Van boere en smouse gepraat

Prof. Mohammed Karaan, dekaan van die fakulteit vir agriwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, is vandag die land se voorste landbou-ekonoom. Sy manier van dink, sê hy, kom van sy oupa Abdul Adam, wat ’n smous op Stellenbosch was, skryf Kirby van der Merwe.

“Prof. Karaan het gou ’n paar balle gaan afslaan,” sê ’n kelner by die klubhuis van die De Zalze-gholflandgoed. Ek sien hom van die klubhuis se hoë stoep af daar onder op die setperk. Drieuur kom hy ingestap vir ons afspraak, ontspanne in gholfdrag. Hy lyk fiks en songebrand, pas
terug van ’n reis na Java, Indonesië, waar sy voorsate aan vaderskant vandaan kom.

Sy pa se familie is van die Strand. Vissersmense, messelaars, ambags­manne. Oupa Moosa Karaan het sy geboortedorpie – wat ook Karaan heet, geleë in Sentraal-Java naby Semarang – verlaat weens sy verset teen die Hollandse oorheersers en in 1879 in Suid-Afrika geëindig.

Sy oupagrootjie aan moederskant was ’n boer van Indië wat per toeval in Natal aangekom en gedoen het wat hy geken het: Hy het begin boer.

Sy seun, prof. Karaan se oupa, Abdul Adam, het op die oewer van die Umzimkulurivier in die ou Transkei tussen die Xhosas, bruinmense en Duitsers met tabak geboer en ’n melkery bedryf. Tot 1952, toe die Nasio­naleparty-regering hul groepsgebiedewet en tuislandbeleid deurgevoer het en Indiërs en bruinmense gedwing is om die gebied te verlaat.

Teen die muur van prof. Karaan se kantoor by die fakulteit hang ’n foto van sy oupa saam met ’n groep swart en wit boere, die destydse boere­vereniging van Griekwaland-Oos.

In 1952 verhuis die Adam-familie na Stellenbosch nadat die Umzimkulu afgekom en die plase aan die oewer verwoes het. Sonder hulp van die destydse regering was die Indiër-, swart en bruin boere gedoem. Die bruinmense is na woonbuurte naby Kaapstad verskuif.

Sy oupa begin toe ’n kafee by Du Toitstasie aan die noordekant van Stellenbosch, maar hulle smous ook groente, vrugte en koeldrank in die omgewing.

Sondae, onthou hy, Sondae het van dié bruin omies vir sy oupa by die winkel kom kuier. Dan het hulle in Xhosa met mekaar gepraat oor Pondoland waar hulle almal vandaan kom.

Dink soos ’n smous

“Kyk,” sê Karaan met ’n vonkel in die oog, “as jy as ’n smous grootgeword het, kyk jy anders na die wêreld en verstaan die besigheidswêreld anders. Jy soek na geleenthede, jy dink kreatief om wins te maak. Jy val nie vas in armoede en klaagliedere nie. Jy maak iets van min.”

Sy oupa Abdul het dit by hom vasgelê. ’n Mens gaan lê nie. Jy is oop vir geleenthede én jy bemagtig jou deur studie en kennis.

Hy het van kleins af in boerdery belanggestel. Hy onthou hoe sy oupa altyd, as hulle met die lorrie in Merrimanlaan afry om koeldrank te gaan smous, na die gebou van die Universiteit Stellenbosch gewys en vir hom gesê het: “Dít is waar die slim mense studeer. As jy oor landbou wil weet, moet jy by hulle gaan leer.”

Dis presies wat Mohammed Karaan gedoen het. Hy het eers sy B.Sc. en M-graad in landbou op Stellenbosch voltooi en toe by die Ontwikkelings­bank in Johannesburg gaan werk. Daarna kom doen hy plaaswerker-ontwikke­ling vir die Landelike Stigting op Stellenbosch. Vier jaar later, in 1996, begin hy met sy Ph.D. en word junior lektor in landbou-ekonomie by die destydse fakulteit landbou. Twaalf jaar later word hy dekaan.

Hy sê sy agtergrond het hom as dosent die geleentheid gegee om sy studente soos ’n smous te laat dink: “Om hulle lateraal oor goed te laat dink. Nie van die probleemkant af nie, van die geleentheidkant af.

“Suid-Afrika is ’n land van uiterstes tussen ryk en arm, maar dis ’n land van geleenthede. Behalwe dalk vir Amerika, is Suid-Afrika een van die min lande waar jy binne jou eie leeftyd van armoede tot ’n hoë inkomstevlak kan groei. Dit is nog altyd die land van geleenthede.”

Nuwe wyn in nuwe sakke

Ons sit in die klubhuis se sitkamer met ’n poskaart-uitsig oor dié deel van Stellenbosch. Dit is Ramadaan, ’n maand lange vastyd vir Moslems. Karaan is ’n Moslem en die kelners weet om nie ’n bestelling te kom neem nie.

Stellenbosch is waar hy grootgeword het en waar hy en sy gesin steeds bly. Sy vrou, Basheerah, is ’n tuisteskepper en die egpaar het vyf kinders: Zayne, ’n student, Kamillah, wat besig is met haar A-levels, Tauriq in gr. 9, Burhaan in gr. 7, and die laatlammetjie Adam, wat vyf is.

