel vol kruie, snoepgoed en snuisterye

“Een winkeltje van sinkeltje” het die Nederlandse joer­nalis Benno Wouters Oom Samie genoem.

Drie aande voor hierdie onderhoud droom ek van oom Samie. Hy verskyn kompleet soos in die vele beskrywings: netjies geklee met strikdas en onderbaadjie, goueraambril, spits neus en spierwit hare … en op sy linkerarm sit ’n mak eekhoring. Met ’n sagte glimlag nooi hy my om ’n hand vol lekkers uit die winkel te kies. Voor ek egter kan reik na ’n glashouer vol taai toffies, lui die wekker.

Die winkel spesialiseer in nostalgiese snuisterye soos hierdie ou foto.

Die beminde oom Samie het die Algemene Handelaar (S.J. Volsteedt) in Dorpstraat van 1904 tot met sy dood in 1944 besit – en die afgelope 38 jaar leef hy voort danksy die vernuf van een van die omgewing se bekendste inwoners, Annatjie Melck.

Dis vandag die oudste Stellenbosse winkel wat steeds in dieselfde gebou en op dieselfde perseel handeldryf. Oor die drempel van die ou Victo­riaanse huis trap jy, koljander, koljander verby die geure van bokkom, borrie en lourier, tot in die klein kantoortjie … daar werskaf die vrou aan wie D.J. Opperman ’n gedig, “Grondstowwe by die siklus van seisoene”, opgedra het. 

Sonder fiemies, dit kan jy sommer sien – ’n mater familias in murg en been, die jare mooi teen haar vel. Annatjie het nooit gedink sy sal ’n winke­lier word nie, want in wese is sy ’n pedagoog wat daarvan hou om mense te leer en het sy hoeka Isa Carstens se eerste kurrikulum opgestel. “My kinders straf my nou en sê: ‘Ma, hokaai.’ ”

In die 1960’s het Annatjie haar vier kinders, Rijk, Anton, Annalise en Charla, grootgemaak. Toe die sewentigerjare aanbreek, kry sy “hoendervoete” en saam met vyf ander vroue begin hulle op versoek van die KWV die Stellenbosch-fynproewersgilde. 

Vroeg in 1981 loop sy vir Gerhard Froneman (eertydse direkteur van Historiese Huise SA) raak en vertel hy haar dat die oudste winkel op Stellenbosch – eens S.J. Volsteedt, later XL Store – ’n nuwe huurder soek. Annatjie spits haar ore en bel dadelik drie van haar vriendinne: Sue Bayly, Riëtte Marais en Jeannie Jordaan. 

Drie formidabele vroue. Van links is hulle Gretha Melck, Annatjie se skoondogter, Annatjie en Charla Kriel,

“Kom ons gaan begin ’n winkel,” stel sy voor. 

“Ek kan jou nie presies vertel hoe ons dit gedoen het nie, behalwe dat ons mans vir elkeen van ons R2 000 geleen het, en dit was dit,” onthou Annatjie vandag.

Sy het soortgelyke plaaswinkels geken in die Britstown-omgewing waar sy grootgeword het, en het vermoed die sjarme van toentertyd se handelaars sou knussies op Stellenbosch kon pas. 

“Abe Segal, ’n bekende Joodse handelaar op die dorp, het eenkeer vir Ronnie [Melck, Annatjie se man, wat in 1995 oorlede is] gesê ’n mens moet nooit ’n ander man se voorraad koop nie. Dus was XL Supply Store dolleeg die dag toe ons die huurkontrak met ene mnr. Dippenaar teken. Volgens die kontrak het ons die opsie gehad om ná twee jaar te koop.”

En so begin die vier vroue: met springbokvelle, pruimtabak en
garing by die jaart. Nie lank daarna nie het Annatjie vir prof. Frans Smuts (professor in Latyn en redakteur van Stellenbosch Drie Eeue) by ’n geselligheid raakgeloop en by hom hoor sy toe vir die eerste keer van die sonderlinge oom Samie. 

Annatjie het die historikus Antoinette Rhode gevra om die geskiedenis van die negosiewinkel en dié se goedhartige oom na te vors en so is XL Supply Store in ere herstel as Oom Samie se Winkel. 

Vele staaltjies word vertel oor die oom se goeie dade, onder meer hoe hy “nooit skuld op die boeke ingevorder het van mense wat swaarkry nie”. Hy was glo ook ’n baasbakker en bekend vir sy koeksisters en sagopoedings – ’n tradisie wat voortgesit en uitgebrei is met Annatjie se “kerriekos, varkrib en bruin wildbraad, souskluitjies met kaneel en gesproete pannekoek”*. 

Jeannie Jordaan het ’n paar jaar later die besigheid verlaat, maar tot en met 1998 het die merkwaardige vennootskap van Annatjie, Sue en Riëtte voortgeduur. In daardie jaar besluit die ander twee hulle wil verkoop, waarop Annatjie die aanbod verbeter en Oom Samie se alleeneienaar word. 

“My vriende, familie en verantwoordelikhede teenoor Oom Samie en my werksmense is wat my op my voete gehou het nadat Ronnie oorlede is. As ek die dag my oë toemaak, rus ek in die wete dat ek my bydrae aan Stellenbosch gelewer het.”

