Verlange na Afrika

’n Opwindende wêreldmusiekproduksie by vanjaar se US Woordfees op Stellenbosch ontgin met Afrika-gedigte en musiek die temas van verplasing en verlange oor taalgrense heen. ERNS GRUNDLING het met Laurinda Hofmeyr en David Kramer gesels.

 

 

DIE US WOORDFEES (2-11 Maart) se program bars uit sy nate. Net die feesgids is meer as 260 bladsye dik, met onder meer ’n groot verskeidenheid musiekproduksies om uit te kies.

Kontemporêre musiek is vir kenners en kritici dikwels ’n feestameletjie, veral in gevalle waar dieselfde kunstenaars jaar ná jaar landwyd by feeste optree sonder dat werklike vernuwing plaasvind.

Afrika my verlange / Afrique mon désir, ’n multimedia-wêreld­musiekproduksie met Laurinda Hofmeyr, Schalk Joubert en ’n ensemble puik agtergrondsangers en musikante, beloof egter om allesbehalwe voorspelbaar te wees – veral met David Kramer as regisseur en briljante animasiewerk deur Diek Grobler as deel van die aanbod.

Die produksie is moontlik gemaak deur die Cape Town Music Academy (CTMA), ’n organisasie sonder winsbejag wat geleenthede wil skep vir sowel opkomende as gevestigde kontemporêre musikante in die Wes-Kaap.

“Klassieke musiek kry meer gereeld ondersteuning. Kontemporêre musiek val soms tussen twee stoele deur,” sê Vicky Davis, die CTMA se programbestuurder.

“Ons wil graag met ’n projek soos Afrique mon désir vir professionele musikante die geleentheid gee om hul werk op te neem en gereeld op te tree. Die CTMA hou ook gereeld werksessies en is
betrokke by die opleiding van jong talent.”

Met hierdie projek het Vicky van ’n sterk Franse musiekteenwoordigheid in Kaapstad bewus geword. “Hier woon musikante van wêreldgehalte van wie ons nie eens weet nie – ’n hele ander gemeenskap wat deel is van ’n mens se eie ruimte.”

Laurinda en die span het verlede jaar ’n Afrique mon désir-album opgeneem met 13 toonsettings van Afrika-gedigte uit Franssprekende lande soos Madagaskar, Mauritanië en Tsjad.

Plaaslike digters wie se poësie deel van die projek is, sluit in Antjie Krog, Breyten Breytenbach en Eugène Marais.

Die album sal ook op die Woordfees bekendgestel word.

Behalwe vir verdere optredes by die KKNK beplan die span om in Junie vanjaar met die produksie deur Frankryk, Nederland en België te toer.

“Dit is inspirerend om vir Laurinda en Schalk saam met so ’n groot groep sangers en musikante te sien optree,” sê Vicky. “Dis werklik ’n wêreldgehalte-produk. Dit gaan oor die emosie en die gevoel van verplasing en verlange. Hierdie produksie boor ’n senuwee raak waarmee ons ons almal kan vereenselwig.”

 

 

‘Frans is ook ’n Afrikataal’

– Laurinda Hofmeyr

Die sangeres Laurinda Hofmeyr het Frans as vak op skool en universiteit geneem. Sy het tot onlangs meestal op toonsettings van Afrikaanse gedigte gefokus.

“Ek het die afgelope twee jaar ’n paar keer by die Alliance Fran­çaise opgetree, dikwels voor ’n meertalige gehoor,” vertel sy. “Ek het daar weer so ’n bietjie Frans begin praat.”

Die sakeman Nico McLachlan, wat ook voorsitter van die CTMA is, het haar daar sien optree en begin aanmoedig om ook Franse gedigte te toonset.

“Nico voel ’n buitengewone verbondenheid aan Afrika en sy mense – veral hier in die Kaap waar daar soveel Afrikane in exile woon,” sê Laurinda.

 

Catherine du Toit van die Universiteit Stellenbosch se departement moderne vreemde tale het gedigte bymekaargemaak van digters soos Jean-Joseph Rabearivelo (Madagaskar), Patrice Nganang (Kameroen) en Véronique Tadjo (Ivoorkus).

“Om in Frans te werk, het nog elke keer deure in my psige oop­gemaak,” sê Laurinda oor die toonsettings. “Frans is eintlik ook ’n Afrikataal en dit gee ’n ander perspektief op die Afrikaans wat ek sing.”