Ons gesels oor die wit geboue van Technopark daar op die oorkantste heuwel. Stellenbosch word voorgehou as teelaarde vir innovasie en entrepreneurskap in Suid-Afrika, sê ek met ’n kopknik soontoe. Geld dit ook vir landbou op Stellenbosch en die fakulteit vir agriwetenskappe?

“Die ooglopende ekonomiese aandrywer op Stellenbosch is steeds die wynbedryf,” sê hy gemoedelik. “Die groot vraag vir die wynbedryf is dus hoe dit deur innovasie internasionaal meer mededingend kan word. Want dit ís nie.”

Johann Rupert, sê hy, het onlangs ’n R20 miljoen-skenking aan die Universiteit Stellenbosch gedoen vir innovasie in die wynbedryf, juis om ons mededingend te maak met die wêreld se voorste wynprodusente in Australië, Frankryk, Italië, Portugal en Kalifornië.

“Kyk, die groot skuif is na volhoubare landboupraktyke,” sê
Karaan. “Ons is in ’n tydvak waar jy genoodsaak is om volhoubaar te boer en ek praat nie van organiese landbou nie.”

Landbou is, eenvoudig gestel, ál minder winsgewend, selfs al word dit ál groter. Dié verlies aan winsgewendheid gaan gepaard met ’n produk van ál swakker gehalte, sê hy. “Om mededingend te wees, moet die wynbedryf, tafel­druiwe uitgesluit, kleiner wees en ’n hoëgehalte­­-
produk lewer. Dis een van daai shrink yourself to greatness-bedrywe.

“Maar,” voeg hy met ’n glimlag by, “soms, as jy oplossings wil hê vir die goed wat jy kan sien, moet jy gaan kyk na die goed wat jy nie kan sien nie. En die landbou is een daarvan.”

Voed die grond eerder as die plant

Volhoubaar beteken dat jy meer terugsit in die aarde as wat jy uithaal, sê Karaan. “Dit beteken eenvoudig: Voed die grond eerder as die plant sodat die grond die plant kan voed.” Dis waar nuwe tegnologie nodig is om ’n ryker, natuurlike biodiversiteit bo én onder die grond te vestig, sê hy. “Ek dink daardie manier van boer is eintlik die groot revolusie in die landbou.”

Om terug te keer na sy stelling dat jy oplossings vind as jy kyk na die dinge wat jy nie kan sien nie – hoe beskou hy landbou se rol in die ekonomie, as deel van die regering se Nasionale Ontwikkelingsprogram?

“Kortliks beteken dit landbou moet ’n miljoen werkgeleenthede kan skep. Ek het gaan vasstel wat die potensiaal is om dit te skep en hoe dit geskep moet word.”

Landbou, sê hy, het in die 1970’s twee miljoen mense in diens gehad. Vandag is daar 650 000 mense in diens, ’n derde van wat dit was. Hy noem van die redes: meganisasie, arbeidswetgewing, tegnologie.

“Ek het gaan kyk hoe ons die tendens kan omswaai. Landbou moet werk skep, dit moet kan groei, dit moet meer op uitvoer gerig wees en soos voorheen ’n sterker bydrae lewer tot die ekonomie, en arbeid absorbeer. Ons het daardie plan in die nasionale plan ingeskryf.”

’n Terugkeer na handearbeid?

“Nee,” sê hy ernstig. “Hulle sê as jy te veel mense het, moet hulle iets doen. Wat maak jy met ongeskoolde mense? Jy kan vir hulle pen­sioene en staatstoelae gee óf jy kan vir hulle werk gee. En die landbou- en die mynboubedrywe is die twee sektore wat steeds die meeste ongeskoolde arbeid absorbeer.

“Natuurlik wil ’n mens nie mense daar laat vasval nie. Dit kan ’n armoedestrik word. Ons probleem is nie ’n tekort aan werkgeleenthede nie, eerder ’n tekort aan vaardighede om bestaande werk te doen.”

Die beoefening van landbouwetenskap draai vir hom ook nie net om kommersiële landbou nie.

“Daar is baie mense, familieboerderye, wat op ’n kleiner volhoubare skaal boer wat ook ondersteuning moet kry. Dit is die antwoord vir die toekoms. Met ander woorde, jy gaan nie net groot fabriekplase kry nie.” V

’n Visie vir landbou

Prof. Mohammed Karaan is, benewens sy werk as dekaan van die fakulteit vir agriwetenskappe, ook kommissaris van die regering se Nasionale Beplanningskomitee. Hy is betrokke by die strategiese bestuur van landboubesigheid, direkteur van ’n aantal landbou-ondernemings en kenner van voedselbemarking, voorsieningskettingbestuur, ontluikende en informele markte en landelike ontwikkeling.

Sy grootste werk die laaste vyf jaar, sê hy, het gegaan in die skryf van die nasionale plan vir landbou-ontwikkeling as deel van die regering se Nasionale Ontwikkelingsplan. Sy rol as kommissaris van die Nasionale Beplanningskomitee het juis gegaan oor die vestiging van ’n visie vir landbou, onder meer om dit internasionaal mededingend te maak in ’n tyd dat die voedselkettingbestuur ál belangriker en ál meer gesofistikeerd word, maar om ook die landelike gebiede in gedagte te hou waar werkskepping die groot uitdaging is.

Werd om te weet: In die pas afgelope QS World University Rankings is dié fakulteit onder die top-100 instellings op die gebied van landbou en bosbou in die wêreld geplaas.