Waar klippies diamante word

Die Pebbles-projek het die afgelope 12 jaar ongelooflik baie vermag met die opleiding van sowel plaaskinders as hul ouers, skryf ANASTASIA DE VRIES – en kyk net waar is party van dié kinders vandag!

 

 

SYFERS, SOOS FOTO’S, sê soms baie meer as duisend woorde. En die Pebbles-projek wat van 2005 af met opvoedkundige programme in gemeenskappe in veral die Kaapse wynlande gemoeid is, laat die syfers vir die boekjaar 2016-’17 behoorlik praat:

  • 47 opvoedkundige sentrums op verskillende plase in die Boland en omgewing;
  • Byna 1 500 kinders in voor- en naskoolse programme in dié sentrums;
  • Meer as 110 uur opleiding van plaaswerkers as fasiliteerders in die sentrums;
  • Opleiding van sowat 114 van dié personeellede;
  • Altesaam 95 tieners in die skoolverlatersprogram;
  • ’n Gemiddeld van 78 persent vir wiskunde in die grondslagfase (leerders in gr. 1 tot gr. 3) vergeleke met 42 persent die vorige
    jaar; en, en …

Sy het nooit kon droom dat die projek só groot sou word of dat dit haar en haar lewe só sou verander nie, vertel Sophia Warner, wat in 2004 die Pebbles-projek begin het met die oog op onderwyssteun aan die kinders van plaaswerkers.

Net die vorige jaar het sy uit haar geboorteland, Engeland, in die wynlande van Suid-Afrika aangekom. En soos hulle altyd in die beste stories sê: Sy het gekom, gesien en gebly.

Met 13 jaar ondervinding in die onderrig van kinders met spesiale behoeftes agter die rug het sy in haar eerste jaar hier van plaas tot plaas getrek en altesaam sowat 350 landgoedere besoek. Sy wou vasstel of daar opvoedkundige behoeftes was, wat die aard en omvang daarvan was, bestek neem van geriewe vir die onderwys en ontwikkeling van veral die kinders, en die kwessies peil waarmee gemeenskappe op plase daagliks te doen kry.

 

 

“Uiteindelik het ons die terrein tot vyf plase afgebaken. Sommiges het al ’n kleuterskool gehad, maar dit was eintlik net ’n plek waar die kinders opgepas is; daar was niks opvoedkundigs nie. Ook vir die ouer kinders was daar ná skool niks stimulerends nie. Die gemeenskappe was versplinter, selfs gebroke. Van gemeenskapsgees was daar weinig sprake,” vertel Sophia.

“Toe, in 2005, nader ons die eerste vyf plase met die versoek om ’n onderwysprogram daar te begin. En nou, 12 jaar later, het ons 47 onderwyssentrums met voorskoolse sowel as naskoolse programme in onder meer die Stellenbosch-omgewing, op Wellington en Citrusdal, en op Hermanus. Elke program het gegroei uit probleme wat die gemeenskap self geïdentifiseer het, soos die hoë uitvalsyfer onder leerders. Dit het tot ons skoolverlatersprogram gelei, wat ontwerp is om hulle te help om ingeligte, meer bewuste vak- en loopbaankeuses te maak.”

Om die gemeenskappe te versterk, is vier ander pilare behalwe onderwys en opvoeding opgerig: gesondheids-, voedings-, beskermings- en gemeenskapsbouprogramme.

“Ons voedingsprogram is nie ’n voedselskema nie, maar is gerig op die kweek van gesonde, voedsame eetgewoontes wat saam met ander lewensvaardighede ’n gesonde leefwyse kan vaslê,” sê Sophia.

“Vier jaar gelede het die eienaar van die Villiera-wynlandgoed, een van die eerste plase waar ons ’n onderwyssentrum gevestig het, vir ons geboue en geriewe gegee sodat ons ’n kliniek daar kon begin. Plaasgemeenskappe is baie afgesonder en het dikwels nie toegang tot gesondheidsdienste nie weens onder meer ’n gebrek aan vervoergeleenthede. Met dié skenking, wat in samewerking met die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement gedoen is, het die plaaswerkers in die omgewing nou toegang tot ’n hele reeks gesondheidsdienste.”

’n Paar jaar gelede nader Sophia die stigting For Africa’s Children Every Time (Facet) vir ’n borgskap van 40 T-hemde vir Pebbles se naskoolse klubs. Facet is gestig deur Graff Diamonds, waarvan Laurence Graff, eienaar van die wynplaas Delaire Graff, die voorsitter is.