Haar ensemble bestaan uit die agtergrondsangers Malako Wekuna Soba, Yamamoto Bonkuta Loyeke en Dea Kinzunga-Walo, wat saam met die kitaarspeler Kayembe Ilunga almal van die Demokratiese Republiek van die Kongo af kom. Die musiekvervaardiger Schalk Joubert is op baskitaar, Kevin Gibson op tromme en Dylan Roman op akkordeon.

Behalwe vir drie Afrikaanse gedigte is al die liedjies in Frans opgeneem. Laurinda is opgewonde oor veral die agtergrondsangers, wat met hul sang sorg vir tussenwerpsels en “kommentaar” in ander Afrikatale soos Lingala, Swahili en Tshiluba.

“Die sangers gee hul eie interpretasie van die gedigte,” sê sy. “So gaan die skeppende proses voort.”

Régis Gizavo, ’n akkordeonspeler van Madagaskar en ’n ikoon in wêreldmusiekkringe, is op die CD te hoor. Hy is oorlede ’n paar weke nadat die CD opgeneem is.

“Dit was ’n groot voorreg om saam met hom te werk,” vertel Laurinda. “Hy het op die album ook vir die eerste keer in Frans gesing, spesifiek die versreël uit Breyten Breytenbach se gedig ‘26 November 1975’: ‘want die lewe is ’n asem lank en die sterre op die Anderplek donker.’ ”

Die projek se digters en musikante woon meestal nie in hul land van herkoms nie. “Dit is waar die idee van exile en die verlange inkom,” sê sy. “Dit is dalk nie ’n eksplisiete tema in al die gedigte nie, maar dit gaan oor Afrika.”

Hierdie produksie is vir haar ook iets nuuts. “Die betrokkenheid van David en Schalk sorg dat dit baie vermaaklik is en nie my gewone stil show nie. Die agtergrondsangers en kitaarspeler is deel daarvan, en hulle dans. Ek dink ook met die animasie is dit baie visueel.”

Sy hoop gehore geniet dit om te luister na hoe al die Afrikatale saam “praat” en musiek maak.

“Daar is nou hierdie momentum om my – ek was maar altyd op my eie. So iets gebeur een keer in ’n leeftyd.”

 

‘Dit bring mense en tale bymekaar uit’

– David Kramer

David Kramer meen Laurinda het uit haar gemaksone beweeg en met die toonsettings al iets wonderliks geskep.

“Die gedigte is sensitief en sal baie goed in ’n teater werk, veral saam met Diek se animasies,” sê hy. “Ek wil met my regie vir die vertoning ’n kontemporêre Afrika-gevoel gee. Vir die look kyk ek tans na jong ontwerpers se nuwe Afrika-modes.”

Waar Schalk en Laurinda aan die klank en musiekverwerkings gewerk het, wil David graag meer teaterelemente na die produksie bring en alles op die verhoog integreer.

“Die vertoning moet werk wat die klank en die visuele elemente betref. Die musikante staan nie net op die verhoog nie, daar is ook beweging. Dit is baie opwindend om te luister én na die musikante te kyk.”

David hoop feesgangers sal hierdie kreatiewe samekoms van
ver­skillende Afrika-kunstenaars geniet. “Toe ons die vertoning as ’n toetslopie op Prins Albert uitgevoer het, het die gehoor glad nie geweet wat om te verwag nie. Maar hulle het daar uitgestap met ’n glimlag en ’n dans in hul stappie,” sê hy. “Jy moet dit met ’n oop gemoed benader en jou hart oopmaak vir ’n nuwe skepping.”

Vir David is die tema van verplasing baie belangrik. “Mense verlang. Mense wil huis toe gaan, waar is die huis? Waar lê Afrika vir jou? Afrikaans is ’n Afrikataal, en met hierdie vertoning kom verskillende mense en tale bymekaar uit, selfs al is ons in exile.”

Met hierdie sensoriese, oudiovisuele ervaring en polsende ritmes gaan teatergangers deel in die verbintenis tussen Afrika en sy in­woners – en aan eie lyf ervaar hoe die grense tussen lande en mense danksy die universele taal van musiek verdwyn. V

 

  • Afrika my verlange / Afrique mon désir word Woensdag 7 Maart om 20:30 en Sondag 11 Maart om 16:00 in die stadsaal op Stellenbosch uitgevoer. Bespreek by Computicket.