Applous vir ‘n prima donna

Nellie Du Toit, legendariese sopraan en mentor vir talle sangers wat wêreldwyd in van die grootste en belangrikste operas gesing het, is Sondag 29 Julie op die ouderdom van 88 oorlede. Sy word oorleef deur vier dogters en sewe kleinkinders.

WAYNE MULLER het in ons 2016 herfs-uitgawe gaan kuier by Nellie. Ons kyk terug na sy gesprek met hierdie geliefde grande dame van Suid Afrikaanse opera.

 

Sy het destyds byna al die groot sopraanrolle haar eie gemaak en toe sy aan die verhoog vaarwel sê, het haar studente by haar oorgeneem. Wayne Muller het gaan inloer by die grande dame van Suid-Afrikaanse opera, NELLIE DU TOIT.

 

DIT WAS ’n beeldskone herfsoggend in 2008. Die tuintjies langs Stellenoord se kronkel- plaveiselpad was besaai met goue blare; die son het geskitter. En daar het sy my ingewag: die eertydse doyenne van Suid-Afrikaanse opera – 78 jaar oud, hare grys, oë helder en lyf gemaklik in haar plat skoene. Nellie du Toit.

’n Dag of twee tevore het sy oor die telefoon gespot dat sy nie lekker weet hoekom ek nou juis met háár ’n onderhoud wou doen nie. Maar sy hét geweet. Die Klein-Karoo nasionale Kunstefees het haar daardie jaar pas met ’n spesiale Kanna-toekenning vereer vir haar lewens- bydrae tot klassieke musiek – die soveelste prys wat sy deur die dekades ingeoes het. Sy’t haar tuisgemaak op ’n stoel reg langs die vleuelklavier van haar blyplek in die aftreeoord – papiere in die hand, want sy het deeglik vir die onderhoud voorberei. “Die geheue is nie meer so goed nie,” het sy gespot.

Ons het oor álles gesels: hoe sy al op agt in kunswedstryde begin sing het, die groot rolle op die operaverhoog, haar geliefde sanglesse sedert sy aan die verhoog vaarwel gesê het …

Nou is dit agt jaar later, dis weer herfs en weer skud Stellenbosch se eikebome hul roesbruin blare af.

By Paradyskloof Villas, die aftreeoord waar Nellie nou woon, lê die blare gestrooi langs die plaveiselpaadjies wat van die hek na die sorgeenheid vir verswaktes lei. Haar dogter, die operaregisseur Christine Crouse, is by om die gesprek te help vlot.

 

Bradley Harris saam met Nellie, wat die rol van Meranka in Die Verkoopte Bruid van Smetana vertolk het.

“Ek het gedink ek sal vandag mooi aantrek,” sê die 86-jarige Nellie en beduie na haar grys-rooi-wit bloes. Skouerlengte grys hare omraam die gesig, die lippe is rooi en die oë verklap hoeveel energie nog in haar woed. Want sy ís nog sterk.

Petronella du Toit is op die destydse Pietersburg (nou Polokwane) gebore en haar ma kon sing en haar pa kon die viool speel. Op skool het sy musiek as vak geneem en so in kunswedstryde begin sing. Daarna is sy universiteit van Kaapstad toe, waar sy in 1952 die eerste student geword het wat ’n operadiploma onder Gregorio Fiasconaro en Adelheid Armhold verwerf het. Sy het in Londen verder gaan studeer en daar as lid van ’n opera-toergeselskap gesing voor sy in 1954 terug Suid-Afrika toe gekeer het.

“Nee, hulle het niks daarvan gehou nie,” onthou sy haar ouers se teenkanting teen haar musiekstudie en verhoogplanne. Hoe sy hulle oortuig en uiteindelik by Ikeys beland het, kan sy nie meer onthou nie. Maar dit sou die begin wees van ’n bedrywige en suksesvolle operaloopbaan wat haar een van Suid-Afrika se sanglegendes sou maak.

Ons gesels oor die twee operarolle waarvoor sy die bekendste is: Madama Butterfly (Puccini) en Lucia di Lammermoor (Donizetti). “Butterfly het ek stukkend gesing. Ek het dit oor en oor gesing. ’n Mens word moeg van ’n rol,” bely sy.

Dit was egter ’n rol wat haar tot in Japan gevoer het, waar sy in 1970 ’n finalis in die internasionale Madama Butterfly-kompetisie was. Twee jaar later sou haar vertolking van Butterfly, die gedoemde Japannese tienermeisie Cio-Cio-San wat haar hart op ’n Amerikaanse soldaat verloor, aan haar ’n Nederburg-toekenning besorg. En nog twee jaar later wen Nellie dieselfde prys vir Lucia, die Skotse bruid wat haar bruidegom vermoor en een van opera se bekendste waansintonele sing.

“Lucia was in my stem; ek het dit maklik gesing. Elke rol is anders,” vertel Nellie, wat lank vir die destydse Transvaalse Raad vir die uitvoerende Kunste (Truk) gesing het toe die gesin – haar man, Philip Crouse (1927–1999), en die vier dogters, Christine, Florence, Nelmarie en Phyllis – in Pretoria gewoon het.