 

 

“Wat begin het by ’n versoek vir T-hemde het ná drie jaar se deurtastende samesprekings gegroei tot ’n sterk vennootskap tussen Pebbles en Facet, en vandag is hulle ons hoofborg. Ons het nou vyf Facet-bussies wat toegerus is as mobiele leersentrums, waarvan twee onderskeidelik as ’n biblioteek- en rekenaarbus ingerig is. Ons kan nie al ons kinders op een sentrale plek byeenbring nie, maar danksy Facet en Delaire Graff kan ons onderwys en opleiding na die kinders toe neem.

“Veral die kinders in ons naskoolse klubs word so gehelp om hul funksionele, syfer- en rekenaargeletterdheid te ontwikkel. En die kleintjies en hul ouers het toegang tot opvoedkundige speelgoed, DVD’s en boeke. So kry ons ook die grootmense betrokke en is ons onder meer besig om ook ’n groep volwasse lesers te kweek.”

Wanneer hulle in hul Facet-bussies opdaag, sien jy net laggende kinders met blink oë, sê Christeline Mushwana, die Facet-programbestuurder en ’n voormalige onderwyser by ’n skool vir leerders met spesiale leerbehoeftes.

Dit is die meestal onvertelde storie van plaaseienaars wat in ’n beter toekoms vir veral hul werkers se kinders belê, sê Christeline. Ook van ’n koersverandering vir dié kinders wat van ’n loopbaan durf droom, wat nie die lot van plaaswerker wees hoef te aanvaar nie, voeg Sophia by.

Hulle sien die verandering. Een van “hul” kinders studeer nou aan die Universiteit Stellenbosch; ses ander het kwalifikasies in onder meer die gasvryheidsbedryf, toerisme en vroeë kinderontwikkeling aan die Boland-kollege behaal. Nog een is ’n bekroonde brandweerman in die Stellenbosse brandweerdiens.

Danksy die Facet-program word ál meer volwasse plaaswerkers as fasiliteerders en tutors in die opvoedkundige sentrums opgelei.

Die gevolg is dat baie meer plaaseienaars in vennootskap met Pebbles ’n opvoedkundige sentrum op hul grond begin omdat hulle nou fasiliteerders uit hul eie werkersgemeenskap kan inspan.

“Die werkers het geen formele onderwysopleiding nie, maar ons bied maandeliks werksessies aan oor onder meer klaskamerdissi­pline, strategieë om met kinders te werk, die gebruik van leer­materiaal vir kinders met verskillende leerbehoeftes, en oor hoe om kinders met allerlei vaardighede toe te rus,” sê Christeline.

“Só bemagtig hulle hulself en leer hulle terselfdertyd hoe om ander, veral hul kinders, te bemagtig. Sonder hulle kan Pebbles werklik nie sy opvoedkundige programme volhou of die verskillende sentrums bedryf nie.”

Bemagtig ’n kind en jy verryk ’n gemeenskap, lui ’n Pebbles-leuse. Ja, gemeenskapsbou is ook hul erns, sê Sophia. Maar hulle tree nie op soos wafferse sendelinge wat die plaasgemeenskappe invaar en regmaak wat hulle meen verkeerd is nie.

“Dis nie ons taak nie. Vir ons gaan dit oor gemeenskappe wat in staat gestel word om self hul probleme te identifiseer en strategieë te bedink om dit op te los. Daarom is daar aksiekomitees wat saamgestel is uit leiers op die plase waar hulle werk en wat deur Pebbles toegerus word om saam met hul gemeenskap te werk.

“Die opbou van hul gemeenskap is die gemeenskappe se verantwoordelikheid. En dit begin by onderwys, by opleiding, by die opvoeding van kinders – én van volwassenes. As kinders sien hoe groot­mense self vir hul gemeenskap opstaan, self iets doen om hul gemeenskap te verbeter en sterker te maak, volg hulle dié voorbeeld.”

“Pebbles . . .” onderbreek sy haarself. “Dis so ’n neutrale naam. Dit beteken niks, verwys na niks. Maar dink net hoe klippe teen mekaar skuur, mekaar maal, vorm, blink maak.”

En in jou kop draai ’n ou, ou liedjie: “Picking up pebbles and throwing them into the sea …” Jy hóór die plonsgeluid, sien ’n rimpel op die water, sien hoe dit uitkring en uitkring en uitkring …   V