Die enemmel­kamer.

Annatjie se dogter Charla Kriel, wat saam met skoondogter Gretha aankope en bestuur koördineer, sluit haar by ons aan; die winkelkat Max kort op haar hakke. Max maak hom tuis op ’n rak tussen belastingleggers. 

Ons gesels oor voorraad en hoe om jou inventaris relevant te hou. Die winkel beskik oor ’n mildelike aanbod van produkte uit ’n vergange era, want “die nostalgie raak nie minder nie”, meen Charla.

“Ons reis baie en sien hoe alles dieselfde begin word, monotoon en generies. Terwyl ons die individualiteit van ’n Oom Samie bly handhaaf met produkte wat anders is, gaan ons altyd terug na my ma se resep: Wat kan ek aanbied wat outentiek is?”

By vendusies loop hulle dikwels uitsonderlike items raak en Charla “kyk na padstalle van hier tot doer in die Vrystaat”. Sy straal oor die volledige versameling eerste uitgawes van Lawrence G. Green-boeke wat sy onlangs op ’n veiling raakgeloop het … To the River’s End, The Coast of Treasure Harbours of Memory.

Die fotograaf staan nader en ek dool vir oulaas deur “het volmaakte winkeltje van sinkeltje. De wijkwinkel met een wirwar van rekken en schappen waar allerlei spullen op elkaar getast liggen. Etens­waren, souvenirs, kruiden, snuisterijen, gadgets, snoepgoed”.** 

Adele Bredenkamp, bestuurder, wys my ’n juweeltjie, weggesteek agter flesse boeremeisies (appelkose in witblits). Dit heet The Secret of Jellymaking. Verskyningsjaar: 1928. 

“Jy moet opkyk en agter in die rakke kyk; hier is soveel wat ’n mens sal misloop as jy verkeerd kyk. Dis ’n museumwinkel, ’n kuierwinkel – kyk byvoorbeeld die ou melkkanne dáár agter – jy moet vertoef in ’n vertrek.”

Sy maak die yskas oop en met trots wys sy Annatjie se skaapkoppe; reeds gaar (met aanwysings: Jy sit hom net in die oond en maak hom warm). Daar is ook afval met of sonder harsings, en wilds­pastei berei van springbokvleis. 

By Oom Samie word eg Suid-Afrikaanse produkte van die hand gesit, soos hierdie bokkoms van die Weskus.

“Die vertrekke is min of meer tematies ingerig,” verduidelik Adele. “Daar is ’n jam-kamer, enemmel-kamer, boekekamer, wyn­kamer, speelgoedkamer en hoedekamer met vellies en hoede.” (Jy verneem die Japannese kunstenaar Tetsuro Aso koop sy velskoene hier.)

Jou snuffelgang voer jou verby ou langspeelplate van Virginia Lee en Groep Twee met heel onder ou breipatrone en toeka se Huis­genote. Daar is ’n rak vol proteasaad en daaragter – ou silwer en kristal. Hier word kerse gebrand vir Afrika, rooibostee prut op die primus en jy hoor iemand giggel oor een van die vele geraamde gesegdes: “Dubbel brandewyn met Coke Zero asseblief.”   

“Die snuffelaars kom in die stil tye, maar dan is daar weer dae wanneer jy nie in die winkel kan loop nie. Dan is dit die lekkerste,” vertel die verkoopsassistent Una Vermeulen. Jy maak kennis met Gretha Melck, Tracy van Jaarsveld, Michelle Jaftas, Ingrid Vis (wat al 20 jaar in die winkel werk) en Ernest Kwachu, in sy 70’s maar nog fluks op sy pos. “Die mense geniet vir hulleself hier,” sê Tracy.

In die wynkamer loer ’n takboktrofee, uit Wilbur Smith se versameling gekoop, na besoekers wat mymer voor die KWV se droë sjerrie. “Onlangs het ’n groep Chinese toeriste sommer R20 000 se wyn kom koop. Op een dag!” sê Una.

By die versameling Matie-studentebaadjies hoor jy perdalks die jong stemme wat eens langs die Eersterivier se leivore gelag het. En in jou word die klippe ronder omgerol.***

Uit een van die vele houers skep ek ’n hand vol lekkers uit. Dis ’n taai keuse tussen die onthou van drop se sout en appelkooskrakers, maar ek besluit op suiglekkers met boodskappe soos “I like you”, “Chill out” en “Hot stuff”. Op die stoep groet ek die strooiman wat lyk soos ’n karakter uit Oz; ’n oom Samie of sorts.

Later haal ek een van die lekkers uit die bruin papiersakkie. Dis ligpienk en kleiner van vorm as dié waarmee ons grootgeword het. Die woorde daarop lees: “Be happy”.

* “Grondstowwe by die siklus van seisoene”, D.J. Opperman, geskryf vir die Fynproewersgilde, maar, het Opperman bygevoeg: “eintlik vir Annatjie
Melck” 

** “Vonkelwijn van Eikestad”, Benno Wouters, De Standaard – Weekend, 11 Junie 2000

*** Komas uit ’n Bamboesstok, D.J. Opperman, Human & Rousseau, 1979