Dit was bedrywige jare, en soms het sy in die Aula in Pretoria gesing en dan kort daarna in Johannesburg se Stadskouburg – vir rus tussen rolle was daar min tyd. Lucia, eintlik ’n rol vir ’n koloratuur-sopraan, was nie regtig in haar Fach nie, maar soos sy sê: “Sing is sing. ’n Mens moes destyds alles sing om ’n loopbaan te kon maak. En ek het baie gesing.”

Inderdaad. Nellie het 25 operarolle gesing, waaronder Violetta in Verdi se La Traviata, Mimi in La Bohème van Puccini, die titel-karakter in Tosca (ook Puccini), en selfs die Koningin van die nag in Mozart se Die Towerfluit. En nie net opera of kunsliedere nie; sy het ook saam met die geliefde tenoor Gé Korsten gewilde musiek gesing en dit op langspeelplaat opgeneem. “Ag, dit was popliedjies, jy switch maar wanneer jy moet,” sê sy daaroor.

Vir Tosca het sy in 1975 ook ’n Nederburg-prys gekry, maar dis ’n rol wat sy spyt is sy kon net in agt opvoerings in Bloemfontein sing. “Hoe meer ’n mens ’n rol sing, hoe makliker kom dit, want jy leer die tricks ken,” het sy al vantevore gesê.

In 1976, met haar reeds suksesvolle operaloopbaan op die kruin, ontvang sy ’n medalje van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, en jare later, in 1998, ken die universiteit Stellenbosch aan haar ’n eredoktorsgraad in musiek toe.

Dit is juis aan dié universiteit dat haar loopbaan as sangpedagoog floreer het nadat sy in 1980 vir eers aan die operaverhoog vaarwel gesê het. “Ek het moeg geraak vir die politiekery agter die skerms. En ek gee eintlik al my lewe lank sangles,” het sy my in 2008 vertel.

In 1986 keer sy vir oulaas terug verhoog toe om die Marschallin in Der Rosenkavalier van Richard Strauss te sing. “Dit was ’n moeilike rol – moeilik om te leer én moeilik om te sing. Ek onthou ál die moeilike note in my loopbaan. Maar dié rol (Marschallin) was goed vir my,” sê sy, en onthou die ure wat sy moes insit om die uitdagende trio in die derde bedryf haar eie te maak.

Sy gee steeds sangles hier in Paradyskloof Villas, met een student wat een keer per week kom. “Daar is ’n klavier op die boonste vloer. Daar is mense wat nog daarop aandring om by my les te neem, en die student verstaan wat ek sê. Ek gee nog goed les en dis steeds lekker.”

As sangonderwyser het sy groot name opgelewer: Michelle Breedt, Virginia Davids, Sabina Mossolow, George Stevens, Andy Cloete, selfs Gé Korsten, asook wyle Deon van der Walt het vir ’n tyd onder haar hande deurgeloop.

Toe die US destyds in die 1980’s nie juis bruin of swart studente wou toelaat nie, het Nellie baklei dat Virginia Davids by haar kom studeer. Vandag is Virginia ’n medeprofessor in sang aan die Universiteit van Kaapstad.

“Nellie was nog altyd my mentor en die een wat in my geglo het toe niemand anders wou nie. As dit nie vir haar was nie, sou ek nooit by die US gewees het nie. Ek het baie wyshede by haar geleer wat ek ook aan my studente oordra – om realisties te bly, getrou aan jouself te wees, en nederig te bly.

“As ek na my eie studente op internasionale verhoë kyk, is ek bly om te sien hulle het hul waardes behou. Hulle kom steeds terug om saam met my te kom werk. Ek sou graag wou dink dat die werk wat ek en ander studente van Nellie doen, ’n verlenging is van haar bydrae in óns lewe,” sê Virginia.

Sabina Mossolow, wat haar meestersgraad oor Nellie se loopbaan gedoen het, vertel: “Nellie was saam met my op ’n kort vakansie in Mauritius; sy het op die nippertjie ingestem. Te midde van al die onderwater-wonders het ek die verskillende fasette van Nellie die kunstenaar leer ken – haar besonderse vokale en onderrigaanleg, haar integriteit, haar nederigheid … Dit alles was die anker van my eie sangloopbaan.

“Dis beslis ’n seën om saam met Nellie in dieselfde bootjie van die lewe te wees. Sy het my geleer om kop bo water te hou, al word ek aan die diep kant ingegooi.”

Nellie du Toit het ’n lang loopbaan gehad en die sangkuns en musiek sal altyd in haar bloed wees. nou, in die herfs van haar lewe, is daar veel om op terug te kyk – gunstelingrolle, beroemde kollegas, talentvolle studente – al is die geheue nie altyd gewillig nie.

Maar dít sal sy nie vergeet nie: “Al die musiek wat ek gemaak het, het ek geniet. Dit was harde werk en ’n mens is nie altyd tevrede met wat jy gedoen het nie. Maar jy kom deur die lewe se stampe en stote.” V